Search This Blog

Monday 30 September 2019

Bybel Legkaart: Numeri Deel 6

Die Bybel Legkaart blog is begin met die gedagte om die samehang van die Bybel as geheel aan mense te openbaar. In die eerste twee aflewerings van hierdie blogs, is die totstandkoming en vertaling van die moderne Bybel nagevors. In die daaropvolgende blogs is die boeke van Genesis, Eksodus en Levitikus van naderby bekyk. In hierdie blog bekyk ons Numeri.
Die eerste blogs in die reeks kan d.m.v. hierdie skakels opgespoor word:

In hierdie blog bekyk ons Numeri as 'n geheel. Ons kyk na die ontstaan en outeur van die boek. Ons bekyk dit vanuit 'n teologiese en Bybelkundige perspektief, maar ook met die oog van iemand wat 'n verhouding met die God van Numeri het. Onderweg, stop ons by Sinaï, Kades en Moab, nes die Israeliete destyds gedoen het.

 
AFDELING B: DIE PENTATEUG

Deel 6

Numeri

    1. Agtergrond tot Numeri
    2. By Sinai
    3. Van Sinai tot Kades
    4. Van Kades tot Moab
    5. By Moab
    6. Toepassing
    7. Bibliografie

6.1 Agtergrond tot Numeri

Die woord Numeri verwys na nommers. Die boek is so genoem na aanleiding van die twee sensusopnames wat in die boek voorkom voor die volk van Israel Kanaän binnegaan. Die eerste poging om Kanaän in te val het misluk as gevolg van die volk se ongeloof en ongehoorsaamheid. As straf, het God hulle vir ongeveer 40 jaar deur die woestyn laat wandel, totdat daardie ongelowige generasie uitgesterf het. Gedurende hierdie 40 jaar bou God ‘n verhouding met die volk en leer hulle om op Hom te vertrou.

Die geskiedenis van Numeri is een van herhaalde opstand en rebellie. Telkens moet Moses vir die volk intersessie doen voor God, sodat God hulle nie in sy woede uitdelg nie. Telkens tree God ook op wonderbaarlike wyse vir die volk op tot redding, wanneer hulle voor verskeie krisisse te staan kom. Ten spyte van God se hantering van vorige rebellies, soos opgeteken in Eksodus, faal die volk steeds herhaaldelik daarin om God getrou te dien. Sommige mense voer selfs aan dat Numeri die Boek van Rebellie genoem kon gewees het. Die volk rebelleer teen die roete, die kos, die reuse, die leiers, Goddelike uitsprake en die woestyn.

Numeri se boodskap gaan egter oor veel meer as net opstand en ongeloof. Dit is ook by uitstek ‘n boek waarin ons God leer ken as ‘n God van orde. Die sensusopnames geskied volgens ‘n bepaalde orde, elke stam word ‘n bepaalde kamp-area toegewys, die volk trek volgens ‘n bepaalde orde, ens. ens.

Pearlman (1935, p.30) hou dat die boodskap van Numeri in vier woorde saamgevat kan word: diens, orde, mislukking en swerftog.

OUTEUR

Soos met die res van die Penatateug, word daar tradisioneel aanvaar dat Moses die outeur van die boek was. In alle waarskynlikheid het Moses die verhaal neergeskryf soos dit ontvou het terwyl die Israeliete deur die woestyn getrek het.

Eksterne getuienis ten gunste van Moses as outeur van Numeri sluit die volgende in:
  • Die Samaritane, die Jode en die vroeë kerk aanvaar die Mosaïse outoriteit van die boek;
  • Verskeie Nuwe Testamentiese gedeeltes ondersteun hierdie gedagte – Joh. 3:14; 1 Kor. 10:1-11 (let op die tipologie); Heb. 3 en 4; asook Jud. 11.
Interne getuienis ten gunste van Moses as outeur sluit die volgende in:
  • Daar is meer 80 aansprake in die boek dat God met Moses gepraat het;
  • Num. 33:2 verklaar dat Moses die gebeure opgeteken het tydens die woestynswerftog;
  • Dit was algemene gebruik in die destydse wereld dat ‘n outeur na homself sou verwys in die derde persoon in sy vertelling.
Soos reeds vroëer in die bespreking van die Pentateug gemeld, bestaan daar twyfel dat Moses die outeur van Numeri was. Die JEDP-teorie reken dat die grootste gedeelte van die boek aan die Priesterlike tradisie (P) toegedig kan word, wat die ontstaan van die boek tydens die ballingskapsjare plaas. Die verwysings na Moses in die derde persoons-verteltrant ondersteun die gedagte dat Moses nie die outeur kon gewees het nie.

DATERING

Volgens die JEDP-tradisie is die boek tydens die ballingskapsjare geskryf en voor 400 vC. gekanoniseer.

As egter aanvaar word dat Moses die outeur van die boek is, is die boek waarskynlik oor ‘n periode van ongeveer 40 jaar geskryf terwyl die Israeliete deur die woestyn geswerf het, vanaf ongeveer 1490 tot 1451 vC. (of moontlik 1444 tot 1405 vC.). Soos reeds gemeld in die bespreking van Levitikus, deel 5 van hierdie reeks, begin Numeri 1:1 by die tweede maand van die tweede jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het. Ongeveer 39 jaar later eindig die vertelling waar die Israeliete vir die tweede maal gereed staan om Kanaän binne te val.

AGTERGRONDGESKIEDENIS EN GEOGRAFIE

Dit is uit die aard van die saak noodsaaklik dat die leser van Numeri bekend sal wees met die Israeliete se geskiedenis soos verhaal in die drie voorafgaande boeke, Genesis, Eksodus en Levitikus. Soos reeds gemeld, hervat die boek van Numeri die verhaal op die presiese plek waar Levitikus eindig. Die Israeliete is steeds uitgekamp aan die voet van Sinai. Hulle het in die voorafgaande maand die wette van God ontvang, deur Moses wat as middelganger opgetree het. Kort voor dit, het hulle uit Egipte getrek, nadat hulle ooggetuies was van God se magsvertoon, soos geopenbaar in die die tien plae waarmee Hy Egipte getref het.

Hou dus in gedagte dat die Israeliete God maar slegs vir ‘n kort rukkie ken op hierdie stadium en steeds ‘n baie sterk afgodsinvloed en -agtergrond in hul ervaringsveld het.

Aangesien die boek afspeel teen die agtergrond van ‘n 39 jaar-lange swerftog, vind daar omvattende beweging plaas. Dit gebeur egter binne ‘n baie klein geografiese omgewing. Sien die meegaande kaart vir nadere inligting.
(Uit: Bybel in Praktyk, p. 193)

UITLEG

Die boek van Numeri kan in vier hoof fases verdeel word na gelang van waar die volk hulle geografies bevind het:
  • By Sinai – Hoofstukke 1-9
  • Vanaf Sinai tot by Kades – Hoofstukke 10-20
  • Vanaf Hor tot by Moab – Hoofstukke 21-25
  • By Moab – Hoofstukke 26-36

6.2 By Sinai

Die openingswoorde van Numeri vestig die outoriteit van die boek by Moses; hierdie is weereens God se openbaring aan Moses.

In hoofstuk 1 word Moses aangesê om al die weerbare mans onder die volk te tel. Hou in gedagte dat die volk slegs ‘n paar dagreise van Kanaan af weg was. Hulle het dus so te sê aan die vooraand van ‘n reeks veldslae gestaan. Hierdie sensusopname dien dus ‘n organisatoriese doel, in die sin dat die manlike lede onder die volk getel is en onder leiers ingedeel is, met die oog op oorlogvoering. Slegs mans van twintig jaar en ouer is by hierdie sensusopname ingesluit. Die Leviete is uitgesluit, aangesien hulle verantwoordelik was vir die versorging van die tabernakel en sy toebehore, asook die tabernakeldiens, en as sulks sou hulle nie aan oorlogvoering deelneem nie.

Voordat die sensusopname plaasvind word daar 12 leiers (een uit elke stam) aangewys om Moses en Aaron by te staan met die opname. Daar is nie ‘n leier uit Levi aangewys nie, aangesien hulle nie aan die oorloë sou deelneem nie. Aaron was bowendien reeds vooraf aangewys as die leier van die stam van Levi. Dit laat slegs 11 stamme oor, maar let op dat die stam van Josef as twee stamme getel word, nl. Efraim en Mannasse.

Die verdeling van die stam van Josef in twee stamme is ‘n belangrike saak om na op te let, aangesien dit baie verwarring vir die leser van die Ou Tetament sal uitskakel as dit deeglik verstaan word. Die leser sal onthou dat Jakob/Israel Josef se twee seuns aangeneem het as sy eie. Lees die gedeelte in Gen. 48, veral vers 7. Let ook op dat Efraim, die jonger broer, bo Manasse, die ouer broer, gestel word. Dit is om hierdie rede dat die name van Efraim en Manasse dan verder in die Bybel in ‘omgekeerde volgorde’ voorkom. Dit was destyds die gebruik gewees dat die oudste en/of belangrikste eerste genoem was. Die oudste was ook geregtig op ‘n dubbele erfdeel en die beste seën.

John Wenham (Handboek by die Bybel, p. 191-192) merk tereg op dat daar polemiek bestaan rondom die akkuraatheid van die syfers wat in die Bybel voorkom. In baie gevalle blyk die syfers ongeloofwaardig te wees. Aanvanklik is eenvoudig verklaar dat die Bybel histories onbetroubaar is. Verdere studies het reeds ver gekom om die probleme rondom die aardige getalle wat in die Bybel voorkom te verklaar, alhoewel die studies steeds onvolledig is. Hier volg enkele verklarings rakende die groot en/of weersprekende getalle wat in die Bybel voorkom:
  • Oorskryffoute, bv. die byvoeging van nulle. Vergelyk 2 Sam. 10:18 (700 man) met 1 Kron. 19:18 (7000 man).
  • Verwarring van woorde. Hierdie probleem het ingetree a.g.v. die feit dat die Hebreeuse teks vir lank sonder vokale geskryf is, bv. die Hebreeuse woorde eleph en alluph. Sondere vokale klink hierdie twee woorde dieselfde en kan dit as ‘n verskeidenheid woorde vertaal en verstaan word, bv. duisend, familie, leier, militere eenheid, beroepsoldaat, aanvoerders oor duisende of oor honderde, ens.
Met hierdie gegewens in gedagte is dit dan moontlik om te sien dat die getalle wat in die sensusopname van Numeri voorkom moontlik onakkuraat vertaal is. In hierdie geval het dit eerder met verwarring van woorde te doen as met oorskryffoute. Gebruik Simeon (hfst. 1) as voorbeeld.
Dit is geskryf as: 57 ‘Ip; 2 ‘Ip 3 “honderde”
In die vertaling is die getalle saamgevoeg tot 59 300.
‘n Meer akkurate vertaling sou veel eerder lees: 57 bewapende manne; 23 “honderde” (militere eenhede).

Die moderne leser het dikwels nie die vermoë om hierdie sake in die Bybel raak te lees of te verklaar nie. As gevolg van sy gebrek aan kennis rakende die oorspronklike tale is hy aangewese op taalkundige skoliere om akkurate vertalings te produseer. Hoe nou gemaak as die akkuraatheid van vertalings onder die soeklig gestel word en bevraagteken word? Dit is raadsaam vir die ernstige Bybelleser om ‘n verskeidenheid vertalings te bestudeer deur die verloop van sy lewe. Sodoende word wankonsepte vermy wat moontlik met vertalings kon inglip en die leser kry ‘n verskeidenheid ‘sleutels’ wat hom in staat stel om die Bybel deur verskillende ‘deure’ te betree.

In hoofstuk 2 gee God opdrag rakende die kamporde. Elke stam kry ‘n area waar hy moet kamp opslaan. Die onderstaande diagram verleen insig in die uitleg van die kamporde:
(Uit: Hayford’s Bible Handbook, placement of tribes in the Israelite encampment)

Daar word ook reels neergelê vir die verskuiwing van die kamp:
  • Die Oostelike stamme – Juda, Issaskar en Sebulon - moet altyd eerste versit. Juda word aangestel as die leier-stam tussen hierdie betrokke drie stamme. Dit beteken dat die stam van Juda eerste sal versit van hierdie drie stamme. Interessant om daarop te let dat Jesus se geslagsregister uit hierdie stam nagetrek word.
  • Die Suidelike stamme – Ruben, Simeon en Gad - moet tweede versit. Hierdie stamme staan onder leiding van die stam van Ruben (die oudste van die twaalf broers).
  • Die Levietiese stam trek daarna sodat hulle altyd in die middel van die volk bly.
  • Hierna moet die Westelike stamme – Efraim, Manasse en Benjamin - versit. Hulle staan onder die leiding van die stam Efraim. Weereens word die stam van Josef dus in twee geskei. Hierdie drie stamme is die nageslag van Ragel.
  • Die laaste groep om te versit is die stamme aan die Noordekant – Dan, Aser en Naftali. Hierdie drie stamme staan onder die leiding van die stam Dan.
Hoofstuk 3 handel oor ‘n sensusopname wat van die Leviete geneem is. Die motivering sentreer rondom die loskoop van die eersgeborenes. Omdat God die eersgeborenes van die Egiptenare laat sterf het om die Israeliete los te koop, behoort al die eersgeborenes onder die Israeliete nou aan God. Hy neem egter die Leviete aan as losprys vir die eersgeborenes onder die res van die stamme. Om te verseker dat alle eersgebore Israeliete deur ‘n Leviet verteenwoordig word is dit nodig dat ‘n sensus van die Leviete geneem word. Alle manlike Leviete van ‘n maand en ouer is by hierdie sensusopname ingereken. Na die opname is daar bevind dat daar ‘n oorskot van 273 Israeliete was. Hierdie mense is met silwer geldstukke losgekoop. Die geld is aan Aaron en sy seuns gegee.

Volgens hierdie opname, word die Leviete ook in groepe ingedeel. Die leser kan gerus terugverwys na die stamboom van die Leviete soos uiteengesit in die bespreking van Eksodus, deel 4 van hierdie reeks. Hierdie groepe moes volgens hulle familieverband op vasgestelde areas rondom die tabernakel kamp opslaan:
  • Die Gersongroep moes aan die westekant van die tabernakel kamp opslaan. Die taak van die Gersoniete was om al die gordyne en seile van die tabernakel te versorg.
  • Die Kehatgroep moes aan die suidekant van die tabernakel kamp opslaan. Hulle diens het die versorging van die meubels en toebehore van die tabernakel ingesluit. Die Aaronietiese priesters stam uit hierdie groep.
  • Die Merarigroep moes aan die noordekant van die tabernakel tent opslaan. Hulle taak was die versorging van die raamwerk van die tabernakel en sy gereedskap.
  • Moses, Aaron en Aaron se seuns het aan die oostekant van die tabernakel tent opgeslaan. Soos reeds in Levitikus gemeld, het hulle die priesterlike diens in die tabernakel verrig.
Die bespreking van Eksodus omskryf die take van die onderskeie Levietiese groepe in meer detail. Hier word o.a. die bykomende inligting bygevoeg dat ‘n Leviet tussen die ouderdomme van 30 en 50 moes wees om te kwalifiseer vir diens.

In die Ou Testamenmtiese tyd is die oostekant beskou as die voorkant. Die groepe wat aan die oostekant uitgekamp het, sou dan noodwendig altyd die leiding neem in die trek.

Op hierdie stadium is die Israeliete riglyne gegee oor hoe om ‘n heilige lewe voor God te leef. Hierdie riglyne was tot nou toe nog nie toegepas nie. Die bespreking van Levitikus lei die fase van toepassing binne. Moses word beveel om al die onrein mense uit die kamp te stuur (5:1-4). Hulle kon nie in dieselfde kamp bly as hulle heilige God solank as wat hulle nie rein was nie. Die gedeelte beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n sondelose lewe vir die wedergebore Christen. Wanneer die heilige God van die Israeliete van destyds Sy woning in jou maak, is dit nodig dat jy huis skoonmaak, sodat God sy nuwe woning heilig (afgesonder) en rein (skoon) kan kry.

5:5-8 beklemtoon dat ‘n sonde teen ‘n medemens dieselfde gewig dra as sonde teen God. Dit is nodig om jou medemens wat deur jou tenagekom is te vergoed vir die skade wat hy gely het. Vergoeding is vasgestel op die volle bedrag plus ‘n vyfde, dus 120%.

Verse 9-10 vestig die leser se aandag daarop dat die priester geregtig is op ‘n deel van die offergawe. Die wedergebore Christen kan hierin ‘n aanmatiging lees om die persone wat in permanente diens van die Here is (leraars, sendelinge, administratiewe personeel, ens.) finansieël te ondersteun, sodat dit vir hulle moontlik sal wees om die werk waarvoor hulle geroep is voort te sit. Hierdie is een van die beginsels wat reeds vroeg in die Ou Testament neergelê word en dwarsdeur die Bybel tot in die Nuwe Testament onveranderd bly. Sien gerus Luk. 10:7 en 1 Tim. 5:18.

Die res van die hoofstuk handel oor jaloesie in die huwelik. Getrouheid binne die huwelik is vir God van groot belang. Hierdie onderwerp word dan ook op talle plekke in die Bybel aangeroer. God weet ook dat jaloesie ‘n huwelik kan vernietig, daarom stel Hy hierdie vreemde ritueel in wat gevolg kan word wanneer ‘n man sy vrou van ontrouheid verdink. Jaloesie gaan dikwels hand-aan-hand met geweld in die huwelik. Hierdie regulasie dien dus ook om die vrou te beskerm, deurdat sy daardeur vrygespreek kan word.

Omdat poligamie beoefen was in die Hebreeuse kultuur, geld dieselfde reëls nie vir die man as vir die vrou nie. Dit was vir die man moontlik om ‘ontrou’ teenoor sy vrou te wees en steeds binne die wet te leef. Hy mag egter nie ontrou gehandel het met ‘n ander man se vrou nie. Die wet het ook van ‘n man verwag om ‘in die huwelik te tree’ met ‘n vrou waarmee hy hom seksueel verbind het. Let ook daarop dat daar verskeie ‘klasse van huwelikke’ was, bv. vroue, byvroue, slavinne, ens.

Op hierdie gedeelte volg ‘n beskrywing van die nasireergelofte. Meeste lesers van die Bybel is bekend met die konsep van die nasireer, omdat Simson ‘n nasireer was (Rig. 13:2-5). Simson se hele lewe was veronderstel om aan God gewy te wees. Ons sien egter in Num. 6:1-21 dat iemand homself vir ‘n bepaalde tydperk as ‘n nasireer aan God kon toewy en dat dit nie noodwendig ‘n hele lewensduur gedek het nie. Dit is dan ook waaroor die hele gedagte van die nasireersgelofte handel. Die persoon wat hierdie gelofte afgelê het het homself vir ‘n tydperk daartoe verbind om homself van sekere voedsel en drank te weerhou. Daar was ook sekere aksies en dinge waarvan die nasireer homself moes weerhou. Gedurende hierdie tydperk het die nasireer homself op ‘n besondere wyse aan God afgesonder om heilig en rein voor God te lewe.

In die laaste paar verse van hoofstuk 6 (vv. 22-27) leer God die priesters hoe om ‘n seën oor die mense uit te spreek. Baie moderne denominasies van kerke het hierdie seënbede in hulle liturgie opgeneem en spreek dit tydens die verloop van die dienste oor die betrokke gemeentes uit.

Hoofstuk 7 verwys terug na die salwing van die tabernakel en sy toebehore nadat dit opgerig is. Nou, na die sensus, bring die leiers van die onderskeie stamme elk ‘n offer na die tabernakel toe. Hierdie offers is aan die drie Levitiese familiegroepe gegee om te versorg. Oor ‘n periode van twaalf dae het die leiers van die twaalf stamme hierdie offers na die altaar toe gebring. Vers 88b lees: “Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is.” Die leser kan gerus hierdie gedeelte in die Ou vertaling vergelyk met die Nuwe vertaling om waardering te kry vir die besluite wat ‘n vertaler moet neem in die vertalingsproses.

Die laaste vers van die hoofstuk (7:89) beeld die besondere verhouding uit wat tussen God en Moses bestaan het: “Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.”

8:1-4 beklemtoon dat die lig van al sewe die kandelaarlampies na vore moet skyn. Dit moet die weg na die allerheiligste verlig.

Bykans die hele hoofstuk 8 is gewy aan die reiniging en wyding van die Leviete. Vroeër is die priesterlike Leviete gereinig en gewy, maar nou word die hele stam aan God gewy vir hulle dienswerk. Hulle dienstyd word ook vasgestel. ‘n Leviet moet tussen die ouderdom van 25 en 50 jaar wees om in die tabernakel te kan diens doen. Hier is weereens ‘n verskil in getalle. Num. 4:34-45 het die ouderdom van dienspligtige Leviete op 30-50 vasgestel.

In Num. 9 gee God bevel dat die paasfees vir die tweede keer gevier moet word. ‘n Jaar het verloop vandat die Israeliete Egipte verlaat het. ‘n Groep Israeliete is egter onrein op die tyd wanneer die paasfees gevier moet word, omdat hulle aan ‘n lyk geraak het. Hulle verkry ‘n spesiale vergunning om die paasfees ‘n maand later te vier. Mense wat ver op reis was tydens die viering van die paasfees verkry ook toestemming om die paasfees ‘n maand later te vier. Daar is ‘n aantal mense van nie-Israelitiese afkoms onder die volk. Ook hierdie vreemdelinge word toestemming gegee om die paasfees saam met die Israeliete te vier. Die enigste voorbehoud is dat die persoon wat die paasfees vier, die begeerte moet uitspreek om dit te doen. Hierin is dit weereens duidelik dat God se diens en aanbidding reg van die begin af ander nasies geïnkorporeer het.

Die volk staan nou op die punt om Sinai te verlaat en verder te trek na Kanaän toe. Die leser word eers daaraan herinner (9:15-23) dat dit God se wil was dat die Israeliete so lank by Sinai vertoef het. As die wolk van God nie getrek het nie, dan het die Israeliete ook nie getrek nie, selfs nie vir ‘n jaar of langer nie.

6.3 Van Sinai tot Kades

Die tweede gedeelte van Numeri dek hoofstukke 10-19. By die aanvang van die tweede gedeelte van Numeri tref God eers weer ‘n praktiese reëling. Aangesien dit moeilik is om so ‘n groot aantal mense te mobiliseer, word daar ooreengekom op seine (Num. 10:1-10). Hierdie seine sal deur middel van trompette gegee word. Verskillende seine het verskillende betekenisse gehad. Die trompette het ook ‘n bykomende funksie gehad; dit sou die volk daaraan herinner dat die Here hulle God is.

Op die twintigste van die tweede maand van die tweede jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, lig die wolkkolom van die deksel van die tabernakel af en is die volk weereens gereed om te trek. In hoofstuk 10 word ons meegedeel dat die Israeliete God se vasgestelde orde noukeuring nagevolg het met die vertrek van Kanaän af.

Soos reeds in Eksodus genoem, is dit nodig dat die leser sal tred hou met die plekname in die verhaal. Hierdie name word gereeld verder in die Bybel weer aangetref, sonder dat die geskiedenis van die verhaal herhaal word. Daar word dikwels van die leser verwag om bekend te wees met die geskiedenis om sodoende die boodskap van die verhaal werklik te kan verstaan.

Die volk het nie ver getrek nie, of hulle begin reeds hul ongelukkigheid in hulle omstandighede te kenne gee. By Tabera (11:1-3) verwyt hulle God oor hierdie omstandighede. God word kwaad vir die volk en ‘n deel van die kamp word met vuur verdelg. Nadat Moses intersessie vir hulle gedoen het by God, word die vuur geblus. Die Hebreeuse woord Tabera hou verband met die woord vuur. Dit is dan ook die Israeliete wat aan hierdie plek sy naam gegee het.

Die tweede opstand in hoofstuk elf word deur die vreemdelinge (mense van nie-Israelitiese afkoms) onder die volk geinisieër. Hulle gee te kenne dat hulle ‘n behoefte aan vleis ervaar. Heel gou begin die Israeliete self aan die gemor meedoen. Hulle is nie langer tevrede met die manna wat God steeds op ‘n daaglikse basis aan hulle voorsien nie. Hulle begin in groepies staan om oor hierdie toedrag van sake te kla. Weereens word die Here kwaad oor hierdie optrede van die Israeliete. Hierdie keer beleef Moses egter ‘n rebellie van sy eie. Hy kla by God dat die las van leierskap oor die wederstrewige volk te swaar is vir hom om alleen te dra. Lees gerus sy moedelose woorde in vv. 11b, 14 en 15:
“Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? ... Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

In antwoord hierop laat God Moses toe om sewentig leiers te kies – op grond van hulle reputasie – en Hy onderneem om die sewentig met sy Gees te vul, sodat hulle Moses kan bystaan in die leiding van die volk. Twee van die sewentig het geweier om op Moses se oproep te reageer, dog is hulle ook met die Heilige Gees gevul, nes die ander agt-en-sestig. Die teken van hulle vervulling met die Heilige Gees was dat hulle as profete begin optree het op daardie oomblik, alhoewel nie later weer nie.

In antwoord op die ander saak, nl. die behoefte aan vleis, het God die volgende dag ‘n groot hoeveeleid kwartels voorsien. Die mense se gulsigheid in die verorbering van die vleis het veroorsaak dat God baie van hulle om die lewe gebring het. Die plek is toe Kibrot-Taawa genoem, wat “grafte van gulsigheid” beteken. Hierdie gulsigheid kan moontlik ook verband hou met die hoeveelheid vleis wat elke persoon bymekaar gemaak het; een ton elk(indien die getal hier nie verkeerd vertaal of oorgeskryf is nie). Dit het nie van goeie rentmeesterskap oor die aarde getuig nie. God het die mens beveel om die aarde te versorg (Gen. 1:28). Wanneer elke individu soveel vleis bymekaar gemaak het, het dit nie die voortbestaan van die spesie in gedagte gehou nie. Daarmee saam het dit ook getuig van hulle wantroue in God om weer vir hulle te voorsien.

Van daar af het die volk verder getrek en vir ‘n ruk by Gaserot gebly.

Dit is onbekend wat van Moses se eerste vrou, Sippora (Eks. 2:21), geword het. Al wat ons weet is dat Moses ‘n tweede vrou geneem het (Num. 12:1) en dat sy van Kussietiese afkoms was. In moderne dialek was sy van Ethiopiese afkoms. Die Kussiete/Ethiopiërs was sonder enige twyfel swart gewees (Jer 13:23a). Hierdie saak het Moses die argwaan van sy broer en suster op die hals gehaal. Hulle het selfs so ver gegaan as om Moses se gesag te bevraagteken op grond van hierdie sogenaamde ‘verkeerde’ huwelikskeuse. God gebruik egter geen onsekere terme om Mirjam en Aaron te laat verstaan dat Moses sy keuse was en steeds is nie. Lees gerus God se antwoord in Num 12:6-8. Mirjam word selfs vir ‘n tydperk met melaatsheid getref om die saak nog duideliker te maak. Melaatsheid het ‘n persoon onrein gemaak en onrein persone mag nie voor God verskyn het nie. Daarmee stel God dit duidelik dat Moses steeds welkom is om voor Hom te verskyn, terwyl Mirjam, as onreine melaatse, nie welkom is nie. Hierdie melaatsheid affekteer nie vir Aaron nie, omdat hy deur God aangestel was as hoëpriester en dit sy daaglikse taak was om namens die volk voor God te verskyn.

Nadat die volk van Gaserot weggetrek het, verskuif hulle reguit na Kades in die Paranwoestyn. Hierdie gebied grens aan Kanaän en alle nodige reëlings word getref om die land binne te val. Eers moet daar egter intellegensie ingewin word rakende die area en sy mense. Hierdie intellegensie word deur twaalf spioene ingesamel.

In Num. 13:22 lees ons dat die spioene/verspieders onder andere die gebied waar die afstammelinge van Enak gebly het, gaan verken het. Die Enakiete was besondere groot mense, sodat hulle bekend geword het as reuse. Hierdie term moet egter nie geïnterpreteer word soos by die lees van ‘n sprokie nie, maar eerder soos in die daaglikse gebruik daarvan. Ons sal vandag steeds van ‘n familie van reuse praat, as ons verwys na ‘n familie waar die genetiese tendens bestaan om besondere lang mense voort te bring bestaan.

Met hulle terugkoms by die volk het die verspieders gemengde verslae. Die land is so ryk en vrugbaar as wat God beloof het, maar die mense van die land het vrees by die Israelitiese verspieders ingeboesem. Hulle woorde getuig van hulle twyfel in hulleself: “Ons was soos sprinkane in ons eie oë …” (13:33b). Slegs twee verspieders het nie op hierdie leuen ingekoop nie, dit was Kaleb en Josua. Hulle verslag was ten gunste van inname van die land.

Die ander tien verspieders het egter nie die saak daar gelaat nie. Hulle het na die volk toe gegaan en die hele volk opgesweep om in opstand te kom teen God, die leiers en die inname van die land. V.4: “Hulle het toe vir mekaar gese:’Kom ons kies ‘n leier en gaan terug Egipte toe!’.” In ‘n roerende toespraak moedig Josua en Kaleb die volk met hierdie woorde aan: “Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” (14:9b). Hierop het die vergadering gedreig om Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Hierna het God ‘n visuele verskyning gemaak en gedreig om die hele volk uit te roei, sodat die aartsvaderbeloftes deur Moses se nageslag in vervulling gebring kan word. Weereens doen Moses vir die volk intersessie by God. Let op hoe sy motivering God se belange op die hart dra: “As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van U dade gehoor het, sê: ‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met ‘n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’ … Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in U groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het.” (vv. 15, en 19).

God laat Hom deur Moses oorreed, maar die volk word tog gestraf. Pleks van om Kanaän binne te gaan, word hulle beveel om om te draai en weg van Kanaän af te trek. God gaan die Israeliete se eie woorde laat waar word (14:28) en hierdie geslag oor die bestek van 40 jaar in die woestyn laat uitsterf. Hulle kinders sal oor 40 jaar na die Paranwoestyn terugkeer om die land in besit te neem. Die enigste twee mense wat van hierdie straf gevrywaar word is Josua en Kaleb, wat nooit hulle vertroue in God verloor het nie. Die verspieders wat die slegte gerug teruggebring het en die volk in opstand gelei het, het op daardie oomblik in ‘n plaag gesterf.

Toe die volk hierdie uitspraak van God hoor, het hulle begin kerm en huil. Hulle het erken dat hulle verkeerd was en aangedui dat hulle bereid was om tog die land binne te val. Hierop het Moses hulle goed laat verstaan dat God hulle nie sou ondersteun in hierdie poging nie. Hulle spyt het te laat gekom. In hulle astrantheid, het hulle Moses geïgnoreer en tog die beplande inval georganiseer – sonder Moses of God se ondersteuning. As resultaat is hulle deur die Amalekiete en die Kanaäniete verslaan en verjaag.

Hoofstuk 15 is ‘n onderbreking in die reisverhaal van Numeri. In verse 1-21 word bykomnde riglyne gegee vir die bring van offers. Hierdie bepalings sê dat graanoffers gepaardgaande met diereoffes gebring moet word. Verder moet ‘n vasgestelde hoeveelheid wyn die offer vergesel. Daar word ook gesê dat vreemdelinge welkom is om aan die offerrituele deel te neem en dat daar geen onderskeid tussen die vreemdeling en die Israeliete getref moet word nie. Daar word weereens pertinent daarop gewys dat die eerste van die growwe meel (graan) aan God behoort.

Verse 22-31 sentreer rondom sonde. Daar is vergifnis vir onopsetlike sonde, maar opsetlike sonde is strafbaar met die dood. In die daaropvolgende paar verse sien ons hoe hierdie bepaling geïmplementeer word. ‘n Man het op die Sabbat hout bymekaar gemaak en is voor die gemeente gebring vir straf. Op God se bevel is die man toe gestenig.

Die laaste gedeelte van hoofstuk 15 dek ‘n interessante bevel. God wil vermy dat meer mense sondig deur nie die gebooie na te kom nie. Daarom beveel Hy dat die Israeliete klossies aan hulle klere vaswerk. Wanneer hulle die klossies sien, sal dit as herinnering dien aan God se gebooie en voorkom dat hulle die gebooie weens vergeetagtigheid oortree.

‘n Tweede opstand volg hierna. Die leser moet in gedagte hou dat die volk steeds by Kades uitgekamp is en nog niks verder getrek het sedert hulle hul ongeloof in God se vermoë uitgespreek het om hulle in die stryd teen die Kanaäniete te red nie. Hulle het hulle toe aan hulle neuse laat rondlei deur ongelowige leiers en steeds het hulle nie hulle gesindheid van opstand en hardkoppigheid verander na een van inskiklikheid en onderhorigheid (gehoorsaamheid en geloof) nie. Tweehonderd-en-vtftig vername leiers, aangevoer deur ‘n Leviet, Korag, en twee Rubeniete, Datan en Abiram, het tot die oortuiging gekom dat Moses en Aaron hulle-self bo die res van die volk verhef het (Hfst. 16). Ons het in hierdie gedeelte dus te doen met ongesonde ambisie, eiegeregtigheid en moontlik selfs ‘n mate van jaloesie op Moses en Aaron se posisies. Onmiddellik het Moses tot God in gebed gegaan. Aangesien Moses en Aaron se aanstellings in hul posisies deur God self gemaak is, is dit maklik vir Moses om te sien dat die rebellie in werklikheid teen God gemik is en nie soseer teen homself en Aaron nie: “… jy en jou hele bende het ‘n komplot teen die Here gesmeë.” (v.11b). Moses stel ‘n uitdaging aan die opstandelinge: “… vat môre vir julle vuurpanne, … en bring dit na die altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan.” (v.6b-7).

Intussen het Moses die drie leiers laat roep om met hom te kom gesels, maar hulle het geweier om te kom, terwyl hulle Moses daarvan beskuldig het dat hy die hele volk mislei het met die uittog uit Egipte en die beloftes van die beloofde land wat ‘hy’ aan die volk gemaak het. Moses het sy onskuld in hierdie saak voor God gaan bepleit en God gevra om nie die opstandelinge se offers die volgende dag aan te neem nie. Die volgende dag het die hele vergadering teenoor Moses en Aaron stelling ingeneem. God het weereens visueel aan hulle verskyn. Hy het Moses en Aaron beveel om weg te staan van die mense af sodat Hy hulle kon vernietig. Moses het egter vir die volk in die bresse getree: “… sal U toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?” (v.22b). In sy regverdige genade, het God beveel dat almal hulle moes afskei van Korag, Datan en Abiram. Op Moses se bepaling sterf hulle dan op ‘n wyse waarop niemand nog tevore gesterf het nie – die aarde het hulle letterlik ingesluk. Die res van die tweehonderd-en-vyftig leiers wat aan die opstand deelgeneem het is hierna deur vuur verteer. Dit het as bewys gedien dat Moses inderdaad deur God in sy posisie aangestel was.

Die vuurpanne van die manne wat gesterf het, is gebruik om die altaar mee oor te trek, aangesien die gebruik daarvan by die altaar dit gewyd gemaak het. Die oorgetrekte altaar moes die volk daaraan herinner dat God die individue aangestel het wat daar moes diens doen, sodat niemand anders dieselfde fout sou begaan as Korag en sy bende nie.

Die volgende oggend het die volk weereens teen Moses en Aaron in opstand gekom. Hulle was oortuig dat die twee leiers persoonlik verantwoordelik was vir die dood van die rebelle-leiers die voorafgaande dag. Weereens was God gereed om die hele volk uit te delg. Nogeens moes Moses en Aaron vir die volk gaan intersessie doen voor God. God het reeds begin om die mense d.m.v. ‘n plaag uit te wis. Terwyl Moses voor God in gebed gebly het, het Aaron met ‘n wierookoffer tussen die mense ingegaan. Hy het tussen die gaan staan wat reeds dood was en die wat nog gelewe het. Daarna is hy terug na Moses toe by die tent van ontmoeting.

Moses se outoriteit as leier was nou bevestig, maar hy wil ook seker maak dat Aaron en sy nageslag se outoriteit bo alle twyfel bevestig sou wees. Hy het die twaalf leiers van die twaalf stamme beveel om elk ‘n kierie in die tent met die getuienis neer te sit (hfst.17). Die volgende dag het Aaron se kierie nie slegs gebot nie, maar selfs ryp amandels gedra. Dit het Aaron se uitverkorenheid bo alle twyfel bewys. Hierdie kierie van Aaron is ook by die res van die getuienis gehou (in die ark) as voortdurende herinnering dat God die hoëpriestrerlike familie uitgekies het.

Van hier af verskuif die vertelling na ‘n gesprek tussen God en Aaron. God bevestig opnuut dat die hele Levitiese stam uitverkies is vir diens rondom die tent van ontmoeting, maar dat slegs Aaron en sy seuns gekies is tot die priesteramp: “Dat julle die priesterskap mag beklee, is ‘n geskenk van my aan julle. ‘n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.” (18:7b). In die daaropvolgende gedeelte word die pligte en voorregte wat met die Levitiese- en die priesterampte gepaard gaan weereens uitgelig:
  • hulle is geregtig op ‘n gedeelte van die offers wat gebring word, wat beteken dat hulle die beste kry van wat daar in die land is;
  • alle eersgeborenes moet losgekoop word by die priesters;
  • hulle sou geen grondgebied ontvang in Kanaän nie;
  • die tiendes wat die volk gee behoort aan die Leviete;
  • die Leviete het self ook ‘n verantwoordelikheid om tiendes te betaal.
‘n Addendum tot die reinigingsvoorskrifte word hier gegee. Die leser sal hom daaraan herinner dat daar ‘n groep mense was wat nie aan die paasfees kon deelneem nie, omdat hulle onrein geword het deurdat hulle aan ‘n lyk geraak het (hfst. 9). Voorskrifte word gegee vir die offer en algehele verbranding van ‘n rooi koei. Die as van hierdie koei word dan tot die volk se beskikking gestel sodat hulle reinigingswater daarvan kan maak om te gebruik wanneer iets/iemand onrein geword het deur die aanraking van ‘n lyk (hfst.19).

Met die inleiding van hoofstuk 20 word ons meegedeel dat Moses en Aaron se suster, Mirjam, by Kades gesterf het en daar begrawe is. Voor hulle verder trek is daar nog eens ‘n rebellie onder die volk wat dors ly as gevolg van ‘n gebrek aan drinkwater. God onderneem om water uit ‘n rots te voorsien as Moses en Aaron met die rots sou praat. Moses het met die woorde, “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” (v. 10b), die rots geslaan en daar het water voortgekom. Deur hierdie daad het Moses en Aaron egter vir hulle self erkenning vir die daad toegeëien, sonder om aan God die eer daarvoor te gee. As leiers, was dit ‘n geweldige wandaad om voor die volk te pleeg. God se straf behels dat hulle nie die volk by Kanaän sou inlei nie. Hierna het hulle die plek Meribawaters genoem. Die woord Meriba verwys na rusie, want die volk het daar met God rusie gemaak.

Terwyl hulle steeds by Kades uitgekamp was, het Moses gesante na Edom gestuur om toestemming te verkry om die Israeliete deur die Edomiete se grondgebied te laat trek. Die Israeliete het onderneem om op die Koningspad (sien die kaart in in die bespreking van Eksodus, deel 4 van die reeks) te bly en nie links of regs daarvan af te draai nie en om selfs te betaal vir die water wat hulle sou drink. Die Edomiete het botweg geweier om hulle toegang te verleen en selfs met ‘n weermag teen hulle opgetrek om te voorkom dat die Israeliete hulle land sou binnegaan.

As agtergrond is dit nodig dat die leser in herinnering sal roep dat God bepaal het waar Edom se grondgebied moes wees. Die Edomiete was die nageslag van Esau (Gen, 36:42b), wat die broer van Jakob/Israel was. As sulks het die Edomiete ook God se seën geniet as afstammelinge van beide Abraham en Isak, alhoewel hulle nie gekies was om die aartsvaderbeloftes verder voort te dra nie. Moses spreek die Israeliete in Deut. 2:1-8 toe, en tydens sy toespraak herinner hy hulle aan hierdie insident met Edom. Die Deuteronomium-vertelling bevat egter interessante feite wat werd is om hier genoem te word. God het dit baie duidelik gestel dat die Israeliete nie teen die Edomiete mag oorlog gevoer het om hulle grondgebied in te neem nie, op grond van die feit dat dit hulle broersvolk was en omdat die Edomiete hulle grondgebied van God self ontvang het.

Hierdie insident met Edom moet in die Bybelleser se gedagtes vasgemaak word, aangesien daar ‘n aantal verwysings hierna is in die latere boeke van die Ou Testament, wat dan veronderstel dat die leser met hierdie geskiedenis bekend is.

Uiteindelik slaan die volk die kamp by Kades af en verskuif na Horberg toe. Hier deel God Moses mee dat Aaron op die punt is om te sterf. Moses, Aaron en sy seun, Eleasar, die volgende hoëpriester, het die berg uitgeklim. Aaron het sy hoëpriesterlike klere vir Eleasar gegee om aan te trek en sodoende sy amp op seremoniële wyse aan sy seun oorhandig. Daarna is Aaron oorlede. Die volk het dertig dae lank oor hom getreur.

Dit sluit hierdie fase in die volk se geskiedenis af. Dit sou vir die leser duidelik geword het dat Kades ‘n groot impak op die volk se geskiedenis gehad het. Wanneer die leser later in die Bybel van hierdie naam/plek lees, is dit noodsaaklik dat hy die volle verhaal van Kades in herinnering moet roep om die werklike waarde van die teks, waarin die verwysing na Kades voorkom, te snap.

6.4 Van Kades tot Moab

Hierdie gedeelte begin met ‘n bondige vertelling van die inname van Gorma, nadat die Israeliete deur die koning van die area aangeval is (21:1-3)

Terwyl die Israeliete om Edom getrek het, het hulle weereens in opstand gekom. Hulle was steeds in rebellie teen die feit dat hulle gedoem was om in die woestyn te sterf, asook ongelukkig oor die “slegte kos” en die gebrek aan water (v.5). In reaksie op hierdie rebellie van die volk, het God giftige slange onder die volk losgelaat. Moses het weer vir die volk gaan intersessie doen. Op bevel van God, het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. Elkeen wat deur ‘n slang gepik was, moes slegs na die koperslang kyk om genesing te ontvang.

Verse 10-20 vertel in kort hoe die volk van een kampplek na die ander versit het sonder om veel detail daar rondom te verskaf. Aan die einde van hierdie gedeelte bevind die Israeliete hulle in die gebied van die Moabiete.

Die Israeliete het Koning Sihon van die Amoriete versoek om hulle toe te laat om met die Koningspad langs deur sy grondgebied te trek. Hy het hulle toegang geweier en met ‘n leërmag teen hulle opgetrek. Die Israeliete het Sihon sonder veel moeite verslaan. ‘n Interessante brokkie geskiedenis rondom Gesbon word by hierdie gedeelte ingevoeg d.m.v. ‘n gedig. (Kemos, waarna in die gedig verwys word, was ‘n afgod). Die Israeliete het die Amoriete se grondgebied vir ‘n ruk lank bewoon. Toe die Israeliete in die rigting van Basan verder trek, het Koning Og hulle tegemoet getrek met ‘n leërmag. Ook hierdie koning is verslaan en sy grondgebied in besit geneem. Deuteronomium voeg enkele interessante brokkies inligting tot heirdie gedeelte toe, o.a dat Og ‘n reus was wie se bed ongeveer 4m lank was.

Hierdie twee veldslae het vir die Israeliete ‘n berugte reputasie as oorlogvoerders besorg onder die nabye volke. In verdere verhale sal gemerk word dat hierdie veldslae telkens genoem word as redes waarom volke bang was vir die Israeliete. Dit is dan ook die geval met Koning Balak van die Moabiete (hfst.22).

Balak het besef dat hy ‘n troefkaart sou nodig hê as hy daarin wou slaag om die Israeliete uit te oorlê. Eers sluit hy ‘n alliansie met die Midianiete (wat reeds sedert Gen. 36:35 nou verweef was met die Moabiete) en daarna laat haal hy een van die bekendste waarsêers van sy tyd, Bileam. Bileam het ‘n imponerende professionele reputasie gehad (v. 6b). Toe die gesante by Bileam aankom met die vereiste bedrag wat destyds deur waarsêers geverg was, het hy hulle versoek om die nag oor te bly terwyl hy sy gode gaan raadpleeg. Daardie nag het God (JHVH) aan Bileam verskyn en hom uitdruklik beveel om nie die Israeliete namens Balak te gaan vervloek nie, aangesien hulle deur God geseën was.

Dit sou wys wees om die vertelling eers hier te onderbreek om te probeer vasstel wie en wat Bileam was. Bileam was nie ‘n Israeliet nie – hy het uit die land van die Babiloniërs gekom. Bileam was dus ‘n waarsêer wat nie die ware God gedien het nie. Ons kan met veiligheid aannneem dat hy, soos vele ander van sy tyd, in ‘n verskeidenheid gode geglo het en vanweë sy nering hom op verskeie van hulle beroep het, afhangende van wat die taak vereis het. As sulks, het Bileam dan nou met die ‘nuwe’ en magtige God van die Israeliete kontak gemaak, en probeer om Hom by sy repertoire van gode in te sluit. Die leser kan maklik verkeerdelik onder die indruk kom dat God en Bileam in samewerking was met mekaar. Hulle was in werklikheid in opposisie tot mekaar (Deut. 23:5 en Jos. 24:10).

God het besluit om Bileam te antwoord, maar Bileam sou ‘n God leer ken wat hy nog nie vantevore mee kennis gemaak het nie. Hierdie God kon nie omgekoop word deur offerandes nie. Hierdie God was nie geïnteresseerd in hoeveel geld die waarsêer aangebied sou word nie. Hierdie God het sy woord aan die Israeliete gegee en sou nie daarvan afwyk nie, maak nie saak wat Bileam probeer het nie. Maar hierdie God was ook geïnteressered in die individu, selfs hierdie heidense individu met sy afskuwelike beroep. Die verhaal van Bileam is daarom een van kentering wat plaasvind in die individu wat God ontmoet.

Daar is nog ‘n gedagte wat vir die leser in die verhaal van Bileam belangrik is. Dit sentreer rondom wie die Moabiete was. Die leser sal in herinnering roep dat die Moabiete die nageslag van Lot was (Gen. 19:37) en dat Lot Abraham se broerskind was. Die Moabiete se grondgebied was aan hulle gegee deur God. Daarom het God vir Moses gewaarsku om nie die Moabiete aan te val om hulle grondgebied in besit te neem nie (Deut. 2:9).

Nadat Bileam geweier het om na die oorlogsfront te vertrek, is Balak se gesante terug, maar Balak wou nie hierdie antwoord van Bileam aanvaar nie. Weer stuur hy gesante met die belofte van ‘n groot beloning. Weer laat Bileam hulle die nag oorbly waar hy deur JHVH gekonfronteer word. Daardie nag het God ‘n tweede keer aan Bileam verskyn. Hy het Bileam toegelaat om te gaan, maar met die voorwaarde dat hy slegs sou sê wat God aan hom voorsê.

Dat God nie tevrede was met Bileam se (geldsugtige?) aandrang om te gaan nie, kan duidelik in die daaropvolgende gedeelte gesien word. Terwyl Bileam oppad is, word hy deur ‘n engel voorgelê wat daarop uit was om hom dood te maak sodat hy nie sy boodskap sou kon lewer nie. Bileam, die sogenaamde kundige, kan glad nie die engel onderskei nie, tot sy donkie hom daarop attent maak – deur met hom te praat. Bileam moes in sy hart beplan gehad het om nie aan God gehoorsaam te wees nie, want dis eers toe hy homself aan God se opdrag onderwerp dat hy weer toegelaat word om verder te gaan.

By Balak aangekom is Bileam vinnig om hom in te lig rakende die voorwaardes van sy teenwoordigheid daar. In hoofstuk 23 lees ons dat Bileam daar offers gebring het. Die leser moet onthou dat die gebruik om brandoffers te bring nie beperk was tot die Israeliete nie, maar dat die heidense nasies soortgelyke godsdienstige rituele beoefen het. Na die offers gebring is, het Bileam met ‘n uitspraak vorendag gekom. In die uitspraak seën hy die Israeliete met:
  • God se beskerming;
  • Heiligheid;
  • Vermenigvuldinging van getalle;
  • Voorspoed.
Hierdie seëning het Balak natuurlik nie aangestaan nie. Hy het Bileam na ‘n ander punt gevat vanwaar hy ‘n kleiner gedeelte van die Israeliete sou kon sien. Die implikasie hier is dat Bileam die moed sou hê om hulle vandaar te vervloek. Nadat daar weereens offers gebring is, het Bileam weereens ‘n seën oor die Israeliete uitgespreek:
  • God sal sy woord gestand onderhou;
  • Israel sal deur geen teenspoed getref word nie;
  • Toordery en waarseery sal geen invloed op Israel hê nie (v. 23);
  • Israel sal hulle vyande verslaan.
Die plek waar hulle hulle bevind het was die hoogtes van Baäl (Bamot-Baäl – 22:41). Daar was geglo dat afgode se invloed tot sekere areas beperk was. Om hierdie rede is die afgode op spesifieke plekke aanbid. Die offers waarna hier verwys word is dus aan Baäl gebring en nie aan God nie.

Balak het Bileam uitgetrap omdat hy die Israeliete geseën het. Daarna het hy Bileam na ‘n ander plek geneem en weereens in opdrag van Bileam offers gebring. Teen hierdie tyd (hfst. 24) het Bileam nie meer gewonder of hy teen God se wil sou kon profeteer as hy eers ‘n paar ‘toorkunsies’ sou gaan uitvoer nie. Hy het reeds geweet dat God die Israeliete wou seën en nie vervloek nie. Hierdie keer het God se Gees oor hom vaardig geword en het hy Israel ‘n derde keer geseën met:
  • ‘n Oorvloedige land om in te woon;
  • ‘n Uitbreidende koninkryk;
  • Nederlaag van hulle vyande;
  • Onderskeidelik ‘n seën en ‘n vloek vir hulle vriende en hulle vyande.
Let op Bileam se veranderde gesindheid in hierdie laaste seën. Hy is nie meer die rebelse waarsêer wat hoop om God uit te oorlê met offerandes, toorkunsies en voortekens, sodat Hy van sy planne rakende die Israeliete sal afsien nie. In verse 3 en 4 sien ons dat Bileam hom voor God verneder en sy wil aan God s’n ondergeskik stel.

Balak se reaksie op hierdie derde seën is voorspelbaar. Hy trap Bileam uit en jaag hom weg sonder om hom te betaal. Hierop herinner Bileam hom daaraan dat hy van die begin af aangedui het dat hy onder voorwaardes werk. Voor hy huiswaarts keer het hy egter nog ‘n boodskap – wat die Israeliete in die toekoms aan Balak se volk, die Moabiete, en die omringende volke gaan doen. Hulle sal die volgende nasies verslaan:
  • Moabiete;
  • Edomiete (het in Seir gebly);
  • Amalekiete;
  • Keniete/Midianiete en die
  • Assiriërs.
Hierdie woord van Bileam is profeties van aard, aangesien dit presies is wat later gebeur het, self die wegvoering in ballingskap van die Hebreërs deur die Assiriërs. Dit blyk selfs asof daar verwysings na Jesus voorkom in hierdie profesie. Weereens kan ons aan die openingswoorde van die profesie sien dat hierdie woord deur die gekenterde Bileam gebring word wat steeds onder die beheer van die Heilige Gees profeteer. Hy is ‘n man wat onder die indruk van God se almag gekom het en hom, ten minste tydelik, daaraan onderwerp het.

Na hierdie laaste woord van Bileam het beide hy en Balak na hulle onderskeie wonings teruggekeer sonder om die Israeliete aan te val. Dit is egter steeds nie die einde van Bileam en Balak se verhaal nie.

Terwyl die Israeliete hier uitgekamp was, het die Israelitiese mans omgang gehad met die Midianitiese vroue van Sittim (hfst.25). Hierdie seksuele verhoudings het daartoe gelei dat die mans by afgodery betrokke geraak het. Om die waarheid te sê, hierdie was ‘n moedswillige poging van die Moabiete en die Midianiete om die Israeliete tot afgodediens te verlei. Wanneer ons gedeeltes elders in die Bybel raadpleeg, word die intrige agter hierdie slinkse plan van die Moabiete en die Midianiete nog duideliker. Ons sien dat dit in der waarheid Bileam se idee was (Op. 2:14 en Num. 31:16), sodat die Israeliete hulle God sou verloën en sodoende sy beskerming en seën verloor. Judas 11 en 2 Pet. 2:15 gee geldgierigheid as motivering vir Bileam se verleidingsplan.

In reaksie op hierdie ontrouheid van die Israeliete, het God beveel dat almal wat hulle aan afgodery skuldig gemaak het doodgemaak moes word. Terwyl al die Israeliete daar bymekaar was het Simri, die seun van ‘n Israelitiese leier, ‘n Midianitiese vrou, Kosbi, die dogter van ‘n Midianitiese stamhoof, tussen die gemeente ingebring om seksuele omgang met haar te hê daar in die Israelitiese kamp, waar die Israeliete voor die Here staan en huil het oor hul oortrtedings. Hierop het Pinehas, die seun van Eleasar, die nuwe hoëpriester, die twee in hulle tent in gevolg en hulle daar met ‘n spies deurboor, terwyl hulle besig was om gemeenskap te hê.

As beloning vir die feit dat hy vir God se eer opgekom het, sodat God nie nodig gehad het om dit self te doen nie, het God ‘n verbond met Pinehas gesluit, waarvolgens Hy onderneem het om die priesterskap vir Pinehas se nageslag te verseker. As straf vir die Midianiete se optrede, het God Moses en die Israeliete beveel om die Midianiete uit te roei. Hierdie opdrag word in Num. 25 uitgevoer (sien p.14). God het verder ook die Moabiete en die Ammoniete verbied om in sy teenwoordigheid in te kom, of om met die Israeliete te ondertrou (Deut. 23:3 en Neh. 13:2). Die uiteinde van Bileam is dat hy later deur die Israeliete gedood is (Jos. 13:22 en Num. 31:8).

Die leser moet ‘n brokkie inligting uit Eksodus rakende die Midianiete hier in herinnering roep. Die Midianiete was die mense by wie Moses skuiling gevind het nadat hy uit Egipte gevlug het vir die moord op ‘n Egiptenaar. Sy eerste vrou en sy skoonpa was beide Midianiete. Sy skoonpa was ook ‘n Midianitiese priester wat hom tot die God van die Israeliete bekeer het voor hy terug is na sy eie mense toe. Dit is dus veilig om aan te neem dat die Midianiete die geleentheid gegun was om God te leer ken en ten spyte van hulle kennis steeds moedswilliglik die volk van God probeer verlei het om by afgodery betrokke te raak (Eks. 2 en 18).

6.5 By Moab

Soos aan die begin van die boek, bevind die Israeliete hulle-self weereens aan die grense van Kanaän waar hulle nou in Moab uitgekamp is. Hulle het die afgelope veertig jaar deur die woestyn geswerf waar hulle elke dag deur God onderhou is. Die vorige geslag, almal wat twintig en ouer was veertig jaar gelede, het uitgesterf in die woestyn. Daar is nou ‘n nuwe generasie wat op die punt staan om te bewys dat hulle God sal vertrou om hulle by te staan met die inname van die land. Soos aan die begin van Numeri, is daar dan nou weer ‘n sensusopname (hfst. 26) wat onder die Israeliete gedoen word sodat die bevolking in ‘n goed-georganiseerde weermag omskep kan word. In hierdie sensusopname is daar veskeie verwysings na insidente en gebeure uit die volk se geskiedenis:
  • Die opstand van Korag, Datan en Abiram (Num. 16);
  • Juda se familie-uitleg (Gen. 38);
  • Die verdeling van die Josefstam in Efraim en Manasse (Gen. 48:7).
Noudat die volk op die punt gestaan het om die beloofde land in te neem, het die kwessie van die verdeling van die land pertinent geword. Selofgad (27:1-11) was ‘n familiehoof uit die stam van Manasse. Hy het egter nie seuns gehad wat sy familie se grond sou kon erf nie. Soos die sosiale regulasies dit tot op daardie stadium vereis het, sou sy grond dan na sy skoonseuns gaan, wat sou beteken dat Selofgad se familieboom nie verder sou voortbestaan nie. Sy dogters het hierdie saak voor Moses kom lê, wat dit op sy beurt na God toe geneem het. Hierop het God ‘n aantal uitsprake gemaak wat dit moontlik sou maak dat ‘n man se familiegrond in sy familie en aan sy naam gekoppel sou bly. In die laaste hoofstuk van Numeri word verdere bepalings rakende hierdie saak gegee.

God het destyds by Kades vir Moses gesê dat hy nie Kanaän sou binnegaan nie, maar dit net sou sien (Num. 20:12). Daarom kondig God nou aan dat Moses binnekort sal sterwe. Moses het nog eers ‘n versoek vir God; God moet ‘n leier vir die volk aanstel in die plek van Moses (27:12-23). God wys Josua aan as leier, omdat hy reeds ‘n man was op wie God se Gees gerus het. Moses en Eleasar bevestig Josua se leierskap voor die volk. Josua se leierskap veskil van Moses s’n. Moses was leier vir die hoëpriester, maar God stel dit duidelik dat Josua se gesag nie bo die van die hoëpriester is nie. God se volk het ‘n teokratiese gesagstruktuur.

Noudat die Israeliete op die punt staan om die land in te neem, word dit belangrik om hulle daaraan te herinner om die bepaalde offers op die regte tye te bring. Terwyl hulle deur die woestyn getrek het, was die godsdienstige rituele effens afgeskeep. Daar sal nou egter nie meer verskonings wees om nie die gebooie rakende die offers, ens. te gehoorsaam nie. Hoofstukke 28-29 behandel die bring van die offers:
  • Daaglikse offers – elke oggend en elke aand;
  • Sabbatsoffers – elke Sabbatdag;
  • Maandelikse offers – op die eerste van elke maand;
  • Paasfeesoffers – met die viering van die Paasfees;
  • Offers by die Fees van die Weke – met die viering van die Oesfees;
  • Offers by die Fees van Trompette – op die eerste van die sewende maand;
  • Versoensdagoffers – om versoening te doen op die Versoendag;
  • Huttefeesoffers – offers word vir agt dae lank gebring tydens die Loofhuttefees.
God is ‘n eerlike en standvastige God. Wat Hy gesê het, sal Hy laat gebeur. Die heidense profeet, Bileam, het sterk met hierdie aspek van God te doen gekry en hierdie woorde rakende God geuiter (23:19): “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” Hierdie God, wat Sy woord so gestand onderhou, verwag ook van die mens om sy eie woorde te eer. Num. 30:2 lees: “As iemand aan die Here ‘n gelofte doen of met ‘n eed ‘n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.” Die res van die hoofstuk gee aan die man die gesag om geloftes wat deur vroue afgelê is, ongedaan te maak. Verskillende mans het op verskillende tye van die vrou se lewe soveel geestelike gesag oor haar:
  • Ongetroude vrou – haar pa;
  • Getroude vrou – haar man;
  • Weduwee – niemand.
Voordat Moses sou sterwe was daar nog ‘n onafgehandelde saak wat sy aandag geëis het. Die Midianiete het destyds op aandrang van Bileam die Israeliete verlei om aan God ontrou te word deur afgodery. God het bepaal dat al die Midianiete om die lewe gebring moes word as straf hiervoor (Num. 25). Dit was tot op hede nog nie gedoen nie. God beveel Moses om toe te sien dat die volk eers hierdie veldslag teen die Midianiete uitvoer (hfst.31). Hierop trek die Israeliete teen die Midianiete op en verslaan hulle. Hulle het al die Midianitiese mans doodgemaak, maar die vrouens en kinders se lewens gespaar en hulle teruggebring na die Israelitiese kamp toe. Dit was egter deur die vroue dat die Israeliete in die eerste plek verlei was. Geen wonder dan dat Moses kwaad was oor hierdie toedrag van sake nie. Hy het beveel dat alle seuns, en vroue wat al met ‘n man gemeenskap gehad het, om die lewe gebring moes word. Slegs die maagde se lewens mag gespaar gewees het. Hierna moes die soldate ‘n sewe dae lange reinigingseremonie ondergaan voor hulle weer in die kamp toegelaat is.

Die Israeliete het heelwat buit by die Midianiete geroof en diè moes nog verdeel word. Die soldate sowel as die mense wat by die kamp agtergebly het was geregtig op ‘n deel van die buit. Almal was ook verplig gewees om ‘n porsie van hulle deel van die buit aan God af te staan. Nadat die buit verdeel is en almal hulle onderskeie dele aan God gegee het – wat deur Eleasar in ontvangs geneem is – het die leiers nog ‘n bykomende vrywillige offergawe aan God gebring, nl. al die goue goed wat onder die buit was. Dit was uit dankbaarheid omdat daar nie een Israelitiese soldaat gesneuwel het tydens die geveg nie.

Die Israeliete het op die verowerde gebied van die Amoriete en Basaniete uitgekamp. Hierdie grond was nie aan die westekant van die Jordaan, in die beloofde land nie, maar aan die oostekant, net buite die grense van die beloofde land. Die stamme van Ruben en Gad het gesien dat die land goed was om in te woon en het Moses vir toestemming gaan vra om hulle-self daar te vestig (hfst. 32). Moses het gevrees dat die oorblywende stamme ontmoedig sou word om Kanaän in te val (nes destyds na die negatiewe verslag van die spioene) as hulle so ‘n groot afdeling van hulle leër sou verloor. Die Rubeniete en Gadiete het hulle daarop daartoe verbind om steeds saam met die Israeliete uit te trek vir oorlog, en slegs terug te keer wanneer die finale veldslag gewen was. Met hierdie versekering verleen Moses hulle toestemming om hulle-self oos van die Jordaan te vestig in die areas wat vroeër onder bewind was van Koning Sihon van die Amoriete en Koning Og van Basan.

n Helfte van die stam van Manasse, die nageslag van Makir, het ook by Moses toestemming gekry om hulle-self aan die oostekant van die Jordaan te vestig. Hulle het Gilead en die omringende tentdorpe verower. Die leser moet hierdie stamme voortdurend in gedagte hou terwyl hy die Ou Testament bestudeer, aangesien hulle afgesonderdheid van die res van Israel hulle telkens op die voorgrond laat tree.

Wanneer ‘n mens die hoofstukke van Numeri versigtig ontleed, sal gemerk word dat die veertigjarige woestyntog basies in slegs een hoofstuk gedek word, nl. hoofstuk 21. In hoofstuk 20 is die Israeliete steeds by Kades, en in hoofstuk 22 is hulle reeds by Moab. Dit is logies om te aanvaar dat heelwat detail rakende hulle swerftog dus uit hierdie vertelling uitgelaat is. Hoofstuk 33 lig ons nouer hieroor in:
  • vv. 1-37 vertel van Israel se kampplekke en swerftog vanaf Rameses tot by Kades;
  • vv. 37-49 verhaal hul reistog en kampplekke vanaf Kades tot by Moab;
  • vv. 50-56 speel af waar die volk by Moab uitgekamp is. Hier spreek God ‘n paar ernstige gedagtes rakende die inbesitneming van die land teenoor die Israeliete uit:
  1. Al die inwoners moet uit die land gedryf word;
  2. Alle afgodsbeelde moet vernietig word;
  3. Die land moet deur loting verdeel word onder die stamme, volgens die grote van die afsonderlike stamme;
  4. As al die inwoners nie verdryf word nie, sal hulle die volk skade berokken, wat God se toorn op die Israeliete sal laat neerkom.
In hoofstuk 34 word die landsgrense deur God bepaal en beskryf aan die Suide-, Weste-, Noorde- en Oostekante. God stel ook die leiers aan wat met die verdeling van die land sal help; Eleasar, Josua, en ‘n leier uit elk van die stamme wat nog nie grond ontavng het nie. Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse het nie leiers wat hulle by hierdie verdeling van die land sou verteenwoodig nie, omdat hulle reeds hulle grondgebied aan die oostekant van die Jordaan ontvang het.

Die Leviete is ook nie by die verdeling van die land ingesluit nie, want God het gesê dat Hy hulle erfdeel sal wees (Num. 18:23). Die Leviete het slegs ses stede met omringende grondgebied in Israel ontvang om in te woon. Hierdie ses stede moes tot asielstede verklaar word. Die asielstede moes maklik bereikbaar wees. Daar is drie asielstede aan beide kante van die Jordaan uitgesonder. ‘n Asielstad was ‘n stad waarheen iemand kon vlug wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het. Daar sou hy asiel kon vind vir sy oortreding tot daar regspraak oor gelewer is. As hy skuldig bevind is aan moedswillige doodstraf, is hy aan die slagoffer se familie uitgelewer om gedood te word. Anders het hy die reg gehad om in die asielstad beskerming te vind tot die dood van die hoëpriester (hfst. 35).

God heg baie waarde aan lewe, veral mense se lewens. Daarom is Hy baie spesifiek oor die vergelding van moord. As bloed vergiet sou word sonder dat daar versoening voor gedoen word, sou dit die land onrein maak. Die land mag nooit onrein gemaak word nie, omdat God self daar tussen die Israeliete gewoon het.

Die laaste hoofstuk van Numeri is ‘n vervolg op hoofstuk 27:1-11. Die leser sal hom daaraan herinner dat Selofgad se dogters die reg verkry het om hul pa se grond te erf. Hulle was ook uit die halwe stam van Manasse wat van Makir afgestam het en dus reeds hul grondgebied ontvang het. Gilead, ‘n afstammeling van Makir, se mense was bekommerd dat hierdie grond later aan ander stamme sou behoort as die dogters met mans uit ander stamme sou trou. God het daarop bepaal dat die grond slegs hulle erfdeel sou wees as hulle met mans binne hulle eie stamverband sou trou. Selofgad se dogters het hierdie bepaling goedgevind en die opdrag uitgevoer.

Met die praktiese voorbereidings vir die inname van die land afgehandel, word die boek van Numeri afgesluit. Dog sal Deuteronomium nie die verhaal van die inname van die land vertel nie, maar ‘n paar toesprake van Moses dek voordat hy self sterf.

6.6 Toepassing

  1. Ek beoog om meer omtrent die volgende onderwerpe uit te vind:
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
2. Een van die hooftemas wat in Numeri behandel word is die tema van rebellie teen God. Heb. 5:7b sê dat Jesus se gebede verhoor is omdat Hy Homself aan God onderwerp het. Jak. 4:3 sê dat ons gebede nie verhoor word nie, omdat ons volgens ons eie begeertes bid. Moses se gebede is telkens verhoor. Wat kan ons by Moses leer oor gebed en nederigheid, wat sal help dat ons eie gebede verhoor word?
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
  1. Numeri leer ons iets van eerlikheid. Bileam sê dat God nie ‘n mens is dat Hy sou lieg nie (Num. 23:19). Hierdie opmerking noop ‘n mens om selfondersoek in te stel. Is jy een van die mense wat die mensdom ‘n reputasie gegee het om leuenaars te wees? Indien wel, lieg jy slegs vir mense, of lieg jy selfs vir God? Wat kan jy doen om te verseker dat jy sal ophou lieg, sodat mense jou woord sal kan vertrou (Matt. 5:33-37 en Num. 30)? Wees prakties. Onthou die Israeliete moes selfs klossies aan hulle klere vaswerk om te verseker dat hulle nie sekere sondes uit vergeetagtigheid sou pleeg nie.
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
    1. Nog ‘n tema wat in Numeri sterk na vore tree is die tema van orde. Telkens is God besig om orde te skep en dinge en mense te organiseer. As gevolg hiervan funksioneer hierdie groot bevolking, wat sonder heenkome is, soveel beter. Is daar dinge in jou lewe wat nodig het om georganiseer te word? Besef jy dat organisasie jou kan vrymaak om by dinge/mense/sake uit te kom waarvoor jy nie nou tyd het nie? Dink net hoeveel makliker Moses se taak was nadat hy die kampordes vasgestel het. Watter areas in jou lewe het nodig om georden te word? Wat kan jy doen om orde te skep in hierdie areas? Wees prakties.
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
5. Leierskap is ‘n tema wat ook sterk figureer in Numeri. Ons maak met baie sterk leiers kennis in hierdie boek. Roep die volgende mense in herhinnering: Moses, Josua, Korag en sy bende, die tien kleingelowige verspieders, Aaron, Pinehas, Mirjam, Eleasar, Bileam en Balak. Hierdie was almal mense wie se leierseienskappe sterk uitgestaan het, tog was hulle invloed nie altyd positief nie. Ons neem almal die leiding in een of ander area van ons lewens. Ondersoek jou eie leierskap t.o.v. styl, reputasie, invloed, uitkomste, ens. om vas te stel of jy ‘n positiewe of ‘n negatiewe leier is. In watter areas van jou leierskap is daar ruimte vir verbetering? Wat kan jy doen om die effektiwiteit van jou leierskap te verbeter? Wees prakties.
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________
_____________________________________________________________________________

6.7 Bibliografie

  1. THOMPSON, F.C. 1988. The Thompson Chain Reference Bible: KJV 5th ed. B.B. Kirkbride Bible co., inc.: Indianapolis.
  2. The New Open Bible Study Edition, New King James Version. 1990. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  3. DIE BYBEL, nuwe vertaling. 1983. Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Kaapstad.
  4. HANDBOEK BY DIE BYBEL. 1986. Lux Verbi: Kaapstad.
  5. DEIST, F.E. (red.). 1981. Van Eden tot Rome. J.L. van Schaik: Pretoria. pp.28-57.
  6. HARTIN, P.J. 1977. The Word endures forever. Patrick J. Hartin: Johannesburg.
  7. PEARLMAN, M. 1935. Through the Bible book by book Part 1 O.T. Genesis – Esther. Gospel Publishing House: Springfield.
  8. DIE BYBEL IN PRAKTYK NAV. 1993. CUM: Vereeninging.
  9. SPIRIT FILLED LIFE BIBLE (NKJV). 1991. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  10. STRONG, J. Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible. Hendrickson: Peabody, Massachusetts.
  11. Hayford, J.W. (ed.). 1995. Hayford’s Bible Handbook, Placement of tribes in the Israelite encampment. Thomas Nelson Publishers: Nashville.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.