Search This Blog

Tuesday 14 March 2017

Wanneer God bere stuur


Wanneer ons die gedeelte in 2 Konings 2 lees waar die bere die 40 "klein seuntjies" verskeur, in opdrag van die profeet Elisa, het ons noodwendig 'n emosionele reaksie van walging. So 'n paar jaar terug het ek die gedeelte aan 'n selgroep verduidelik en ek doen dit ook graag hier vandag.
In die eerste plek, dink ek dis nodig om die vertaling/woordkeuse onder oë te neem. Hierdie gebeure speel buite die stadsgrense af en 40 VAN DIE kinders is verskeur. Daar was dus 'n groep groter as 40 teenwoordig. Hulle het 'n gemeenskaplike slagspreuk (chant) gehad wat hulle die profeet mee getart het. Ons kan hieruit aflei dat dit dan eerder jeugdiges as klein seuntjies moes gewees het. Dit pas die konteks van die verhaal ook beter.
Laat ek dus nou die konteks skets. Hierdie gedeelte speel af in 'n tyd toe Israel afvallig geword het van God. Afgodsdiens was aan die orde van die dag en die konings van die tyd het eerder afgode geraadpleeg as om die profete op te soek. Profete is vervolg en gedood. Bring Elia in gedagte (Elisa se leermeester en voorganger). Herinner jouself aan die uitdaging wat hy gestel het aan die Baalprofete en hoe hy en die ander profete in grotte moes wegkruip om die dood vry te spring.
Die gebeure wat hierdie insident direk voorafgaan is van kardianle belang en vorm deel van die gebeure. Elisa was saam met Elia oppad, want dit was aan die profete bekend dat Elia daardie dag sou weggeneem word. Oppad, kloof Elia die water van die Jordaan in twee en Elisa vra of hy Elia se amp kan oorneem. Die versoek word toegestaan en Elisa tel Elia se mantel op nadat Elia in die stormwind opgeneem is. Die mantel was die simbool van sy amp.
Hy is oppad terug van hierdie gebeure toe hy die kinders teëkom. Eers kloof hy ook die water van die Jordaan voor die oë van die profete. Dit dien as bewys dat hy die amp by Elia oorgeneem het. Daarna maak hy onbruikbare water bruikbaar. Dis 'n tweede teken van sy salwing.
Daarna kom hy die jongelinge/kinders teë. Kom ons ondersoek nou wat hulle vir hom sê om te sien of ons op die regte spoor is. Hulle spreek hom aan as "kaalkop." Dit is in direkte kontras met Elia wat as harig beskryf word in 2 Konings 1:8. Die Afrikaanse vertaling praat hier van velklere en 'n velgordel. Die Engelse vertalings vertaal dit oor die algemeen as sulks:
"He was hairy and had a leather belt around his waist."
Ek wil nie in 'n hareklowery betrokke raak oor vertalings of oor wie reg en verkeerd is nie. Ek wil net hê jy moet besef dat daar ruimte bestaan om te glo dat Elia se harigheid afgsteek het teen Elisa se gladde voorkoms en dat dit 'n ooglopende verskil was, al was dit dan net gekoppel aan klere en nie aan die persoon nie.
Kom ons kyk nou na die res van die slagspreuk:
"Hoër op kaalkop! Hoër op kaalkop!"
Elia is nou net OP-geneem en Elisa is nou net oppad terug van die gebeure. In die tydperk is daar drie dae lank na Elia gesoek in die omgewing, sonder om hom te vind. Dit is dan duidelik dat die nuus reeds alom bekend was van Elia se opname. Hierdie slagspreuk is 'n verwerping van die profeet Elisa en 'n bekendmaking van die feit dat die jeugdiges/kinders bly was om van Elia ontslae te wees. Hulle wil hê dat Elisa, net soos Elia sal verdwyn. Dit pas in by die tye waarin die gebeure afspeel, die verwerping van God ten koste van afgode, die vervolging van die profete, en die geskiedenis van vervolging wat Elia persoonlik beleef het.
Waarom dan die vreeslike reaksie van verskeurende bere? Ons kan die vraag beantwoord deur te kyk wat/wie 'n profeet was/is. 'n Profeet is 'n persoon wat God se stem hoorbaar maak vir mense deur as spreekbuis vir God te dien. Wanneer 'n profeet in sy amp verwerp word, is dit dus die verwerping van God, Sy Woord en Sy Wil.
Wanneer jy volgende keer hierdie gedeelte lees en daaroor praat, nooi ek jou om dit in die konteks van die groter verhaal te lees wat, in die kleine, reeds in 1 Konings begin by die verhaal van Elia. Maar eintlik wil ek jou nooi om die selfs groter konteks te verstaan, wat reeds in Genesis begin. Kyk na die pad wat 'n genadige en geduldige God stap. Plaas jouself in God se plek, en besef dan dat jy moontlik nie by 40 'kinders' sou gestop het nie, maar moontlik 'n tweede Noagsvloed sou veroorsaak het.
Kan ek jou nou gou na nog 'n gedeelte neem wat direk hierby aansluit en in die volgende hoofstuk afspeel? Die koning van Israel, Joram, trek met Juda en Edom se konings op, om oorlog te voer teen Moab. Oppad deur die woestyn, raak hulle water op. Tot op hede is daar geen aanduiding dat enige van hulle God geraadpleeg het nie. Noudat hulle in die moeilikheid is, is Joram vinnig om God te blameer:
"Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee." (3:10).
Nou is hulle skielik naarstiglik opsoek na 'n profeet om inspraak van God te kry. Elisa word gehaal. Wat is sy eerste woorde aan Joram?
"Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe."
Van wie praat hy hier? Hy praat van Agab en Isebel, wat die standaard van boosheid geword het waarteen alle daaropvolgende konings gemeet is. Dit is hulle wat Elia vervolg het om hom dood te maak en talle ander profete wel gedood het. Dit was hulle wat die Baalprofete in die tempel ingebring het en God verwerp het. Joram het hulle godsdiens aangeneem en gevolg. Tog, noudat dinge sleg gaan, blameer hy nie sy afgode nie, maar nou moet God skielik die blaam kry.
Is dit nie interessant hoe mense wat God nooit raadpleeg nie, nie bid nie, nie kerk toe gaan nie, nie die Bybel lees nie, altyd gereed is om God te blameer wanneer dinge verkeerd gaan? Meer nog, is dit nie interessant hoe hulle dan skielik in staat is om God se belsuite en wil uit te lê nie, kompleet asof hulle 'n verhouding met Hom het? Is dit werklik kennis van God, of is dit suiwer arrogansie?
Kom ek laat jou met een laaste vraag: Ken jy God se wil en spandeer jy tyd met Hom om dit te leer ken, of is jy een van die arrogantes wat God se wil uitlê asof jy kennis van Hom in pag het?
Leer God ken voor jy in 'n regterstoel gaan sit om Hom te oordeel. Jy mag dalk net vind dat die skuld nader aan die lyf lê.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment