Search This Blog

Wednesday 1 March 2017

Bybel Legkaart: Sinopsis van Bybelkunde Deel 2


Ons het vroëer met 'n reeks begin waarin ons poog om die inhoud van die Bybel te ontsluit op 'n manier wat dit makliker om die boek te verstaan. In die eerste dele van die reeks, fokus ons op die totstandkoming van die Bybel, asook verskillende metodes waarop die Bybel gelees en geïnterpreteer kan word. Vanaf die derde deel sal ons dan die Bybelboeke een vir een bekyk.

AFDELING A: SINOPSIS VAN BYBELKUNDE

Deel 2

Uitleg en ontsluiting van die Bybel
    1. Moderne vertalings van die Bybel
    2. Hulpmiddels tot die ontsluiting van die Bybel
    3. Samestelling van die Bybel
    4. Tydlyn van die Bybel
    5. Die Tussen-Testamentêre tydperk
    6. Toepassing
    7. Bibliografie

2.1 Moderne vertalings van die Bybel
Dit is sterk aan te beveel dat die leser eers die inleiding en/of voorwoord tot ‘n betrokke Bybel sal bestudeer voor die Bybel gekoop of gelees word. So ‘n lees kan lig werp op die totstandkoming en vertaling van die betrokke Bybel. Dit is veral van nut by Bybels waarmee die leser onbekend is (om die outoriteit van die boek te bepaal) en by studiebybels (om bekend te word met ingeslote hulpbronne). Daar is ‘n groot verskeidenheid moderne vertalings van die Bybel op die mark. Ons gaan na enkele Engelse en Afrikaanse weergawes kyk.

Engelse vertalings sedert 1901:
  • The Revised Standard Version (RSV): ‘n Hersiening van die American Standard Version.
  • The Berkley Version: Vertaal uit Grieks en Hebreeus, onder toesig van Gert Verkuyl, m.b.v ‘n span kundiges.
  • The Amplified Bible: Vertaal uit Grieks en Hebreeus. Woorde en frases se betekenisse word duideliker gemaak d.m.v. verduidelikings wat in hakies in die teks ingevoeg is. Notas is ook ingewerk om moeilike gedeeltes te verduidelik.
  • The Jerusalem Bible: ‘n Rooms Katolieke vertaling. Oorspronklik in Frans vertaal (La Bible de Jerusalem). Die naam “Jahweh” word gebruik. Apokriewe boeke is ingesluit.
  • The English Bible: ‘n Moderne Engelse vertaling uit Grieks en Hebreeus. Gedruk in enkel kolom formaat. Sluit apokriewe boeke in.
  • The New American Standard Bible (NASB): ‘n Hersiening van die ASV. Die Grieks en Hebreeuse tekste word gebruik in die hersiening.
  • The Living Bible (TLB): Dis ‘n parafrasering van die Bybel, deur Kenneth N. Taylor, na eenvoudige, moderne Engels.
  • Today’s English Version (TEV), ook genoem die Good News Bible: ‘n geparafraseerde vertaling uit Grieks, Aramees en Hebreeus na kontemporêre Engels. Die teks lees natuurlik en eenvoudig.
  • New International Version (NIV): Vertaal uit die oorspronklike tale deur kundiges herkomstig uit verskeie lande.
  • The New King James Version (NKJV): ‘n Hersiening van die KJV, waarin gepoog word om lg. se integriteit te bewaar, maar steeds te verbeter op die vorige weergawe. Geskryf in kontemporêre Engels.
  • The New Revised Standard Version (NRSV): ‘n getroue vertaling en opdatering van die RSV deur kundiges oor ‘n tydperk van 15 jaar.
  • Contemporary English Version (CEV): ‘n Parafrase uit Grieks en Hebreeus vertaal in kontemporêre Engels. Gerig op die verstaansbehoeftes van die leser.
  • The Message: ‘n Parafrase, vertaal uit Grieks en Hebreeus in spreektaal-Engels om die verstaan van die teks vir die leser op te klaar.
Afrikaanse vertalings:
  • Die Bybel (OAV): 1933. Vertaal uit die Statebybel, Textus Receptus, KJV en Grieks en Hebreeuse manuskripte. Hierdie vertaling is hersien in 1953.
  • Die Nuwe Vertaling (NAV): 1983. Vertaal uit Grieks en Hebreeus. Vertaling is reeds in 1970 begin. Die vertalingsproses poog om tred te hou met Afrikaanse taalontwikkelings en met die resultate van wetenskaplike ondersoek.
  • Die Lewende Bybel: 1982. ‘n Parafrase. Die eerste nie-amptelike Bybelvertaling in gebruiks-Afrikaans, vertaal uit Grieks en Hebreeus. Die styl is deur The Living Bible geïnspireer, maar dis nie slegs ‘n Afrikaanse vertaling van diè Bybel nie.
  • Die Boodskap: 1999. Parafraseer die vertaling uit die Grieks en Hebreeus. Konsentreer op die boodskap van die teks, eerder as op die woord-vir-woord vertaling. Die werk van Jan van der Watt en Stephan Joubert.
  • Die Multivertaling Bybel: 2004. Bevat die teks van die 1983 NAV en sluit alternatiewe Afrikaanse vertalings, wat beoog om die leser vertaal-insigte in die grondtale van die Bybel te gee.
  • Die Bybek in Praktyk: 1993. Studiebybel geskoei op die 1983 vertaling met bygewerkte inligtingstukke om die chronologie, totstandkoming, plekke, teks, ens. van die Bybel te verduidelik. Dit sluit ook 'n konkordansie in.

2.2 Hulpmiddels tot die ontsluiting van die Bybel
Moderne Bybellesers het toegang tot ‘n verskeidenheid hulpmiddels en media wat daarin poog om die teks en boodskap van die kanon te ontsluit. Enkeles wat genoem kan word is:
  • Verskillende Bybelvertalings
The Comparitive Study Bible: NIV, Amplified, KJV en NASB. Die teks van die Bybel word in vier kolomme langs mekaar gerangskik, sodat die teks van al vier vertalings op twee bladsye langs mekaar verskyn om vergelyking van die inhoud te vergemaklik.
Daar is nog soortgelyke Bybels beskikbaar met ander tekste en vertalings in kolomme langs mekaar gerangskik.
  • Konkordansies
Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible: Poog om elke woord in die algemene Engelse Bybel weer te gee in die orde van voorkoms in die Bybel. Sluit Hebreeuse en Griekse woordeboeke in met numeriese verwysings na die Engels.
Afrikaanse Bybelkonkordansie: Woordelys in orde van voorkoms in die Bybel. Twee uitgawes – OAV en NAV.
  • Bybelwoordeboeke
Smiht’s Bible Dictionary: Meer as 6 000 gedetailleerde definisies, artikels en illustrasies.
  • Bybelse ensiklopedieë
Die Bybelse Ensiklopedie: Dit is ‘n suiwer wetenskaplike bron wat in maklik verstaanbare Afrikaans geskryf is, sodat dit deur die algemene Bybellesers benut kan word. Dit is alfabeties gerangskik om gebruik te vergemaklik.
  • Bybelse atlasse
The Macmillan Bible Atlas: 262 kleurkaarte met geïntegreerde teks. Dui godsdienstige, politieke, militêre en ekonomiese gebeurtenisse aan. Sluit Ou Testamentiese, Tussen-Testamentêre sowel as Nuwe Testamentiese tydperke in.
  • Handboeke tot die Bybel
Handboek by die Bybel: 534 bladsye met teksverklarings oor elke boek in die Bybel. 66 artikels oor die agtergrond van die Bybel. 437 foto’s wat die Bybel visueel uitbeeld. 68 kaarte. 28 tabelle en sketse wat die geskiedenis en agtergrond van die Bybel oopstel. ‘n Tematiese naslaangedeelte ingerig volgens mense, plekke, gebeurtenisse en temas.
Die Bybel A tot Z: Omsluit die inhoud van elke Bybelboek, kaarte, lewenstemas, tydlyne, diagramme en foto’s, interessante agtergrondsgebeure, inligting oor resente probleme en teologiese interessanthede, Bybelstudies, ‘n eenjaar-bybelleesprogram en ‘n omvattende woordelys. Beslaan 850 bladsye.
  • Verklarings en Kommentare
Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible: ‘n Poging om die teks van die Bybel te verklaar en uit te lê, sodat selfs die leek dit kan verstaan.
  • Studiebybels
The Daily Bible in Chronological Order (NIV)
The New Open Bible Study Edition (NKJV)
Spirit Filled Life Bible (NKJV)
The Thompson Chain Reference Bible (KJV)
Dake’s Annotated Bible
Die Bybel in Praktyk (NAV)
  • Bybelse vakliteratuur
Daar is so ‘n wye verskeidenheid dat dit nie sal deug om enkele boeke uit te lig vir die doel van hierdie bespreking nie.
  • Laserskyfpakette
Interaktiewe Bybel CD: ‘n CD-ROM met meer as 33 Bybel-naslaanwerke. ‘n Search engine met hyperlinks na die Internet maak deel uit van die pakket.
Nelson’s Ultimate Bible Reference CD-ROM: 115 gedrukte titels en 8 Bybelvertalings maak deel uit van hierdie sagteware pakket. Dit het ook ‘n search engine en hyperlinks na die Internet. Die pakket laat ook toe dat die Interaktiewe Bybel CD ge-‘access’ kan word vanuit die program, met die implikasie dat beide die Engelse sowel as die Afrikaanse bronne in een soektog deursoek kan word.
  • Internet
www.e-sword.net : Verskaf gratis literatuur en Bybelstudie hulpbronne in ‘software’-formaat. Donasies kan vrywillig gemaak word.
  • Bybel op kasset/laserskyf
NIV Audio Bible: Die hele Bybel voorgelees op 64 laserskywe.
  • Vakkundiges
Pastore, dominees, teoloë, ens. kan gekontak word om insig rondom problematiese sake te kry. Kontak gerus die naaste kerkkantoor. Let egter daarop dat selfs die mees belese en ervare predikant steeds net ‘n mens is en daarom feilbaar is. Moet nie hierdie persoon se feilbaarheid verwar met God se opregte belangstelling en onfeilbaarheid nie.

2.3 Samestelling van die Bybel
Die woord Bybel beteken Boek. Die Bybel is saamgestel uit 66 verskillende boeke, wat ingedeel word in twee hoofdele, nl. die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die Ou Testamentiese geskiedenis eindig ongeveer 400 jaar voor die geboorte van Christus – die koms van die Messias. Die Nuwe Testament handel oor gebeure tot ongeveer 100 jaar na die geboorte van Christus, ‘n periode wat die vestiging en verspreiding van die vroeë kerk(e) insluit.

Die Ou Testament dui op die verhouding tussen God en mens, omvat deur ‘n unieke stel reëls en regulasies. Dus, ‘n testament met unieke stipulasies. Die Nuwe Testament dui enersyds op die verhouding tussen God en mens, maar volgens ‘n 'nuwe' verdrag/ooreenkoms.

n Testament kom in vervulling wanneer die testateur te sterwe kom. Christus se (aardse) sterwe bring die Ou Testament in vervulling. Die Nuwe Testament kom in vervulling wanneer hierdie sondige bedeling “te sterwe kom.” Hierdie is slegs ‘n gebrekkige poging tot ‘n verduideliking vir die gebruik van die woord testament by die indeling van die Bybel. Die term “testament” is ‘n misleidende term. Dit impliseer dat die Ou Testament nie meer ter sake is noudat daar ‘n Nuwe is nie. Dis ver van die waarheid aangesien die twee Testamente wedersyds van mekaar afhanklik is. Die verhouding van die twee testamente tot mekaar sal gedurende die res van die studie verder uitgelig word.
      1. Samestelling van die Ou Testament
Die Ou Testament is saamgestel uit 39 boeke. Die boeke word op hul beurt weer ingedeel in vier genres:
      1. Die Wetboeke
      2. Die Historiese boeke
      3. Poësie en Wysheidsliteratuur
      4. Die Profetiese boeke
Die Wetboeke
Die eerste vyf boeke van die Bybel staan bekend as die Pentateug. Tradisionele opvattings hou voor dat dit deur Moses opgeteken is. Hierdie vyf boeke (Tora) is die mees outoritêre boeke volgens Judaïsme.
Dit sluit in: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium.

Die Historiese boeke
Die verhalende skryfstyl en inhoud van hierdie twaalf boeke, bepaal die genre se benaming:
Josua; Rigters; Rut; 1 & 2 Samuel; 1 & 2 Konings; 1 & 2 Kronieke; Esra; Nehemia en Ester word hierby ingesluit.

Poësie en Wysheidsliteratuur
Die vyf boeke wat tot hierdie groep hoort, word so ingedeel op grond van hul inhoud en/of
literêre styl: Job; Psalms; Spreuke; Hooglied en Prediker.

Die Profetiese boeke
Die profetiese boeke kan in twee groepe verdeel word; die vyf Groot Profete en die twaalf Kleiner Profete. Diè indeling word gedoen op grond van die omvang (lengte) van die boeke.
Die Groot Profete sluit in: Jesaja; Jeremia; die Klaagliedere van Jeremia; Esegiël en Daniël.
Die Kleiner Profete sluit in: Hosea; Joël; Amos; Obadja; Jona; Miga; Nahum; Habakuk; Sefanja; Haggai; Sagaria en Maleagi.
Die boek Daniël se laaste hoofstukke hoort ook tot die groepering apokaliptiese literatuur, wat handel oor eindtyd voorspellings wat op een of ander mistieke wyse onthul is.

      1. Samestelling van die Nuwe Testament
Die Nuwe Testament is saamgestel uit 27 boeke. Die boeke word op hul beurt weer ingedeel in vyf genres:
      1. Biografiese boeke
      2. Historiese boeke
      3. Pauliniese sendbriewe
      4. Algemene sendbriewe
      5. Apokaliptiese literatuur
Biografiese boeke
Die eerste vier boeke van die Nuwe Testament word hierby ingesluit: Matteus; Markus; Lukas en Johannes. Die boeke handel oor die lewe en leringe van Jesus Christus. Lukas is in briefvorm geskryf.

Historiese boeke
Slegs een boek hoort tot die groep, nl. Handelinge. Dit handel oor die uitbreiding en vervolging van die vroeë Christelike kerk. Handelinge is in die vorm van ‘n brief geskryf.

Pauliniese sendbriewe
Paulus is die outeur van hierdie 14 briewe. Die briewe word gerig aan kerke in die omgewing van Klein-Asië, sowel as individue. Die boeke sluit in: Romeine; 1 & 2 Korintiërs; Galasiërs; Efesiërs; Filippense; Kolossense; 1 & 2 Tessalonisense; 1 & 2 Timoteus; Titus; Filemon en Hebreërs. Twyfel bestaan of Paulus wel die outeur van Hebreërs was.

Algemene sendbriewe
Diè sewe briewe is deur vier verskillende outeurs geskryf, waarvan twee moontlik halfbroers van Jesus Christus was. Dis nes Paulus se briewe gerig aan individue of gemeentes. Dit sluit die volgende briewe in: Jakobus; 1 & 2 Petrus; 1, 2 & 3 Johannes en Judas.

Apokaliptiese literatuur
Streng gesproke is die boek van Openbaring ook ‘n brief. Dit word egter vanweë die apokaliptiese aard daarvan apart gegroepeer.

2.4 Tydlyn van die Bybel
Die datums op hierdie tydlyn is slegs by benadering. Argumente bestaan rakende verskeie van die gegewe datums.

4000 vC.
Adam

2500 vC.
Noag

2000 vC.
Abraham

1914 vC.
Josef

1500 vC.
Moses

1445 vC.
Eksodus

1405 vC.
Begin v. d. inname v. Kanaän

1398 vC.
Begin v. d. Rigterstydperk

1043 vC.
Saul

1000 vC.
Dawid en Salomo

931 vC.
Skeuring v.d. Ryk

852 vC.
Elia en Elisa

721 vC.
Assirië verslaan Israel

586 vC.
Babilonië verslaan Juda

516 vC.
Terugkeer uit ballingskap

500 vC.
Esra

432 vC.
Maleagi

6 vC.
Geboorte van Jesus

33 nC.
Uitstorting van die Heilige Gees
Die kerk in Jerusalem
35 nC.
Stephanus
Die kerk in Judea en Samaria
48 nC.
Sendingreise

70 nC.
Val van Jerusalem
Die kerk aan die uithoeke van die wêreld.
100 nC.
Johannes sterf


2.5 Die Tussen-Testamentêre tydperk
Tussen die geskiedenis van die Ou Testament en die Nuwe testament lê ‘n stilte van ongeveer 400 jaar. Dis belangrik om ingelig te wees omtrent die geskiedenis van hierdie tydperk, aangesien dit lig werp op die verstaan van die Nuwe Testament. Enkele bronne waaruit ons inligting oor hierdie tydperk kan inwin is:
  • Die Bybel: Daniël en Klaagliedere dateer waarskynlik uit hierdie tydperk. Ander Bybelboeke werp ook geringe lig op die tydperk.
  • Die apokriewe boeke van die Ou Testament: Hierdie boeke word nie algemeen deur die kerk as gesaghebbend en geïnspireerd beskou nie. Dit het gedurende die tussen-testamentêre tydperk tot stand gekom en bevat as sulks waardevolle inligting rakende hierdie tydperk. Die apokriewe (Deutero-kanonieke) boeke sluit in: 3 & 4 Esra; Tobias; Judit; Wysheid van Salomo; Wysheid van Jesus Sirag; Barug; byvoegings tot Ester; die gebed van die drie manne in die vuur; die geskiedenis van Susanna; Bel en die Draak; die gebed van Manasse; 1&2 Makkabeërs en byvoegings tot Daniël.
  • Die pseudopigrafiese geskrifte: Dis boeke wat deur onbekende persone geskryf is, maar onder die naam van bekende persone uitgegee is. Dit het aan die boeke gesag verleen en terselfdertyd die skrywer beskerm teen politieke en ander vervolging. Dit het veral betrekking op apokaliptiese literatuur uit die tweede eeu vC. ‘n Onvolledige lys sluit in: 4 Esra; Henog; Openbaring van Barug; die Joodse gedeelte van die Sibellyne boeke (‘n Romeinse versameling orakelspreuke wat die gedagtewêreld van die era ontsluit); die testamente van die twaalf patriarge; die boek van die Jubilee; die fragmente van die Sadokiete; die brief van Aristeas; die psalms van Salomo; die martelaarskap van Jesaja; die hemelvaart van Jesaja; en die hemelvaart van Moses.
  • Die Kumran geskrifte: Die biblioteek is in 1947 in grotte naby die Dooie See gevind. Dis waarskynlik deur ‘n Esseense sekte versamel. Dit bied veral insig in die teks en taal van die Ou Testament, asook die gedagtewêreld van sekere groepe uit die tussen-testamentêre tydperk.
  • Filo van Alexandrië: 20-50 vC. ‘n Hellinistiese Jood wat insig bied in die denke van destydse Jode onder Griekse invloed.
  • Flavius Josefus: 37-95 nC. ‘n Joodse Fariseër uit die Levitiese geslag. ‘n Ooggetuie van sy era en ‘n geskiedskrywer wat die Ou Testament en algemene geskiedeniswerke van sy tyd gebruik om sy boeke te skryf.
  • Griekse en Latynse historici: Terloopse opmerkings in hul bronne verleen soms waardevolle inligting.
  • Die amptelike Joodse literatuur: Die Mishna en die Talmoed verleen waardevolle agtergrondkennis, indien dit oordeelkundig gebruik word.
  • Die kerkhistorici: Christelike geskiedskrywers vanuit die eerste drie eeue nC. bied waardevolle inligting.
  • Argeologiese getuienis: verskaf insig in lewens- en kulturele patrone en ontwikkelings gedurende bepaalde tye.
‘n Benaderde tydlyn van die Tussen-Testamentêre tydperk:

587-539 vC.
Babiloniese Ryk
538-332 vC.
Persiese Ryk
331-200 vC.
Grieks-Masedoniese Ryk
198-141 vC.
Die Siriese Ryk en die Makkabese opstand
142-63 vC.
Die Hasmonese Ryk
63 vC. – 135 nC.
Die Romeinse Ryk
Du Plessis en Lategan (1983) beklemtoon die belangrikheid van hierdie periode wanneer hulle sê dat “wie hierdie agtergrond van die Nuwe Testament veronagsaam, sal nooit ten volle sy boodskap ten opsigte van die persoon van Jesus Christus verstaan nie.” (Spesifiek verwysend na die Joodse apokaliptiek).

2.6 Toepassing
  1. Ek beoog om meer omtrent die volgende onderwerpe uit te vind:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. Om my studie van die Bybel te verbreed, beplan ek om die _________________________ Bybel aan te skaf.
  2. Ek gaan vir myself die volgende hulpmiddels tot Bybel-ontsluiting aankoop:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. Ek beplan om die Bybel sistematies deur te werk. Ek beplan om by _____________________ (naam van boek) te begin. Ek beoog om __________ (hoeveelheid) hoofstukke per dag te lees. Ek behoort die boek in _____ dae te voltooi. Begindatum: ________________________. Die tyd van die dag wat ek eenkant gaan sit vir Bybelstudie: ______________ tot _____________.(Voorstel: Trek ‘n vel papier nader en beplan hoe jy die hele Bybel sistematies gaan deurwerk).
2.7 Bibliografie
  1. THOMPSON, F.C. 1988. The Thompson Chain Reference Bible 5th ed. B.B. Kirkbride Bible co., inc.: Indianapolis.
  2. VISUAL Survey of the Bible. 1990. The New Open Bible Study Edition, New King James Version. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  3. DU PLESSIS, P.J. en Lategan, B.C. 1983. Agtergrond en geskiedenis van die Nuwe Testament. Academica: Pretoria/Kaapstad, pp. 15-50.
  4. THE DAILY BIBLE (NIV). 1984. Harvest House Publishers: Eugene, Oregan.
  5. SPIRIT FILLED LIFE BIBLE (NKJV). 1991. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  6. COMPARATIVE STUDY BIBLE (NIV; Amplified; KJV & NASB). 1999. Zondervan: Grand Rapids, Michigan.
  7. DIE BYBEL, nuwe vertaling. 1983. Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Kaapstad.
  8. HANDBOEK BY DIE BYBEL. 1986. Lux Verbi: Kaapstad.
  9. AFRIKAANSE BYBELKONKORDANSIE, nuwe vertaling. 1996. CUM:Vereeniging.
  10. AHARONI, Y. en Avi-Yonah, M. 1968. The Macmillan Bible Atlas. Collier-Macmillan Canada Ltd.: Toronto, Ontario.
  11. DIE BYBEL. 1933. Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Kaapstad.
  12. STRONG, J. Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible. Hendrickson: Peabody, Massachusetts.
  13. VAN DER WATT, J. en Joubert, S. 2000. Die Radikale Jeugboodskap. CUM: Vereeniging.
  14. CONTEMPORARY ENGLISH VERSION. 1995. Bible Society of South Africa: Kaapstad.
  15. DIE BYBEL IN PRAKTYK NAV. 1993. CUM: Vereeniging.
  16. Smith, W. 1893. A Dictionary of the Bible. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  17. VAN DER WATT, J. (red.). 2003. Die Bybel A tot Z. CUM: Vereeniging.
  18. DIE LEWENDE BYBEL. 1982. CUM: Roodepoort.
  19. KÖNIG, A. 2002. Ek glo die Bybel – ondanks al die vrae. Lux Verbi: Wellington. GISPEN, W.H. e.a. (red.). 1977.
  20. Bybelse Ensiklopedie, tweede hersiene uitgawe. Die Verenigde Protestantse Uitgewers: Kaapstad.
  21. MATTHEW HENRY’S COMMENTARY ON THE WHOLE BIBLE. 1991. Hendrickson Publishers.
  22. NIV AUDIO BIBLE. Zondervan.
  23. Interaktiewe Bybel CD. 2002. Lux Verbi en Logos Information Systems.
  24. Nelson’s Ultimate Bible Reference CD-ROM. 2003. Thomas Nelson Inc. en Libronix Digital Library System.
  25. Die multivertaling bybel. 2004. Christelike Uitgewesmaatskappy: Vereeniging.
Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment