Search This Blog

Sunday 5 March 2017

Wat staan in die pad van jou gesprek met Jesus?


Elkeen van ons het iets wat in die pad staan van ons verhouding met God. Sommige van ons het die sake reeds geïdentifiseer en dit uit die weg geruim. Ander, kon dit eien, maar dit nie agter hulle sit nie. Nog ander het nie eens 'n idee wat dit is, en of daar so iets is nie. Ek wil vandag so 'n ent saam met jou stap deur Johannes 4 waar ons Jesus teëkom waar Hy sagkens vir iemand bewus maak daarvan, haar help om dit uit die weg te ruim en dan uiteindelik 'n lewens-veranderende gesprek met haar voer.
Ons vind Jesus waar Hy oppad is na Galilea, maar Sy roete neem Hom deur Samaria.
Hy kom toe by ’n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.
Hierdie verse skep vir ons die agtergrond van die verhaal. In die historiese konteks van die Samaritane, was hierdie area 'n godsdienstige twispunt wat hulle met die Jode gehad het. Die twee bevolkingsgroepe se kulture was nou aan mekaar verweef, en so ook hulle godsdiens. Tog het elkeen geglo dat sy eie interpretasie en weergawe van die feite korrek was.
Daar kom ’n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.
Jesus het ver gereis en was so moeg dat Hy net daar by die put bly sit en wag het tot die dissipels kon terugkom met fisiese versterkings vir sy liggaam, m.a.w. kos. Dis belangrik om te snap dat Jesus se fisiese behoeftes hier groot was en pertinent in Sy gedagtes moes gewees het. Tog, gebruik Hy dit slegs as 'n aanknopingspunt om by meer belangrike sake uit te kom, wanneer Hy met die Samaritaanse vrou begin gesels.
Daar is twee sake wat in hierdie vrou se pad staan wanneer Jesus 'n gesprek met haar aanknoop. Die eerste is die feit dat sy 'n vrou is. Die tweede is haar herkoms. Beide hierdie twee objeksies het ek al meermale by mense teëgekom in my lewe, wanneer ek met hulle praat.
Ek het al met menige vrou in gesprek getree wat aggressief gereageer het teenoor God, omdat Hy mans oënskynlik bo vroue verkies. Hulle sal verwys na die Bybelse verhale, wat deur mans gedomineer word. Hulle sal na die manlike aapsreekvorme van God verwys. Sommiges het al selfs so ver gegaan as om hierdie aanspreekvorme te verander na die vroulike.
Dan is daar ook mense met wie ek in gesprek tree, wat onmiddellik by my wil weet wat Jesus se velkleur is/was. Dis interessant om te weet dat daar mense onder alle bevolkingsgroepe (van alle kleure) is wat aanstoot neem van Jesus omdat Hy wit was (slegs 'n historiese aanname!).
Ek wil nie in argumente rondom hierdie sake betrokke raak nie, net soos Jesus ook nie toegelaat her dat die Samaritaanse vrou Hom in so 'n argument betrek nie. Ek gebruik hierdie gedeelte slegs as voorbeeld van twee sake, wat ons eie kwessies is, wat ons as verskoning gebruik om 'n wig tussen onsself en God in te stoot. Elkeen van ons het nodig om die verantwoordelikheid op onsself te neem om ondersoek te gaan instel na die sake wat ons van God verwyder. Miskien is jou kwessies in die bostaande gedeelte aangespreek. Moontlik het jy ander sake wat in die oë gekyk moet word. Kan ek enkele dinge noem wat ek al teëgekom het in my gesprekke met mense? Molestasie, verkragting, seksuele oriëntasie, egskeiding, verwerping, jou verlede, diere in die Hemel, politiek, ens. Daar is heeltemal te veel kwessies in die komplekse samestelling van mense om te hoop om alles te kan opnoem. Moenie toelaat dat hierdie goed 'deal breakers' word in jou verhouding met God nie. Moet veral nie die skuld dan by Hom gaan lê nie. Kom ons kyk hoe Jesus reageer toe hierdie vrou Hom konfronteer met die skuld van ander, as sy vir Jesus sê dat haar geslag en nasionaliteit behoort Hom te weerhou om met haar te praat.
Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Jesus, saam met die Heilige Gees, is God se gawe vir die mensdom. Onthou jy Johannes 3:16 wat sê dat Hy Sy Seun GEGEE het? Lees ook gerus Lukas 24:45 wat sê dat Jesus vir ons die Heilige Gees as gawe sal stuur. Jesus reageer m.a.w teenoor hierdie vrou, soos wat dit sin maak, alhoewel dit op die oog af mag voorkom asof hy haar vraag omseil. Hy sê vir haar dat as sy Hom geken het, sou sy nie gedink het aan verskonings om 'n afstand tussen hulle te skep nie. As sy Hom geken het, sou sy meer by Hom gesoek het as dit waarvoor Hy haar vra. As sy Jesus geken het, sou sy geweet het dat Hy die een is wat haar eie lewe kan sin gee.
Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?
Die vrou is nog nie verby al haar kwessies nie. Nou stoot sy menslike argumente (fisika) in die pad. Sy wil hê Jesus moet op 'n menslike manier sin maak vir haar. Sy stoot ook die godsdienstige argumente tussen die Jode en die Samaritane in die pad van haar en Jesus se verhouding.
Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
Jesus is baie geduldig om vir haar duidelik te maak dat haar aardse en menslike kwessies nie soveel gewig dra by Hom, dat dit verwydering hoef te bring tussen hulle nie. Hy vee die kwessies eenvoudig uit die pad as die nietighede wat hulle vir God is, en maak dit duidelik aan haar dat Hy haar nie verwerp nie, dat hierdie goed Hom nie uit haar lewe kan hou nie, en dat Hy steeds begeer om in haar lewe te wees. Letterlik, om haar met Sy Gees te vul en inwonend deel van haar lewe te wees!
Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.
Op hierdie stadium besef die vrou uiteindelik dat Jesus meer het om haar te bied, as die skuiling wat sy agter haar verskonings gevind het.  Sy ontwikkel ineens 'n dors na Jesus, wat net Hy kan les.
Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier.
Het Jesus nou weer die onderwerp verander? Waarom spreek Hy nie net 'n seën oor haar uit, of bid dat sy met die Gees vervul sal word nie? Hierdie antwoord kom vir ons vreemd voor. Tog het Jesus iets gesnap wat ons nog nie verstaan nie. Vir hierdie vrou om die Gawe te ontvang wat Jesus is, moet sy eers by sonde-besef en erkenning uitkom. Jy kan jou nie bekeer as jy nie jou sonde in die oë kan kyk nie. Jesus lei haar sagkens na die saak wat aan die kern van haar menswees lê.
Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ’n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ’n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.
Die vrou se antwoord is nie 'n belydenis van skuld nie. Haar antwoord vermy eerder die onderwerp. Om nie 'n man te hê nie, kan enige iets beteken. Jesus laat Hom egter nie deur haar antwoord fnuik nie. Hy veroordeel nie. Ek noem dit pertinent, want ek het hierdie gedeelte al te veel kere buite konteks aangehaal gehoor, en gewoonlik gepaardgaande met die woorde dat Jesus vir haar gesê het om nie verder te gaan sondig nie. Hy sê dit nooit in hierdie gedeelte nie. Die gedeelte word te gereeld verwar met die keer toe die mense die owerspelige vrou wou stenig, en Jesus in die stof geskryf het (Johannes 8:3-9). Jesus maak geen uitspraak oor reg en verkeerd hier nie. Dis net nog 'n kwessie wat nie in Sy pad kan staan om 'n verhouding met die vrou te hê nie. Dis nie belangrik of dit seerkry, keuses, arrogansie, 'n sameloop van omstandighede, of wat ook al was, wat gemaak het dat sy 'n reeks mans in haar lewe gehad het nie. Wat belangrik is, is dat Jesus dit weet, en verstaan, en dat Hy dit vergewe. Hy vee dit ook uit die pad, hetsy dit seerkry is wat moet genees, of sonde wat bely moet word, die pad tussen Jesus en die vrou word skoongemaak in hierdie woorde. Jesus ken haar, en ten spyte daarvan (of as gevolg daarvan?) wil Hy 'n verhouding met haar hê, waarin sy Hom sal toelaat om sy Heilige Gees in haar uit te stort.
Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ’n profeet is. Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.
Die vrou herken Jesus se gesag in die intieme kennis wat Hy van haar en haar verlede het. Sy bevind haar nou voor 'n geloofskrisis. Haar Samaritaanse godsdiens het twispunte met diè van die Jode. Sy het nou nodig om oor hierdie struikelblok te kom.
Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Jesus antwoord haar dat die belang van die plek van aanbidding besig is om tot niet te gaan. Ons weet dat na Jesus se dood, en met die uitstorting van die Heilige Gees, het ons liggame die tempel(s) geword waar God woon en dat ons nou lewens van aanbidding moet leef, eerder as om sporadiese besoeke af te lê by heilige plekke. Jesus verwys dus hier na 'n nabye toekomstige tyd waar aanbidding anders gaan plaasvind, as wat dit tot nou toe die geval was. Dan is dit nie meer belangrik of die Jode of die Samaritane die geografiese ligging korrek het nie. Tog, maak Hy dit ook duidelik dat die Jode die uitverkorenes is/was om die waarheid met ander te deel. Dis belangrik, want daarmee verleen Hy gesag aan die Ou Testament (soos ons dit vandag ken) wat heenwysend is na Christus self.
Daarna kom Jesus terug na die gedagte dat Hy 'n nuwe era van aanbidding inlui, waar plek nie meer belangrik is nie, maar 'n vereeniging met God d.m.v. God se inwonende Heilige Gees, asook eerlikheid en opregtheid in hierdie verhouding met God. Moet dus nie die waarheid probeer vermy (sugarcoat) wanneer jy met God praat nie. Dink aan die vrou se woorde wat waar is, maar nie by die waarheid uitkom nie, as sy sê dat sy nie 'n man het nie. Jesus erken die waarheid van die stelling, maar wys daarop dat daar meer agter hierdie woorde steek. Om nou skielik weer agter een van daai veilige skanse te gaan wegkruip, in hierdie geval godsdienstige verskille, gaan nie keer dat God die volle waarheid van jou ken nie. Jy kan dus net sowel eerder 'n ten volle eerlike en opregte geprek met Jesus voer waarin jy nie agter skanse wegkruip nie. Dan alleen, kan Hy vir jou doen wat jy nie vir jouself kan doen nie - Hy kan jou 'n fontein van opborrelende water maak, waar jy nooit weer dors sal hê in hierdie lewe nie, en ook nie jou dors op verkeerde plekke sal gaan les nie.
Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!
Die vrou kom uiteindelik by die kern van die saak uit. Sy weet van die verwagte Messias (Redder). Kan die Redder dalk Jesus wees? Sy toets om uit te vind. Jesus antwoord bevestigend dat Hy die Redder is. Haar verwagting/smagting en die oplossing/antwoord kom hier by mekaar uit.
En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met ’n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar?
Ek hou van hierdie getuienis rondom Jesus. Dit bly vreemd dat Hy met hierdie Samaritaanse vrou in gesprek sou wees. Tog laat sy Sy persoonlikheid en gedrag nie toe dat mense bevraagteken of Hy reg of verkeerd optree nie. Hulle word slegs gekonfronteer met die feit dat hulle eie gebruike verwydering bring tussen mense, en dat dit 'n verwydering is wat Jesus nie erken nie.
Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.
Hierdie vrou het 'n opborrelende fontein geword na haar ontmoeting met Jesus, net soos Hy gesê het sy sou wees. Nie net het sy nie weer dors gehad nie, maar sy het ook genoeg gehad om vir ander te kon gee, sodat hulle self ook 'n behoefte ontwikkel het om van die Lewende Water te gaan drink. 
En intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet. Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring? Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.
Die vertelling word hier onderbreek, net soos Jesus se gesprek onderbreek word, deur die dissipels wat by Jesus aandring dat Hy eers Sy liggaam sal versorg deur te eet. Hy weier die kos en wys aan hulle uit dat hulle self ook  nog nie hierdie geestelike dinge verstaan nie. Dit is belangriker vir Jesus om dit te doen wat God, die Vader, Hom gegee het om te doen, as om te eet. Om God se wil te doen, het ook groter onderhoudings-vermoë (sustainability) as om fisiese kos te eet.
'n Mens se natuurlike reaksie is om te reageer met 'n teenvoeter. Dit neem tog nou nie soveel tyd op om te eet nie. Of, mens kan tog nie op 'n leë maag werk nie. Of, mens moet rus ook. Herken julle hierdie baie sinvolle redenasies? Hierdie goed dra nie gewig by God nie. Dis menslike dinge wat Hy kan oorkom sonder enige probleem. Hoe klink jou eie verskonings? Mens moet aan jou aftrede dink ook. Of, mens het die kinders om te oorweeg. Of ... watter woorde gebruik jy wat jou weerhou om te doen wat God jou geroep het om te doen? Meer nog, wat God jou op die aarde geplaas het om te doen! Jesus het een doel voor oë gehad. Kan jy dieselfde sê oor jouself?
Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ’n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.
Jesus sê vir Sy dissipels dat hulle die dringendheid van die saak nie snap nie. Hulle lees die seisoene verkeerd. Die profete het reeds gesaai en 'n Messias-verwagting gekweek. Die Messias is daar en dis NOU die tyd om te oes. Almal is ingesluit by die loon/blydskap oor die oes, van saaier tot maaier. Maar dis belangrik om te besef dat die saak dringend is en dat die tyd uitloop.
En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het. Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly.
Die vrou het die dringendheid van die saak besef. Onthou julle dat Jesus oppad was na 'n ander area en dat hierdie nie Sy bestemming was nie, maar dat Hy slegs hier sou deur beweeg? Hierdie vrou het geen tyd verspeel nie. Sy het onmiddellik gaan oes en die oes na Jesus gebring. Wat gebeur nou? Nie net praat hierdie Jood (Jesus) met die Samaritane nie, maar Hy bly by hulle oor en breek met hulle brood en eet uit hulle eetgerei en word deel van hulle lewens. Die slotsom van hierdie saak, tref ons in verse 41-42 aan.
En baie meer het op grond van Sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.
Is dit nie tyd dat jy al jou eie verskonings in die oë kyk, met Jesus bespreek, en hulle uit die weg ruim nie? Die oes is ryp op die land. Wat hou jou terug?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment