Search This Blog

Saturday 4 March 2017

Die Geesteswêreld


Vandag wil ek so ‘n bietjie gesels oor die geesteswêreld. Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek traag is om daaroor te praat, maar dis ‘n onderwerp wat mens nie vir ewig kan ignoreer nie. Waarom dan nou juis vandag? In die afgelope tyd het heelwat vriende en kennisse met my kom praat oor twee sake; die een was besetenheid en die ander (in indirekte kontras hiermee) was Heilige Gees vervuldheid. Daarby moes ek ook onlangs een van Dr. Agrippa Khathide se boeke, Hidden Powers, vir iemand voorlees vir hulle studies. Die boek behandel o.a. die geesteswêreld vanuit ‘n missiologie perspektief.
My kop wemel van gedagtes en ek sukkel om dit vas te maak aan ‘n enkele argument. Dit is omdat ek eerder die eerste gedeelte van hierdie gesprek wil oorslaan en direk na die tweede gaan, wat soveel belangriker is as die eerste. Maar ek sal myself dwing om oor die eerste gedeelte ook te praat.
Ek kry al hoe meer gereeld met mense te doen wat besetenheid in hulleself soek. Ander weer soek dit in die mense om hulle. Ek erken dat mense besete kan wees van demone. Ek was al by waar demone uitgedryf is en daar is geen twyfel by my dat dit ‘n realiteit is nie. Geen ander verduideliking kan dit wegredeneer nie. Maar na ek dit gesê het, wil ek uitkom by verantwoordelikheid. ‘n Mens is self verantwoordelik vir die keuses wat jy maak en dit sluit jou woorde en jou dade in. Dit help nie om agter die verskoning van ‘n demoon/Satan weg te kruip as jy jou vergryp het aan dit wat nie joune was nie. Wanneer jy ‘n self-geregverdigde lewe lei, waarin jy jou eie geluk, sukses, rykdom en mag najaag, is jy besig om direk in teenstryd met God se Woord en wil op te tree.
In teenstelling met die populêre siening van die dag, is ons nie veronderstel om ons eie geluk na te jaag nie. Ons is veronderstel om lewens te leef waar ons opofferings maak vir ander. Eers wanneer jy jou lewe so leef, kan jy getuig van ‘n lewe waar jy ander so lief het as wat jy jouself het. Ons het die voorbeeld van Christus om na te volg. Dit is nie ‘n voorbeeld van Iemand wat eie-belang eerste gestel het nie. Dis ook nie ‘n voorbeeld van ‘n ‘push-over’ nie.
Wat het dit met die geesteswêreld te doen?Alles, glo dit of los dit. Kom ek som dit op in die woord krag/mag, en gebruik dan hierdie woord as die knoop wat my gesprek aanmekaar hou. Ons gryp so vinnig na die woord besetenheid, sonder om enige ander inwerking van bose geeste/demone in ag te neem. Laat ek verduidelik. Met besetenheid verwys ek na demone wat hulle in ‘n persoon kom tuismaak het. Wanneer jy met hierdie geeste te doen het, en hulle manifesteer in jou teenwoordigheid, is hulle identifiseerbaar op verskeie maniere. Ek het dit nou begin uittik en myself bedink. Ek wil nie hê dat iemand demone in elke persoon wat hulle mee te doen kry begin identifiseer nie. As God dit bepaal dat Hy jou nodig het in so ‘n bediening, sal Hy jou met die nodige toerus vir die bediening. Ek laat dit dus daar. Besetenheid is iets waarvoor bevryding nodig is. Dit gaan gewoonlik gepaard met een of ander setel in ‘n mens se lewe waarop die duiwel/demoon/Satan ‘n staanplek gekry het. Hier kan ek verwys na voorbeelde wat ek insae in het: kindermolestering, verwerping, seksuele losbandigheid, ens. Dis belangrik om te besef dat daar nie noodwendig besetenheid is waar hierdie dinge in ‘n mens se verlede (of hede) is nie. Moenie die duiwel in elke mens gaan soek nie. Jy kan seker agterkom dat ek al met mense te doen gekry het wat heeltemal roekeloos met hierdie goed omgegaan het?
Daar is egter iets wat baie meer volop is as besetenheid en dit is ‘verdrukking.’ In Engels word die woord ‘possession’ vir besetenheid gebruik, terwyl ‘oppression’ vir verdrukking gebruik word. Hier het jy weereens nodig om aan die duiwel/demoon ‘n staanplek te gee. Jy begin jou met verkeerde goed ophou en dan gee jy daarmee vir die duiwel ‘n saal om jou mee holrug te ry. Kom ek gebruik ‘n voorbeeld. Jy besluit dat jy God nie kan vertrou met jou finansies nie. Nou begin jy na oplossings soek. Jy speel die Lotto. Jy gaan toets jou geluk by die dobbelsale, ens. Dis nou nog alles wettig, nie in God se wil nie, teenstrydig met geloofsvoosrskrifte, maar wettig. Nou word jou ongeloof deur ‘n demoon raakgesien (ek gebruik die personifikasie baie los hier). Jy kuier mos nou op plekke wat nie meer heilig is nie. Jy hou jouself mos nou op met goed wat nie meer tot God se eer is nie. Jy neem mos nou besluite wat in stryd is met God se Woord en Wil. Dis ‘n vashouplek vir die duiwel. Jy gee hom ‘n staanplek in jou lewe. Nou begin hy ‘n speletjie met jou speel, hier van buite af. Hy maak jou depressief en neerslagtig en angstig oor jou finansies, oor jou toekoms, oor jou kinders se vermoë om werk te kry, oor jou pensioen, oor jou versekering ens, ens, ens. As jy nie betyds keer nie, kan jy in groot moeilikheid land. Ek dink aan geldverduistering, met die werk se eiendom wegloop, dobbelverslawing en vele meer. Om te gaan soek na iemand om jou te bevry van besetenheid, sal nie die probleem oplos nie. Die kern van jou probleem lê in jou verhouding met God. Wanneer jy jou verhouding met God herstel, sal jou probleem opgelos word. Jy het nodig om God weer te vertrou – geloof. Jy het nodig om te glo God sal vir jou sorg. Jy het nodig om te glo God het die waarheid gepraat toe Hy gewaarsku het teen dobbelary. Die punt is dat jy jou geloof in God se vermoë moet plaas, in Sy Woord moet glo, en na Sy Wil moet vra.
Kom ons gaan nou terug na die woord krag/mag. Met besetenheid praat ons van ‘n eksterne mag wat beheer oorgeneem het oor sekere aspekte van jou lewe. Met ‘oppression’/verdrukking praat ons van jou wat die mag in ‘n ander entiteit se hande geplaas het om met jou woer-woer te speel. Miskien ken mense nie meer ‘n woer-woer nie. Laat ek dan liewer sê hy speel jou yo-yo. Jy hardloop op en af teen ‘n lyntjie asof hy jou dirigent is. Die ding is dat jy die mag kan terugneem deur beter besluite te neem. Moet nou nie hier ‘n tipiese ‘life coach’ stelling lees nie. In hierdie argument praat ek nie daarvan dat jy besluit om nie weer te gaan dobbel nie. Dis alles goed en wel (en natuurlik moet jy nie weer gaan dobbel nie!), maar dis nie waarna ek verwys as ek sê jy moet beter besluite neem nie. Beter besluite is om te besluit om die Bybel te lees. Dis om te besluit om vir ‘n halfuur te bid al sê jy ook elke 30 sekondes dieselfde sinnetjie oor en oor, want jy kan aan niks anders dink om te sê nie. Dis om hardkoppig te besluit jy sal na God se wil soek, en om nie toe te laat dat enige iets of iemand anders jou daarvan weerhou nie. Beter besluite is om by gelowiges aan te sluit in ‘n gemeente. Beter besluite is om in elke aspek van jou lewe onderdanig te wees aan God. Dis om jouself aan God te onderwerp. Dis om nederig te wees voor God. Dis om God te vertrou. Dis om jou lewe voor Hom neer te lê en dit in Sy Hande oor te gee. Dis om jou wil voor Syne te buig. Dis om jou eie-ek te kruisig.
Laat ek nou met jou praat oor die gedeelte waaroor ek eerder sal praat. Op ‘n manier praat ons steeds van die geestesryk, maar dit strek soveel verder. Ek wil praat oor die inwonende Gees van God. ‘Toevallig’ praat die pastoor toe ook nou die dag daaroor in die kerk. Ek gebruik dus sommer een van die gedeeltes waarna hy verwys het in die diens, want dis gerieflik byderhand in my kop. Hy het oor die 10 maagde/jong meisies gepraat wat op die bruidegom gewag het. Let daarop dat die gedeelte verwys na 10 meisies wat maagde was. Daar is dus sprake van reinheid, van gereed wees, van reg wees vir ‘n huwelik. Vyf van die meisies het olie in hulle lampe gehad, vyf se olie het opgeraak. Olie simboliseer altyd salwing en die Heilige Gees in dieBybel. Vyf meisies het hulle lewens so ingerig dat die Heilige Gees enduit by hulle was. Vyf het dwase besluite geneem wat hulle van hulle salwing beroof het. Hulle het almal begin met ‘n Christus-verwagting (die bruidegom is Christus in die verhaal), maar slegs die vyf wat toegerus was met die KRAG van die Heilige Gees het die einddoel behaal.
Kyk na die gedeelte in Handelinge 10. Dis waar Petrus opdrag kry om na Kornelius se huis te gaan en die evangelie aan die nie-Jode te verkondig. Die eerste paar verse sê vir ons wie Kornelius reeds was. Hy het reeds geglo, hy het reeds goeie werke gedoen, hy was juis besig om te bid toe ‘n Engel aan hom verskyn met die opdrag om Petrus te laat haal. Hy was nie reeds met die Gees vervul nie. Lees die laaste gedeelte in die hoofstuk waar hy en sy huishouding met die Gees vervul word en in vreemde tale begin praat. Dit gebeur eers na Petrus daar aangekom het.
Ek wil net hierdie enkele woorde uit Handelinge 1:8 aanhaal (alhoewel jy daarby sal baat om die hele hoofstuk/boek te lees om die konteks en betekenis regtig te snap):
“... julle sal KRAG ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom ...”
Hoe lyk jou lewe? Is jy vervul met God se Gees en leef jy in Sy krag, of leef jy in jou eie krag? Is dit nie tyd om beheer oor te gee aan God nie? Is dit nie tyd om geloofsbesluite te neem nie? Laat God toe om in jou lewe te heers. Leer hoe om met God saam te werk. Spandeer tyd in gebed sodat jy die regte besluite kan neem. Herstel jou verhouding met God.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment