Search This Blog

Friday 21 July 2017

Eensgesindheid


Wat is die bewys wat hierdie wêrekd het dat ons kinders van God is? Watter bewys het ons dat ons 'n Goddelike mandaat of opdrag het? Waaraan sal hulle weet dat ons God ken, en deur God geken word? Jesus het hierdie vrae so effektief geantwoord toe Hy vir Sy dissipels gebid het in die Tuin van Getsemane. Tog het Hy nie net vir Sy dissipels gebid nie - Hy het ook vir elke gelowige wat sou kom gebid. Johannes 17:20 maak dit duidelik dat ek en jy ook by hierdie gebed ingesluit is:
"Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir diè wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom."
So, wat is die antwoord op die vrae? Verse 21-23 maak dit duidelik.
"Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het."
Hier staan dus dat ons eensgesindheid onder mekaar, en met die Vader en Jesus, as bewys dien vir die wêreld dat Jesus van God kom, met 'n reddingsboodskap en -plan wat van God kom, en dat Hy nie net nog 'n selfgepromoveerde bedrieër en 'con artist' was/is nie. Ek het oor die afgelope paar maande baie te doen gekry met die onenigheid tussen die musikante (en ander gemeentelede) van 'n kerk hier in die omgewing. Hierdie vers het my laat skrik. Effektief, beteken dit dat hierdie onenigheid wat tussen die gemeentelede bestaan, die bewyse vernietig wat die wêreld het dat die Vader vir Jesus gestuur het. Ons struwelinge en argumente met mekaar maak dit vir mense moeilik (onmoontlik?) om te glo in Jesus! Kom ons lees verder.
"Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons Een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet."
Hoe is dit moontlik om eengesind met God die Vader en Jesus Christus te leef, as ons nie eensgesind met mekaar kan leef nie? Hoe kan die wêreld glo in God se liefde, as ons nie eens liefde teenoor mekaar kan demonstreer nie? Die Vader het Jesus na die wêreld toe gestuur sodat Hy vir ons 'n voorbeeld kon stel van wat dit behels om in liefde met mekaar saam te leef. Sy voorbeeld het behels dat Hy Homself gekruisig het sodat ons almal kan lewe.
Ons word so gereeld touwys gemaak dat dit belangrik is om vir Nr. 1 uit te kyk, maar dis nie die voorbeeld wat Jesus gestel het nie. Hy het nie Homself verneder omdat Hy gedink het iemand anders het meerdere kennis, 'n meerdere posisie, meer aansien, meer geld, meer mag, meer charisme, of enige iets anders nie. In al hierdie dinge was Jesus die meerdere, of kon dit wees as Hy dit so sou kies. Nee, Hy het Homself gekruisig/afgelê omdat dit is wat liefde doen. Liefde offer homself op vir diegene vir wie hy omgee. Liefde stel ander bo homself. Liefde wil sien dat ander uitstyg en meer word as wat hulle is. Liefde soek die beste vir mekaar.
Lees gerus weer Paulus se beskrywing van wat liefde is in 1 Korintiërs 13. Let ook op na wat liefde nie is nie.
Laat my weer terugkom na my oorspronklike vrae rakende bewyse. As ek en jy in 'n laboratorium gewerk het waar bewyse hanteer is wat voor die hof gelê moes word, hoe sou ons werksetiek daar uitsien? Sou hulle bevind dat ons met omsigtigheid met die bewyse omgaan, en sorg dat dit sterk is? Of sou hulle vind dat ek en jy besig is om die bewyse van die waarheid rondom Jesus te vernietig, omdat ons so ingestel is daarop om onsself te laat geld en ons eie sin te kry, dat Jesus se getuienis tweede plek ingeneem het teenoor ons eie belange? Kom ons lees ten slotte die laaste vers in Johannes 17:
"Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle."
Sonder liefde is dit moeilik om enige iemand, hetsy in die wêreld of 'n mede-gelowige, te oortuig dat ons enige deel het aan Jesus.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment