Search This Blog

Tuesday 4 July 2017

Om te glo


Weet jy wat dit beteken om te glo,
om voet by stuk te hou dat dit is so,
as bewyse teenstrydig met jou staan,
maar jy dit op 'n ander manier verstaan?

Glo jy nog steeds in wonderwerke,
of kyk jy ook na al die kerke
en sien net tweespalt en onenigheid
waar gelowiges oor en weer verwyt?

Miskien vind jy hier jou Judaskans
en verstewig net jou bankbalans,
want die mense se skanse is reeds laag
en hul begrip van uitbuiting is bra traag.

Dalk moet jy jou fokus net verskuif,
so effens verder as jou eie lyf,
want as jy 'n ander Een leer vertrou,
sal jy nie langer aan jou graf wil grou.

Hoe lyk die gat wat jy vir jouself maak?
Bestaan dit uit 'n humanitêre saak,
of is dit uitgevoer met klatergoud,
of egosentrisme en selfbehoud?

Weet jy wat dit beteken om te glo?
Dit beteken jou hulp kom nou van bo,
nie langer uit die selfsugtige eie-ek,
maar uit genade wat verder as ek strek.

Dit beteken om jou saak by God te laat,
dit vergeld met goed die kwaad van mense-haat,
dit kruisig die belange van die eie-ek
en plaas 'n ander in die ere-plek.

Geloof is om jou nie blind te staar
teen wat die wetenskap alwys verklaar,
maar om jou ore aan die Skepper uit te leen,
wat brood kan maak uit ‘n klipharde steen.

Dis om te vra en uitkoms te verwag,
dis om in die gesig van vrees te lag,
dis om daagliks jou kruis op te tel
met geen vrees vir selfs die dood of hel.

Geloof is om jou oë na God te draai
en daagliks goeie saad in Sy lande te saai,
dis om nederig die knie en hoof te buig
en om slegs van Sy roem en eer te getuig.

Dan, wanneer jy op jou laagste is,
kan mense hulle dalk met jou misgis,
want hulle sien dalk net 'n swakkeling,
besef nie dis krag wat jou so laag dwing.

Jy sien, daar is 'n kontroversie hier,
want in die hemel word daar fees gevier
oor elkeen wat hom voor sy God verlaag,
want dis al hoe jy die geloofstoets slaag.

An original poem by Miekie (Marietjie Uys).

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment