Die Bybel Legkaart blog is begin met die gedagte om die samehang van die Bybel as geheel aan mense te openbaar. In die eerste twee aflewerings van hierdie blogs, is die totstandkoming en vertaling van die moderne Bybel nagevors. In die daaropvolgende blog is die boek van Genesis van naderby bekyk. In hierdie blog bekyk ons Eksodus.
Die eerste blogs in die reeks kan d.m.v. hierdie skakels opgespoor word:
AFDELING B: DIE PENTATEUG
Deel 4
Eksodus
- Agtergrond tot Eksodus en die nasies van die Ou Testament
- Egipte in perspektief
- Bekendstelling van God
- Die Geskiedenis van Eksodus
- Die Wette en Godsdiensrituele
- Toepassing
- Bibliografie
4.1 Agtergrond tot Eksodus en die nasies van die Ou Testament
Die woord Eksodus in Afrikaans vertaal, beteken ‘Uittog’. Die Hebreeuse naam vertaal egter na ‘Die seuns van Jakob,’ wat die openingswoorde van die boek is.
OUTEUR
Besware teen Moses as outeur van die Pentateug is reeds in leseenheid 3 behandel en gaan gevolglik nie hier in detail herhaal word nie. Sien gerus die JEDP teorie. Eerder sal ‘n lys argumente inherent aan Eksodus self verskaf word, ten gunste van Moses as outeur van die boek:
- Dit was Moses se gewoonte om gebeure op te teken kort nadat dit plaasgevind het;
- Dit blyk of die verteller ‘n ooggetuie van die gebeure moes gewees het;
- Die outeur was geleerd:
- Skryfstyl en woordeskat;
- Bekendheid met Egiptiese gebruike;
- Kennis van die plante, diere en wildernisterrein;
- Eenvormigheid in die skryfstyl en die ontwikkeling van die verhaal.
Daar kan ook getuienis buite Eksodus gevind word wat bevestig dat Moses die outeur van die boek was:
- Reeds in Josua se tyd is aanvaar dat Moses die boek geskryf het (Jos. 8:30-32 wat Eks. 20:25 aanhaal);
- Ander Bybelse skrywers:
- Maleagi (Mal. 4:4);
- Johannes wat Filippus en ander dissipels se getuienis aanhaal (Joh. 1:45);
- Paulus (Rom. 10:5);
- Jesus se getuienis in Mark. 7:10 (Deut. 5:16; Eks. 20:12); Mark. 12:26 en Luk. 20:37 (Eks. 3:6,15-16); Joh. 5:46-47 (verwys na Moses se geskrifte); Joh. 7:19,22-23 (Wet – Eks. 20:1-17; 34 en besnydenis - 12:44,48);
- Beide Joodse en Samaritaanse tradisies aanvaar Moses as outeur van Eksodus.
Die JEDP teorie voer die argument dat Moses groot gedeeltes van Eksodus geskryf het en dat ander gedeeltes deur verskeie ander outeurs bygevoeg is. Die eindproduk sou volgens die teorie(ë) deur ‘n enkele redakteur versorg gewees het, wat die eenvormigheid van die boek verklaar.
DATERING
Die uittog uit Egipte het in die vroeë 15de eeu vC. plaasgevind. Die Israeliete het 40 jaar lank deur die woestyn geswerf. As aanvaar word dat Moses die outeur van Eksodus is, sou hy die boek dan gedurende die 40 jaar lange swerftog geskryf het.
Eksodus dek die geskiedenis van Israel, beginnende by Jakob/Israel se aankoms in Egipte, tot en met die oprigting van die tabernakel, ‘n benaderde 400 jaar later.
AGTERGRONDGESKIEDENIS EN GEOGRAFIE
Die geografie van Eksodus sentreer rondom ‘n baie klein area op die wêreldkaart, nl. die suid-westelike oewer van die Middellandse See. Die Grootste gedeelte van die verhaal speel by die berg Sinai af.
(Uit: Deist et al, p. 30)
Dit is belangrik dat die leser van Eksodus vertroud sal wees met die verhaal en geskiedenis van Genesis, aangesien dit die agtergrond tot die boek Eksodus skets. Dis verder ook belangrik dat die leser bekend sal wees met die land van Egipte en omringende streke, waaroor groot gedeeltes van die boek handel.
Die bewoonde gedeelte van Egipte is beperk tot die Nyloewer. Die Nyl oorstroom jaarliks sy oewers, wat ‘n ryk sliklaag agterlaat en die Nyldelta in vrugbare landbougrond omskep. Die res van die land is droë woestynagtige grondgebied. Vir die grootste gedeelte van Egipte se bestaan was Memphis die hoofstad.
Egipte se geskiedenis dek meer as 3000 jaar. Die Egiptiese heersers is Farao’s genoem. Die Farao was beskou as die skakelfiguur tussen die gode-dom en die mensdom. Die gode was gewoonlik afbeeldings of personifiserings van magte en verskynsels in die natuur. Meeste huise het huisgode gehad. Towerkuns is wyd en algemeen gepraktiseer in Egipte. Daar was ook groot biblioteke wat literatuur van onskatbare waarde bevat het. Egiptenaars het vas geglo dat die siel lewend bly na die dood.
Israeliete was gebruik om die stede Pitom en Raämses te bou, lg. onder die heerskappy van Raämses II. Egiptiese literatuur ondersteun die geskiedenis wat in Eksodus 5 verhaal word rakende die Israeliete se arbeid in Egipte. Dit was nie uitsonderlik dat uitlanders tot hoë posisies verhef is in Egipte nie. Beide Josef en Moses se verhale is dus geloofwaardig vanuit ‘n geskiedkundige oogpunt. Ook die tabernakel was gebou volgens metodes wat lank reeds in Egipte in gebruik was.
Dis belangrik dat die leser van die Bybel bekend sal wees met die agtergrond en geskiedenis van die grootste bevolkingsgroepe wat in die Bybel aangetref word om die geskiedenis wat daarin verhaal word beter te verstaan. Met dit in gedagte volg ‘n opsomming van die mees prominente bevolkingsgroepe wat in die Ou Testament aangetref word. Let daarop dat die ryke mekaar oorvleuel het en soms afwisselende herlewings en insinkings beleef het. Die Egiptiese Ryk het gedurende bykans die hele Ou Testamentiese geskiedenis bestaan, hoewel soms sterker en ander kere weer swakker.
Tale in die Nabye Ooste:
Indo-Europese tale: Persies, Armenies, Grieks, Latyn
Semitiese tale: Siries, Palestyns, Arabies
Palestynse tale: Hebreeus, Fenisies, Babilonies, Assiries
Hamitiese tale: Egipties, Ethiopies
Belangrike dinasties in die tyd van die Ou Testament:
EGIPTE
- Pre-dinastieke tydperk – 5 000 tot 3 000 vC.
- Dinastiese tydperk – beleef hoogtepunt onder Koning Menes in 3 200 vC. Strek oor 30 koningshuise.
Eerste tot die elfde dinastie:
Staan bekend as die Ou Koninkryk. Strek vanaf 3 200 vC. tot 2 200 vC. Die koning was ‘n teokratiese despoot, beskou as die seun van Ra. Die goderyk bestaan uit ongeveer 2 200 gode wat deur plante, diere, die Nyl, en ander voorwerpe verpersoonlik word. Handelskontakte was met Mesopotamië gemaak.
Eerste tussentydse periode:
‘n Feodale stelsel – administratiewe eenhede met edelliede – was geïmplementeer vir ongeveer 200 jaar.
Middelkoninkryk:
Amenemhet I heers teen 2 134 vC.
Tweede tussentydse periode / Hyksos tydperk:
1 780 vC. Egipte is binnegeval deur nomadiese stamme uit Asië. Die Israeliete verskuif na Egipte.
Nuwe koninkryk:
1 570 – 655 vC. = Die Egiptiese koning-god word die Farao genoem. Achmes I verower grondgebied tot teenaan die Eufraat. Die uittog van die Israeliete gebeur in alle waarskynlikheid onder Amenhotep II (1 449 – 1 423 vC.).
950 vC. = Koesjitiese heerskappy
670 vC. = Assiriese heerskappy
525 vC. = Persiese heerskappy
332 vC. = Macedoniese (Griekse) heerskappy onder Alexander die Grote.
MESOPOTAMIë
4 000 vC. tot 539 vC. Die stigters van die ryk was die Sumeriërs. Beskawings wat uit Mesopotamië ontstaan het was die Sumeriërs, Amoriete, Hetiete, Assiriërs en die Chaldeërs.
Sumeriërs
Dit beteken letterlik ‘swartkopmense.’ Teen 5 000 vC. trek hulle van Noord-Mesopotamië na Suid-Mesopotamië. Hulle is nie van Semitiese afkoms nie. Die samelewingstrukture was gerangskik in verskeie stede, elk met ‘n eie stadstaat en ‘n eie priester-koning. Hulle word in 2 750 vC. deur die Akkadiërs o.l.v. Sargon I verower. Hulle verdwyn teen 2 050 vC. as ‘n aparte volksgroep en staan daarna bekend as die Akkado-Sumeriese Ryk.
Die godsdiens van die Sumeriërs was politeïsties. Die wil van die gode is bekend gemaak deur astrologie en astronomie. Hulle het in lewe na die dood geglo.
Die wetskode van Hammurabi was grootliks ‘n heruitgawe van die Sumeriese wette.
Op wetenskaplike gebied laat hulle aan ons tydverdeling in 60 sekondes, 60 minute en 12 uur na. Hulle deel ook die sirkel in 360o in.
2 000 tot 1 750 vC. = Die Babiloniese Ryk. Hulle beëindig die Akkado-Sumeriese Ryk. Dis ‘n gesentraliseerde ryk. Hul hoofstad is Babel/Babilon. Hammurabi was die vernaamste koning. Hy laat sy beroemde wetskode na wat onder meer die volgende begrippe insluit:
- Oog-vir-‘n-oog-en-‘n-tand-vir-‘n-tand-beginsel;
- Onderskei tussen opsetlike en onopsetlike oortredings;
- Eiendomsregte is hoër geag as menselewens;
- Spesiale wette vir vreemdelinge, vroue, weduwees en wese, handel en industrie, grondbelasting, en huwelike.
Akkadies is die amptelike taal.
Die Babiloniërs beoefen politeïsme met Mardoek as hoofgod.
A Comparison of the Code of Hammurabi and the Mosaic Code
| ||
Code of Hammurabi
|
Mosaic Code
| |
Source:
|
Hammurabi claims credit for the laws; he established justice in the land
|
God is the source; Moses is only the instrument through which the legislation was given
|
View of God:
|
Polytheistic
|
Strictly monotheistic
|
Character:
|
Civil and commercial
|
Civil and religious
|
View of Society:
|
Punishments geared to class distinctions
|
All on an equal plane before God
|
Geographical Orientation:
|
Geared to a land of rivers, an irrigation culture
|
Intended for a dry land like Palestine
|
(Uit: Vos, H. F. 1999. Nelson's new illustrated Bible manners & customs : How the people of the Bible really lived . T. Nelson Publishers: Nashville, Tenn.)
|
Die Hetiete verower die Amoriete in die vroeë 1 700’s vC.
Die Kassiete oorrompel die land in 1 750 vC.
Teen 1 595 vC. verower die Hetiete Babilon.
Suppilulimas I was die vernaamste koning.
Die Egiptenare verslaan die Hetiete in 1 200 vC. en daar bly slegs ‘n klein oorblyfsel van die volk oor.
Teen 717 vC. was die laaste oorblyfsel deur die Assiriërs verslaan.
Die Assiriërs vestig hulle in 3 000 vC. in Noord-Oos Mesopotamië. Hul belangrikste stede is Ninevè en Assur. Die beskawing beleef afwisselende tye van opbloei en verval tot en met die verowering deur die Babiloniërs in 910 vC.
Teen 1 400 vC. val die Arameërs Sirië binne. Dit veroorsaak dat Aramees die omgangstaal word. Onder Darius I word dit die amptelike taal van die Persiese Ryk in die sesde eeu vC. Damaskus (die belangrikste handelstad word in 1 000 vC. gebou.
Die Assiriërs slaag daarin om die Arameërs tussen 884 en 859 vC. te onderwerp.
Die volgende tydlyn som die geskiedenis van die Assiriërs op:
745-727 vC.
|
Tiglat-Pileser III is koning. Onderwerp Babilon en Damaskus.
|
726-722 vC.
|
Salmanassar V
|
722-705 vC.
|
Sargon II. 721 vC. word Samaria (Israel) verower. 27 000 Israeliete word in ballingskap weggevoer.
|
704-681 vC.
|
Sanherib. Bedreig Jerusalem, maar word wonderbaarlik gestuit. Verwoes Babilon in 689 vC. tot op grond. Ninevè word die nuwe hoofstad. Dit word ook die mooiste stad in die Midde-Ooste. Wou Egipte verower, maar word deur twee van sy seuns vermoor. (2 Kron. 32:1-23)
|
670 vC.
|
Egipte verower.
|
668-626 vC.
|
Assurbanipal. Burgeroorlog breek uit wanneer die verowerde nasies saamsnoer. Laat ‘n groot biblioteek in Ninevè na.
|
612 vC.
|
Ninevè val voor die saamgesnoerde magte van die Chaldeërs, Mede en Perse o.l.v. Nabopolassar, die Chaldeër-koning van Babilon.
|
Die Assiriese regeringstelsel was gesentraliseer onder ‘n absolute monargale gesag. Hulle het ‘n politeïstiese godsbeskouïng:
- Hoofgod – Assur
- God van handel – Nebo
- Sterrewiggelaars word geraadpleeg
- Bose magte word besweer
- Assur word gevra om bo-natuurlike magte.
Chaldeërs
Die Chaldeërs was die heersers oor die nuwe Babiloniese Ryk (Neo-Babilonië). Babilon/Babel was die hoofstad.
606 vC.: Nebukadneser I verslaan Egipte en neem so besit van Sirië.
604-561 vC.: Die Ryk bereik sy hoogtepunt onder Nebukadneser II. Hy verslaan Juda (die Suidryk), verwoes Jerusalem en voer baie Jode in ballingskap weg. Hy vergroot en verfraai Babilon (Tempel van Mardoek, Hangende Tuine van Babilon). Verder bou hy ook die eerste brug oor die Eufraatrivier. Onder hom word die afgodediens van die voormalige Babiloniese Ryk herstel.
Die Chaldeër Ryk was ingedeel volgens ‘n feodale stelsel, alhoewel die grond teoreties eintlik aan die gode behoort het.
Wetenskaplike nalatenskap:
- Bereken dat die maan 223 omwenteling in 29 ½ dae voltooi voor dit terugkeer na die beginpunt.
- Hulle verdeel die jaar in 360 dae, 12 maande, 24 uur.
- Hulle maak gebruik van ‘n sonhorlosie.
Die Ryk verval onder Nabonidus en Belsasar. Belsasar word deur die Perse o.l.v. Cyrus II verslaan in 539 vC.
PERSIë
Die Mede en die Perse was van Indo-Germaanse afkoms uit Sentraal-Asië. Die Mede vestig hulle in die 19de eeu vC. in Mesopotamië waar hulle skatpligtig word aan die Chaldeërs. In 612 vC. help hulle met die verwoesting van Ninevè.
Teen 3 000 vC. woon die Perse aan die Kaspiese See. Mettertyd maak die Mede en die Perse met mekaar kontak. Met die vernietiging van Assirië was die Mede die dominerende groep en was die Perse aan hulle skatpligtig. Onder Cyrus II word die bordjies egter verhang. Teen 550 vC. word die Mede-Persiese Ryk gevorm.
Die belangrikste stede was Babilon, Persepolis en Susan (Ester en Nehemia - lg. was ‘n skinker onder Artaxerxes – se verhale speel in die tyd af).
Teen 1 000 vC. word die profeet Zoroaster, soos uitgelê in die heilige boeke van Avesta, se godsdienstige uitsprake wyd aanvaar. Daar word onderskeid getref tussen twee oppermagtige geesteskragte wat mekaar teenstaan:
- Ahoera Mazda – verteenwoordig alles wat goed en wys is;
- Ahiram – verteenwoordig alles wat boos is.
Hulle glo in ‘n oordeel na die dood wat die dooie na een van twee plekke stuur:
- Huis van Jubelsange;
- Huis van Leuens (pyniging en swak kos).
Daar is vas geglo dat die goeie uiteindelik in die mens sou oorwin. Ahoera Mazda was beskou as ‘n wêreldgod, skepper, behoeder, gebedsverhoorder en barmhartige vader. Vir die goeie om te oorwin sal dit egter van die mens harde werk, eerlikheid en regverdigheid verg. In 636 nC. word hierdie geloofsfilosofie grootliks deur Islam tot niet gemaak. Dit het egter ‘n groot invloed op Judaïsme uitgeoefen.
Aanvanklik het die Mede Mithras aanbid. Mithras is later deur Zoroaster in sy goderyk opgeneem. Mithras sou weer later vir die Romeine belangrik word.
539 vC. – Belsasar word deur Cyrus verslaan. Die Jode word vrygelaat.
525 vC. – Cambyses verower Egipte.
521-485 vC. – Cyrus se skoonseun, Darius I (Darius die Grote), het die uitgebreide ryk gesistematiseer en geadministreer. Aan die hoof van die Persiese Ryk het ‘n absolute monarg gestaan. Hy het die ryk in 20 streke/satrappe verdeel, elk ingedeel in provinsies en elk met ‘n eie goewerneur. Palestina was so ‘n satraap met sy eie provinsies:
Palestina se provinsies: Samaria, Jerusalem, Asdad, Ammon, Arabië.
Nehemia en Serubbabel was die Persiese goewerneurs in Jerusalem.
490 vC. – die Grieke het die Perse by Marathon verslaan en weer in 480 vC. by Salamis.
358-339 vC. – Persië beleef ‘n opbloei onder Artaxerxes III, maar onder Darius II word die ryk uiteindelik finaal verslaan deur Alexander die Grote van Griekeland.
Onder die Perse was Aramees tot amptelike taal verhef.
FENICIë
Fenicië was geleë in die huidige Libanon. Dit beteken letterlik rooibruin of pers. Die naam is verkry deur die handeldrywing in diè besondere kleurstof wat van slakke verkry was. Die Fenisiërs het hulle reeds voor 2 000 vC. in noordelike Palestina gevestig. Dit is ‘n bergagtige streek wat hom nie werklik tot landbou leen nie en daarom wend hulle hulle tot die see (visvang, handeldrywing en kolonisering). Die belangrikste hawestede was Tirus, Biblos en Sidon. Tirus ontwikkel tot die vernaamste handelstad.
Die Fenisiërs het groot dele van Afrika en Europa verken en opgetree as tussenhandelaars tussen die ooste en die weste. Hulle kon nooit hul uitgebreide handelsbelange en kolonies tot ‘n eenheid saamsnoer nie, wat hul invloed en mag beperk het.
Hulle godsdiens was politeïsties, wat o.a. ‘n verskeidenheid Baäls ingesluit het. Godsdiens het bestaan uit ‘n magdom sages en orakels. Hulle het nie in die onsterflikheid van die siel geglo nie.
In 332 vC. is Tirus deur Alexander die Grote verower.
Carthage was die belangrikste Fenisiese kolonie. Carthage word mettertyd ‘n koloniseerder in eie reg tot dit in 146 vC. finaal deur die Romeine verslaan is. Hulle het ook politeïsme aangehang, waarvan die hoofgod Baäl-Hammon was. Hulle het nie waarde aan die hiernamaals geheg nie.
HEBREëRS
‘n Hebreër is iemand wat van Hebron kom. Die Semitiese Hebreërs het in Palestina gebly tussen die Middellandse See en die Siriese Woestyn. Gaandeweg het die nie-Semitiese Kanaäniete hulle in diè streek gevestig. Jerigo was die oudste stad in die gebied, so ver ons kennis strek. Reeds teen 1 700 vC. was daar ‘n hoë kultuur gevestig. Hyksos trek teen 1 500 vC. teen hulle op, maar hulle is nie totaal vernietig nie.
Aanvanklik het die Hebreërs ‘n nomadiese bestaan gevoer in die Arabiese Woestyn. Teen 1 700 vC. het ‘n groot hoeveelheid van hulle egter saam met Jakob na Egipte getrek waar hulle oor ‘n tydperk van 430 jaar in slawerny verval het onder Raämses II en III. Teen ongeveer 1 200 vC. lei Moses die Hebreërs uit Egipte uit en hulle swerf vir die volgende 40 jaar in die woestyn rond. Na veertig jaar val hulle Kanaän vanuit die Suide binne o.l.v. Josua. Gaandeweg vind daar ondertrouery en vermenging tussen die Hebreërs en die Kanaäniete plaas. Palestina was ‘n politieke ‘hot-spot’/huts-pot wat as buffer gedien het tussen Egipte en Assirië.
Die nie-Semitiese Filistyne het van Kreta, oor Egipte, na Palestina gekom en na ‘n lang bedreiging die Hebreërs uiteindelik onderwerp. Teen hierdie agtergrond begin die Rigtertydperk – 1225-1050 vC. ‘Rigter’ was ‘n Semitiese rang wat aan ‘n volksleier gegee was wat opgetree het as staatshoof, priester, generaal, politikus, filosoof en polisiehoof.
Saul: 1 042/1 025 vC. – ‘n Monargale regeringstelsel neem ‘n aanvang onder Saul. Die Hebreërs word nou eers waarlik staat en volk.
Dawid: 1 004-963 vC. – Dawid verslaan die Filistyne. Hy regeer as teokraat. Hy verower Jerusalem van die Jebusiete en maak dit die hoofstad van die Israeliete (Hebreërs).
Salomo: 963-929 vC. – Teokratiese koning. Hy bou die eerste tempel in Jerusalem, asook paleise, voorraadskure, ens. Onder Salomo se regering groei die Hebreeuse literatuur, ontwikkel ‘n staatskultuur, word oorlog vermy, en handelsbetrekkinge aangeknoop (o.a. met Fenicië). Al die bouprojekte plaas egter ‘n baie swaar belastinglas op die volk. Onder Salomo wen afgodediens egter ook veld:
- Astarte – godin van die Sidoniërs
- Milkom – god van die Ammoniete
- Molog – god van die Ammoniete
- Kamos – god van die Moabiete
In 929 vC. skeur die koninkryk van Israel in twee a.g.v. die belastinglas en verdeel in die:
- Noordelike 10 stamme (Israel) met Samaria as hoofstad, wat floreer.
- Suidelike 2 stamme (Juda) met Jerusalem as hoofstad, wat gebrek lei.
Noorde
874-853 vC. – Agab (koning van Israel) en Isèbel (van Tirus) dien Baäl, die god van die Feniciërs.
846-819 vC. – Koning Jehu beleef onrus binne sowel as buite Israel. 16 uit 18 konings word vermoor.
789-745 vC. – Onder Koning Jerobeam II word toestande herstel, hoewel Israel skatpligtig bly aan Tiglat-Pilèser III en Salmanassar V van Assirië.
722 vC. – Sargon II van Assirië verslaan Israel en voer ‘n groot gedeelte van die bevolking weg in ballingskap. Hy vestig Siriërs in Israel om beheer te neem oor die land.
Kapp (p.28): “Na die val van die noordelike koninkryk het die benaming Jood – man van Juda (wat beteken om God te prys) – op die hele volk van toepassing geraak. Jood en Hebreër word dikwels as wisselvorme gebruik.”
Die Suide het vir ‘n lang tyd onafhanklik gebly.
727-699 vC. – Koning Hiskia. Onder sy bewind behaal die Judeërs ‘n merkwaardige oorwinning oor Sanherib van Assirië in 701 vC.
641-611 vC. – Koning Josia weerstaan die Assiriërs suksesvol, maar sneuwel uiteindelik in ‘n stryd teen die Egiptenare o.l.v. Farao Nego by Megiddo/Armagèddon.
597 vC. – Die Chaldeër-koning, Nebukadnèssar verower Jerusalem van Egipte. Hy lei Koning Jojakim en sy volgelinge in ballingskap weg na Babilon.
587 vC. – Koning Sedekia probeer om met Egipte se hulp die Babiloniese houvas op Juda te verslaan. In weerwraak verwoes en plunder Nebukadnèssar Jerusalem. Sedekia se seuns word voor sy oë vermoor, voor hy verblind word en in 50-jaarlange ballingskap na Babilon weggevoer word.
539 vC. – Babilon word deur die Perse verower. ‘n Gedeelte van die Joodse ballinge word toegelaat om terug te keer o.l.v. Serubbabel.
515 vC. – Die tempel word herbou.
444 vC. – Met die toestemming van Koning Artexerxes van Persië, herstel Nehemia en Esra die orde in Jerusalem.
440 vC. – Vrede heers in Jerusalem. Die skrifgeleerdes neem in mag en aansien toe. Godsdiensbelastings word gewettig en ‘n priesterlike stand van Sadduseërs ontwikkel in ‘n vorm van ‘n aardse aristokrasie.
333 vC. – Die Grieke verslaan die Perse en neem beheer oor die Jode.
323 vC. – Alexander die Grote sterf. Die Griekse Ryk word in vier verdeel, elk onder beheer van een van Alexander se generaals. Dit plaas die Jode onder Grieks-Egiptiese beheer, onder wie se invloed hulle ‘n afvalligheid van God begin ontwikkel.
198 vC. – Egipte verswak. Antiochus Epiphanus van Sirië (een van Alexander die Grote se voormalige generaals) probeer Judaïsme vernietig deur Griekse gewoontes met geweld op die Jode af te dwing.
164 vC. – Priester Mattathias en sy seuns (veral Juda Makkabi) verset hulle suksesvol teen die vernietiging van Judaïsme.
141 vC. – Die Siriërs word finaal verslaan en ‘n nuwe dinastie word onder leiding van Priester Simon gestig.
63 vC. – Die Romeine val Jerusalem binne en verower die land.
Die Hebreeuse nalatenskap:
- Godsdiens – Monoteïsme. Die gedagte dat die mens vry is om God te gehoorsaam.
- Wet – Sterk ooreenkomste met die Kode van Hammurabi.
- Literatuur – Die mees hoogstaande van al die beskawings. Sluit onder andere die Bybel in.
- Filosofie – Konsentreer veral op denke oor die lewe en die menslike bestemming.
MINOïSE/EGEïESE BESKAWING
Dit is ‘n beskawing wat chronologies parallel aan diè van die Egiptenare en die Midde Oosterse beskawings ontwikkel het op die eiland Kreta in die Middellandse See. Dit is die voorloper van die Griekse beskawing. Hulle koloniseer streke in die Middellandse See-gebied en dryf ook handel in diè gebied. ‘n Hoë beskawingspeil word gehandhaaf.
Met verloop van hul geskiedenis is hulle deur ‘n paar volke verower, o.a. Egipte, Achaje en Dorië. Kulturele vermenging het plaasgevind met al hierdie volke.
UITLEG VAN EKSODUS
Eksodus kan in breë trekke soos volg ingedeel word:
Eksodus 1-40
Eksodus 1-40
Binne Egipte
|
Buite Egipte
|
Eks. 1-13a
|
Eks. 13b-40
|
Eks..1 – Slawerny
|
Eks.13-15 – Bevryding
|
Eks. 2-4 – Voorbereiding van Moses
|
Eks. 16-18 – Goddelike versorging
|
Eks. 5-7:13 – Moses en Aäron se outoriteit
|
Eks. 19-34 – Sinai
|
Eks. 7:14-Gen. 12 – Die 10 plae
|
Eks. 40 – Oprigting en inwyding van die altaar
|
Eks. 12-13a – Gedenkrituele
|
Eks. 35-40 – Oprigting en inwyding van die altaar
|
Pearlman (1935, p. 20) deel Eksodus as sulks in:
- Israel in gevangeneskap (1-2)
- Israel verlos (3-15:22)
- Israel se tog na Sinai (15:23 tot 19)
- Israel ontvang die wet (20-23)
- Israel in aanbidding (24-40)
4.2 Egipte in perspektief
GODSDIENS
Egipte se godsdiens het deur verskillende ontwikkelingstadia gegaan wat gewissel het van politeïsme tot filosofiese monoteïsme. Oorspronklik het elke gebied sy eie god gehad en het die Egiptenare natuuraanbidding beoefen. Mettertyd het die talle gode saamgesmelt tot die enkele songod, Ra/Re. Tydens die Thebe-dinastie is diè god Ammon-Ra genoem, na die hoofgod van die Thebe. Osiris is die god wat oor die Nyl geheers het en is ook die god van die hiernamaals, wat hom toelaat om ‘n goddelike oordeel oor die dooies te voltrek. Oorspronklik was Osiris die god van groeikrag. Die Egiptiese godsdiens was ‘n etiese godsdiens en die Egiptenare het ook in onsterflikheid geglo. Diere het baiemaal as lewende beelde van spesifieke gode geparadeer, bv.:
- Die Apis-bul was heilig aan Ptah (god van handvaardigheid);
- Hapi was die god van die Nylvloed;
- Amen was versinnebeeld deur 'n padda.
Onder Amenhotep IV het die Egiptenare ‘n monoteïsme begin beoefen. Die hoofgod was Aton wat vir sedelike en morele orde verantwoordelik was. Aton was beskou as ‘n wêreldgod, beoordelaar, skepper, onderhouer en ewige vader. Na die dood van Amenhotep IV en tydens die Nuwe Ryk het bygelowe en towerkuns deel van die Egiptiese geloofswêreld geword. Die priesters het ‘n magiese rol begin vertolk.
Die Egiptiese kultuur het godsdienstige idees geskep wat ‘n diepgaande invloed op latere beskawings sou hê.
INTELLEKTUEEL-FILOSOFIES
Die Egiptiese nalatenskap sluit die volgende in: sterrekunde, wiskunde, die sonkalender, ‘n kaart van die hemelruim, rekenkunde, geometrie, die desimale stelsel, mediese wetenskap, skrif (hiërogliewe en demotiese skrif), papier, regsgeleerdheid en politieke teorieë.
KULTUREEL
Die Egiptiese kuns het uiting gegee aan ‘n gemeenskapsgees. Die grootste sukses op kunsgebied was in die argitektuur. Nie-natuuralistiese beeldhouwerk is opgelewer. Die skilderkuns het realisme nagestreef en was veral op muurpanele vasgelê.
SOSIAAL-EKONOMIES
Egipte was ingedeel in ‘n klasse-stelsel. Die beskawing het bestaan uit monogame families. Ondertrouery is beoefen. Die vrou het ‘n besondere posisie van status geniet; reg op besit van eiendom en handeldrywing.
Ekonomies het Egipte sterk gestaan in landbou, handel en nywerhede. Daar het tot fabrieke bestaan wat ongeveer 20 mense in diens geneem het. Egipte se ekonomie was op ‘n geldstelsel gebaseer en die praktyk van boekhouding was beoefen. Die ekonomiese stelsel was kollektivisties van aard.
Die Israelitiese Godsbeskouïng het binne enkele jare nou verweef geraak met diè van die volke waarmee hulle te doen gekry het, veral Egipte s’n. Hulle het dus ook in die bestaan van ‘n verskeidenheid gode begin glo – politeïsme. Hulle het steeds hul geloof in die God van hulle voorvaders – Abraham, Isak en Jakob – behou, maar het Hom nie as die enigste God aanbid of erken nie. Hulle het dus nie veel onderskeid getref tussen God en (af)gode nie.
Dit is teen hierdie agtergrond dat God dan nodig het om Homself aan Moses voor te stel in Eks. 3 met die brandende bos-ervaring. Let op hoe noukeurig God self onderskeid tref tussen Homself en die ander gode (v.6, 15-16, 18). Hy is die God wie die Hebreërs leer aanbid het in die tyd van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ook die eerste keer dat God vir die mensdom ‘n naam gee waarby Hy genoem kan word (v.13-15). Die naam wat hier vertaal word as “Ek is” se Hebreeuse ekwivalent is JHVH of YHVH. Die Hebreërs/Israeliete het nie vokale in hulle alfabet ingesluit nie. Dis eers later bygevoeg. Die uitspraak van die woord sou bekend gewees het aan die destydse leser. Weens die feit dat die woord in onbruik verval het (uit vrees dat god se naam ydellik gebruik sou word), is die uitspraak daarvan vandag onseker. Dis vir jare uitgespreek as “Jehovah”, aangesien die vokale van die woord Eloha (wat God beteken) ingevoeg is. Die moderne tendens is egter om dit eerder as “Jahweh” uit te spreek, wat nader aan korrek blyk te wees.
Die naam YHVH word reeds in Genesis gebruik. Die vraag ontstaan hoe die naam van God gebruik kon gewees het nog voor dit eens bekend gemaak is. As ons glo dat Genesis eers na die Eksodus 3-bekendstelling neergepen is, is dit nie moeilik om te verstaan dat die outeur van die boek wel die naam kon gebruik het waarmee hy vertroud was nie, eerder as om elke keer ‘n omvattende omskrywing te gee van die God van wie gepraat word.
Wanneer God Homself bekendstel as die God van die Hebreërs se voorvaders, roep dit noodwendig herinneringe aan die aartsvaderbeloftes by die Israeliete op. Die God wat met hulle ‘n verbond gesluit het maak nou weer met hulle kontak. Dit sou noodwendig volg dat die Israeliete sou wonder of YHVH beoog het om sy verbond met hulle te eer. ‘n Daaropvolgende vraag sou wees of Hy die mag en die outoriteit het om te doen wat Hy beloof het. In politeïsme is daar ‘n vasgestelde rangorde. Moses is self skepties oor die saak en hy besef dat sy gehoor ook sal wees, Israeliete sowel as Egiptenare.
In antwoord hierop onderneem God om Homself nie slegs as opper-God te openbaar nie, maar ook as enigste God. Elkeen van die plae waarmee Hy Egipte tref is daarop gerig om te bewys dat Hy die mag het oor elke aspek van die natuur en die mens se lewe. Daarmee steek YHVH die Egiptiese gode sleg die loef af. Die Farao, sy priesters en sy towenaars vind dit onmoontlik om beheer te kry oor die plae; hulle blyk nie suksesvolle inspraak te hê by hulle eie gode nie. Farao het elke keer nodig dat Moses vir hom moet gaan intersessie doen by die Israeliete se God. Om alle twyfel uit die weg te ruim gebeur dit elke keer op die tyd en dag wat deur die Farao aan Moses gespesifiseer is – nadat Moses tot YHVH gaan bid het. Die motivering wat Moses aanvoer lui: “… dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here nie.” (8:10).
Nà hierdie magsvertoon deur God bestaan daar geen twyfel meer dat daar slegs een God is nie. Beide die Israeliete sowel as die Egiptenare het die voorreg gehad om die ware God te leer ken. Maar God se mag is selfs verder uitgedra deur hierdie gebeure. Lees Rom. 9:17; Jos. 2:9-11; Jos. 9:24 en 1 Sam. 4:6-8.
Twee voortdurende herinnerings-aksies word ingestel sodat hierdie gebeure nie in die vergetelheid sal verdwyn nie:
- Die paasfees (Eks.12);
- Wyding van die eersgeborenes (Eks. 13).
Nie te lank na hierdie gebeure nie, bevind die Israeliete hulself in die woestyn. Moses is al veertig dae berg-op en die volk raak bekommerd dat hy te lank talm (Eks. 32). Hulle oortuig Aäron om vir hulle 'n afbeelding te maak van 'n god wat hulle kan volg. Dit word in die vorm van 'n bulkalf gemaak - nes die Egiptiese god, Apis. Oor hierdie god proklameer hulle: "Hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het, Israel!" (v.4b). Daarna begin daar 'n losbandige feesviering, nes hulle gewoond was by die heidense feeste. God is egter nie hiervoor te vinde nie. Al poog hulle om op 'n lomp manier aan die regte God hulde te bring, laat God hulle goed verstaan dat Hy nie bereid is om in 'n beeld vasgevang te word nie. Hy is meer as wat mense Hom kan maak. Hy is heiliger as die losbandigheid waarmee mense Hom wil vereer. Hy pas eenvoudig nie binne die eng raamwerk waarmee die Israeliete Hom wou inperk nie. Hiermee laat God duidelik verstaan dat Hy Homself nie deur mense sal laat vasvang in wat vir hulle 'n "hanteerbare formaat" is nie. Dit help nie dat die Israeliete die regte naam aan die verkeerde god koppel nie - hulle moet die regte naam aan die regte God koppel om 'n ware Gods-diens te beoefen.
Deur die res van die mens se geskiedenis met God - binne die Bybel sowel as daarbuite - laat God die mens telkens duidelik verstaan dat Hy nie 'n beeld in 'n mens se kop is nie, maar 'n reële God wat geken kan word vir Wie en Wat Hy werklik is. Hy is meer as net 'n troosbeeld vir 'n ontwortelde mensdom.
4.4 Die Geskiedenis van Eksodus
4.4 Die Geskiedenis van Eksodus
Die verhaal van Eksodus begin waar die verhaal van Genesis geëindig het, nl. waar die Israeliete hulle-self in Egipte bevind en begin vermeerder in die land. Mettertyd het die Israeliete 'n bedreiging vir die Egiptenare begin inhou. Soos die ander volke wat hulle ook in Egipte bevind het, was die Israeliete ook aan die Egiptenare skatpligtig (sien 4.1) en moes hande-arbeid verrig vir die voorreg om in Egipte te bly.
Die Farao het besluit om die getalle van die Israeliete te beheer en daarom neem hy die wrede besluit om alle Israelitiese babaseuntjies te laat vermoor. God voorsien egter twee vroedvroue om die kinders se lewens te red. Hulle word dan op hulle beurt deur God geseën met huisgesinne van hulle eie (Eksodus 1).
Teen hierdie agtergrond volg Moses se geboorteverhaal en sy vernuftige ontkoming van die dood. Deurdat Moses deur die Farao se dogter gered word, smaak hy die voorreg om in die paleis groot te word. Hier word hy blootgestel aan leierskap op die hoogste vlak. Ook geniet hy die room van die Egiptiese opleidingstelsel. Eers word hy egter aan sy Ma terugbesorg om gesoog te word. Sy sorg dat Moses stewig onderlê word in die Hebreeuse kultuur en vestig by hom ‘n volksvereenselwiging met die Israeliete (2:1-10). Hierdie gebeure, wat oor 40 jaar strek, dra daartoe by dat Moses voorberei word vir sy uiteindelike lewenstaak; om die Israeliete uit Egipte te lei en om die wette van God neer te pen.
Ons word bewus gemaak van Moses se sterk Hebreeuse assosiasie wanneer hy ‘n Egiptenaar vermoor wat besig is om ‘n Israelitiese werker te mishandel. Wanneer die moord berig gemaak word, moet Moses vlug voor die gereg en voor die Farao (2:11-15).
Moses vlug na Midian, ‘n woestynagtige streek. Daar ontmoet hy sy vrou, Sippora, die dogter van ‘n Midianitiese priester, Reüel/Jetro – dus ‘n afgodspriester (2:15-22). Saam verwek hulle twee seuns (4:20). Later sou Moses weer trou (dis onbekend wat van Sippora geword het). Hierdie keer trou hy egter met ‘n Kussietiese/Ethiopiese vrou, wat struweling tussen hom en sy familie veroorsaak (Num. 12).
Vir die volgende 40 jaar pas Moses skape op in die woestyn, waar hy goed bekend word met die tipe omgewing waardeur hy uiteindelik die Israeliete sal moet lei. Weereens strek hierdie tydperk in sy lewe dus tot voorbereiding vir dit wat later sal volg.
God let op die volk se nood en besluit om sy beloftes aan die aartsvaders te eer deur die Israeliete te red en na hul beloofde land, Kanaän, te lei (2:23-25).
Moses se roeping volg op hierdie besluit van God (Eks. 3). Moses was sy lewe lank blootgestel aan afgode – diè van Egipte sowel as diè van Midian – en het nodig om die ware God van Israel te leer ken. God het intussen relatief onbekend geword aan die Israeliete. Hierdie bekendstelling word breedvoerig in 4.3 behandel en sal dus nie hier herhaal word nie.
Ter bevestiging van Homself, rus God Moses toe met krag om enkele wonderwerke te verrig. Hierdie tekens het ten doel om Moses, die Israelitiese leiers, sowel as die Farao te oortuig van God se mag en Moses se roeping (Eks. 4).
Ten spyte van sy voorbereiding voel Moses homself nogtans nie opgewasse vir die taak op hande nie. 4:13 lees: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” In antwoord hierop kies God Aäron – wat reeds oppad is – om Moses by te staan.
Oppad na Egipte vind daar ‘n struweling tussen God en Moses plaas, wat herinner aan die destydse struweling tussen God en Jakob (vgl. Gen. 32:24-32 met Eks. 4:24-26). Moses het nodig om as voorspraak vir die verbond op te tree by die Israeliete. Dit kan egter nie gebeur tot hy nie homself en sy gesin weereens tot die verbond verbind het nie. Hy het nodig om weer die besnydenis in te stel (Eks. 4:24-26). Slegs nou kan Moses, as verbondsonderhouer, optree as die verbondshouer van Israel. Die besnydenis was 'n bloedverbond tussen God en die Israeliete.
In Egipte aangekom ontmoet Moses en Aäron die leiers van die Israeliete. Hulle vertel hulle verhaal en verrig enkele wonderwerke voor die leiers se oë. Die leiers aanvaar Moses en Aäron se sending, glo God en aanbid Hom (4:29-31).
Moses en Aäron moet nog daarin slaag om die Farao te oortuig. Met behulp van magiese magsvertoon is die Farao oorspronklik in staat om die wonderwerke na te boots en vind hy – wat self as god gereken word – geen rede om homself voor die Israeliete, ‘n minderwaardige volk sonder grondgebied, se God te verneder nie. Deur die loop van die volgende hoofstukke sien ons hoe die Farao aan God probeer dikteer en Hom probeer oortref. Uiteindelik moet hy egter erken dat God oppermagtig is wanneer Hy die hoofgod van Egipte, Ra, die songod, verduister en selfs die Farao se eie seun, beskou as ‘n god, laat sterf (vgl. 4:23 met 12: 29-30).
Met hierdie tentoonstelling openbaar God Homself net soveel aan die Farao en aan Egipte as aan die Israeliete. God se reputasie word ook onder die omliggende volke gevestig, bv, 1 Sam. 5:7-8. Egiptenaar sowel as Israeliet is voor dieselfde uitdaging gestel: kies die ware God en kies die lewe. Lees Rom. 9:17: ‘In die Skrif sê God immers vir die Farao: ”Juis hiervoor het Ek jou teen my in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” ‘ Hierdie gedeelte handel oor God se GENADE.
Dat God die Farao se hart verhard het en hom dan daarvoor gestraf het, is iets wat menige persoon al moeilik gevind het om te verstaan (8:15, 32). God het Farao se hart op dieselfde manier verhard as wat die evangelie mense se harte verhard wanneer hulle dit verwerp. Vir sommige bring die evangelie verlossing en vir ander bring dit dood (2 Kor. 2:15-16). Hand. 19:9 sê dat party hardkoppig was en hulle nie laat oortuig het nie, selfs nie deur Paulus se prediking nie. Die blaam lê nie by die prediker nie, maar by die persoon wat die boodskap verwerp. So was dit ook met die Farao. God se boodskap was slegs die GELEENTHEID vir die verharding van sy hart. Die OORSAAK was sy eie besluit om die boodskap te ignoreer (Pearlman, p.21).
Midde-in hierdie gedeelte (6:13-26) vind ons ‘n onvolledige stamboom van die leiers wat uit Israel stam. Slegs die oudste drie kinders (stamme) word gelys, nl. Ruben Simeon en Levi. Levi word in detail gelys, want dit is die stam waaruit die priesters – en ook Moses en Aäron - spruit.
Uit Levi: Gerson, Kehat, Merari
Uit Gerson: Libni, Simri
Uit Kehat: Amram, Jishar, Hebron, Ussiël
Uit Merari: Magli, Musi
Uit Amram: Moses, Aaron
Uit Moses: Gersom (18:3), Eliëser (18:4)
Uit Aaron: Nadab, Abihu, Eleasar, Itamar
Uit Eleasar: Pinehas
Uit Jishar: Korag (Koragiete), Nefeg, Sikri
Uit Korag:Assir, Elkana, Abiasaf
Uit Ussiël: Misael, Elisafan, Sitri
Uit Gerson: Libni, Simri
Uit Kehat: Amram, Jishar, Hebron, Ussiël
Uit Merari: Magli, Musi
Uit Amram: Moses, Aaron
Uit Moses: Gersom (18:3), Eliëser (18:4)
Uit Aaron: Nadab, Abihu, Eleasar, Itamar
Uit Eleasar: Pinehas
Uit Jishar: Korag (Koragiete), Nefeg, Sikri
Uit Korag:Assir, Elkana, Abiasaf
Uit Ussiël: Misael, Elisafan, Sitri
God ag nie die lewens van die eersgeborenes van die Egiptenare, waarmee die Israeliete vrygekoop is, gering nie. Die Israeliete moet besef dat dit suiwer God se genade was wat hulle gespaar het. God stel twee aksies in wat die Israeliete aan diè duur prys moet herinner:
Die eerste is die paasfees (12:1-28). Hierdie fees van loskoping gedenk Christene vandag as die nagmaal, nadat Jesus Christus as die eersgebore Seun van God gesterf het om ons vry te koop van sonde. Die nagmaal is deur Jesus self ingestel die aand voor sy teregstelling (Lees Matt. 26:17-30; Mark. 14:12-25 en Luk. 22:7-23).
Die tweede is die toewyding van die eersgeborenes aan God (13:1-16). Elke Israelitiese ouer sou in die toekoms gekonfronteer word met die duur prys van vryheid en herinner word aan die genade waarmee God sy volk gered het. 13:16 lees: “Soos ‘n teken op die hand en ‘n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons met groot mag uit Egipte bevry het.” God sou later self nie sy eersgebore Seun terughou om weer vir Hom ‘n volk uit genade te red nie. Dit word verwesenlik wanneer Jesus Christus in ons plek gekruisig word om die prys van ons sondes te betaal (Lees Ef. 1:5-7, 11, 13).
In 13:17-22 leer die Israeliete God ken as Leidsman (‘n God wat leiding gee). Hy verskaf aan hulle terselfdertyd skaduwee en lig as beskerming en rigtingwyser. Hy wys hulle wanneer en waarheen om te trek. Let byvoorbeeld op die rede wat verskaf word vir die ompad wat gevolg moet word in v. 17. Gedurende die hele veertig jaar lange swerftog deur die woestyn sal God sigbaar teenwoordig wees by die volk in die vorm van ‘n wolkkolom of ‘n vuurkolom.
In Hoofstuk 14 leer die Israeliete God ken as Redder by die Rooi-/Rietsee. Daar is ‘n rebellie (v.10-12). Moses tree as geloofsleier op wanneer hy sy geloof en vertroue in God uitspreek (v. 13-14). God beloof redding (sien die motief in v.18b – redding, en nie verdelging nie). God red die Israeliete d.m.v. ‘n wonderwerk. Die Israeliete se geloof word deur hierdie insident versterk. Hierdie patroon van rebellie en redding sal homself dikwels herhaal in die daaropvolgende 40 jaar.
Moses en die Israeliete sing in 15:1-19 'n lied wat God se wonderbaarlike redding vereer. Die lied is òf later eers ingevoeg, òf dit is profeties. Die oorloë teen die Filistyne, Edomiete, Moabiete en Kanaäniete sou eers later volg. So ook die inname van die ‘gewyde land'. Wat van belang is, is dat die lied die gedagte onderstreep dat God hierdie insidente gebruik het om sy almag as Oppergod te bewys (v. 11). Ook Mirjam, Moses en Aäron se suster, en die Israelitiese vroue het in koordans saam gejubel en gesing (v. 20-21). Hierdie gedig is een van die oudste Hebreeuse gedigte en dateer waarskynlik terug na die dertiende eeu vC.
Die Israeliete se swerftog begin nou. Dis belangrik dat die leser sal tred hou met plekname, aangesien latere verwysings na hierdie plekke, kennis van die insidente wat hier plaasgevind het as noodsaaklike agtergrond vir argumente en uitsprake gebruik.
By Mara aangekom, het die volk gekla oor die bitter water (v. 22-27). Moses doen intersessie en God maak d.m.v. 'n wonderwerk die water soet. Let egter op die toets wat God vir die volk stel, waardeur Hy hulle gesondheid verseker (v. 25b-26). Daarna is hulle na die oase by Elim.
In die Sinwoestyn is daar weereens 'n rebellie (hfst. 16). God stel die volk weereens voor 'n toets: sal hulle God vertrou om te voorsien op 'n daaglikse basis, of sal hulle weereens in ongeloof handel? God se voorsiening van daaglikse porsies manna - wat oor veertig jaar strek - word as sulks gemotiveer: "sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is." Inisieël dop die volk die toets, maar leer gou dat hulle God kan vertrou om daagliks te voorsien (die Sabbat het unieke bepalings gehad). 'n Porsie manna word in bewaring gehou vir die nageslag. Die voorkoms en smaak van die manna word in v. 31 beskryf.
Hierna verskuif die volk na Refidim/Meriba/Massa (verskillende name vir dieselfde plek) in hoofstuk 17. Weereens was daar 'n rebellie omdat daar nie genoegsame water was nie. Moses vrees vir sy lewe a.g.v. die volk se optrede. Hy doen intersessie by God. Op bevel van God slaan hy 'n rots met sy kierie en daar kom water uit. Telkens is die Israeliete en/of hul leiers ooggetuies van God se wonders.
Dis terwyl die volk by Refidim uitkamp, dat die Amalekiete 'n aanval teen hulle loods. Josua word gekies as bevelvoerder van die weermag - wat op die einde dien as voorbereiding vir sy taak; om Kanaän in te neem. Gedurende die geveg tree Moses as intersessor op, ondersteun deur Aäron en Hur. Wanneer die Amalekiete verslaan is, bou Moses 'n altaar vir God.
Jetro/Reüel en Moses se gesin ontmoet die volk by Sinai (18:5). Op grond van Moses se getuienis, 'bekeer' Jetro hom tot JHVH (v. 10-11). Op advies van Jetro, verdeel Moses die volk in kleiner groepe met 'n hiërargie van leiers. Sodoende word sy taak as leier aansienlik verlig. Daarna vertrek Jetro.
Hoofstuk 19 vertel van die volk se aankoms by Sinaïberg. In die verloop van die volgende paar hoofstukke sal Moses sewe keer teen die berg opklim om met God te ontmoet - mits ons die chronologie van die gedeelte reg verstaan.
In die eerste ontmoeting (19:3 ev.) verg God van die Israeliete om 'n priesterlike volk te wees. Die implikasie is dat die Israeliete as middelaars tot versoening ('n priester se taak) vir die ander volke sal dien. Die volk verbind hulle tot hierdie verbond met God (v. 8).
Tydens die tweede ontmoeting (19:8b ev.) deel Moses die volk se antwoord aan God mee. God bevestig Moses se leierskap en beveel hom om die volk gereed/geheilg te kry vir 'n ontmoeting met hul heilige God. Vir die volgende drie dae maak die volk gereed vir hierdie ontmoeting.
Met die derde ontmoeting (19:20 ev.) beveel God Moses om af te gaan en die volk te waarsku om nie naby die berg te kom nie. Moses word ook beveel om Aäron saam te bring na die volgende ontmoeting toe. Dit blyk asof die tien gebooie/dekaloog tydens hierdie ontmoeting aan Moses gegee is (hfst. 20), hoewel die chronologie hier effe duister is.
Op hierdie stadium (20:18-21) voel die volk geïntimideer deur God se magsvertoon. Hulle vaardig Moses af om as intersessor tussen hulle-self en God op te tree. Dis dan ook hoe dit kom dat Moses 'n vierde ontmoeting met God het (v. 21 ev.). Tydens hierdie ontmoeting gee God 'n hele paar wette rakende die bou van 'n altaar, orde en sedes in die samelewing, die Sabbat, en feeste en offers (20:2-26; 21; 22 en 23:1-19). Ten slotte verbind God Homself daartoe om die volk by te staan en te seën met die inname van Kanaän - mits hulle Hom alleen as God dien en sy gebooie onderhou (23:20-33). Moses word dan teruggestuur na die volk toe en beveel om verskeie leiers saam te bring na die daaropvolgende ontmoeting (24:1-2).
Moses is terug na die volk. Hy skryf die gebooie neer, bou 'n altaar, en lees die gebooie aan die volk voor. Nadat daar aan God geoffer is, sluit die volk opnuut 'n verbond met God (24:1-8).
Moses, Aäron, Nadab, Abihu (Aäron se twee oudste seuns) en 70 van Israel se leiers het die berg bestyg vir die vyfde ontmoeting met God (24:9 ev.). Hier het hulle God gesien en bly leef (geëet en gedrink).
God het Moses hoër op geroep en hy is toe verder op met Josua (v. 12-13) om die wet, wat God self op kliptafels neergeskryf het, in ontvangs te gaan neem. Moses laat Aäron en Hur in beheer van die volk.
Op die sewende dag het God Moses nog nader geroep (24:16b ev.). Klaarblyklik het Moses van hier af alleen verder gegaan. Hy het 40 dae in die teenwoordigheid van God deurgebring. Tydens hierdie 40 dae gee God aan Moses instruksies rakende die oprigting van die tabernakel, voorbereiding van die tabernakel-toebehore, asook die priesters se klere, die wyding van die priesters, die offers, die gekose vakmanne (by name geroep en met die Heilige Gees toegerus), en die Sabbat (hfst. 25-31). Dit sluit dus al die bepalings rakende godsdiens rituele in.
Op hierdie stadium word die vertelling (asook die verhouding) tragies verbreek deur die volk se ontrouheid teenoor God met die aanbidding van die goue kalf (hfst.32). Die implikasies hiervan is reeds breedvoering bespreek in 4.3 en sal dus nie hier herhaal word nie. Let egter gerus op 'n paar interessanthede:
- Die openbarings-kennis wat God met Moses deel (v.7-8);
- Moses se intersessie vir die volk en hoe hy God se belange (naam/reputasie) probeer beskerm (v. 9-13);
- Dat God van plan verander op grond van vurige gebed/intersessie (v. 14);
- Moses se passie vir God se saak blyk uit die breek van die kliptafels, sy woede, ens. (v. 19-20);
- Aäron, as leier, word tot verantwoording geroep;
- Aäron se leuen (v. 24b);
- Die Leviete se toewyding aan God se saak (v. 25-29);
- Moses se bereidheid om weereens vir die volk by God te gaan intree en sy bereidheid om homself op te offer vir hulle oortredinge - dus sy passie vir die volk (v. 30-32);
- God se regverdigheid en geregtigheid (v. 33-35).
'n Insiggewende openbaring in die verhouding van die leiers, Moses en Josua, met God, word in 33:11 weergegee: "Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met 'n vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie."
Moses was nie tevrede daarmee dat God nie sou saamtrek nie en hy onderhandel met God. 33: 15 sê: "... As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie." In v. 17 antwoord God: “Ook wat jy nou gevra het, sal ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam." Moses is steeds nie tevrede nie en vra om God te sien. God onderneem om aan hom te verskyn. Eers moet Moses egter gereed maak vir 'n sewende ontmoeting met God op die berg (33:7-34:3).
Vir die sewende ontmoeting (34:4 ev.) kap Moses weer twee tafels uit klip uit en klim die berg op. Hy kry hy 'n tweede kopie van die tien gebooie asook enkele ander wette. Wanneer hy van hierdie ontmoeting met God af terugkeer na die volk toe, blink sy gesig sò dat die volk, insluitend Aäron, te bang is om naby hom te kom (v. 29 ev.). Moses moes vir die res van sy lewe agter 'n sluier leef, behalwe wanneer hy die volk toegespreek het of met God ontmoet het. Verskeie verwysings na hierdie sluier kom elders in die Bybel voor, bv. 2 Kor. 3.
Dit was tydens die sewende ontmoeting dat God sigbaar aan Moses verskyn het (34:5-7). Lees gerus hierdie verse om te sien hoe God Homself aan Moses bekendstel en watter eienskappe van Homself Hy hier openbaar.
Hierna roep Moses die volk bymekaar (hfst. 35). Hy deel weereens die Sabbatsbepalings met hulle. Daarna doen hy 'n beroep vir skenkings/gawes op hulle om die tabernakel - en alles wat daarmee gepaard gaan - op te rig. As gevolg van die volk se oorvloedige bereidwilligheid om te gee, is daar spoedig meer as genoeg, sodat Moses nodig het om die gawes stop te sit (36:2-6). Hierna word die tabernakel opgerig (hfst. 36-39).
In hfst. 40 word alles gewy, insluitend die priesters. Verse 34-38 vertel hoe God se teenwoordigheid die tabernakel gevul het. Daar word dikwels hierna verwys as die Shekinah-glorie van God (die Hebreeuse woord om die teenwoordigheid van God uit te druk). Hierna kon die volk verder trek, weg van Sinaï.
4.5 Die Wette en Godsdiensrituele
4.5 Die Wette en Godsdiensrituele
Hartin (1977, p. 48-58) deel die wette/gebooie in Eksodus as sulks in:
- Aanbiddingswette (20:21-26)
- Wette rakende slawe (21:1-11)
- Wette rakende manslag (21:12-17)
- Wette rakende liggaamlike beserings (21:18-36)
- Wette rakende eiendomsbeskadiging (22:1-15)
- Sosiale wette (22:16-31)
- Godsdiens wette (23:10-19)
‘n Poging om die wette rofweg volgens onderwerp in te deel lewer die volgende resultate:
- Eersgeborenes (13:1-16; 22:29-30; 34:19-20)
- Manna (16)
- Dekaloog (20:1-17)
- Bou van ‘n altaar (20:22-26)
- Slawe (21:2-11)
- Beserings en beskadiging (21:12-36)
- Diefstal (22:1-4)
- Veldbrand (22:5-6)
- Besittings in ander se sorg (22:7-15)
- Liefdesverhoudings (22:16-17, 19)
- Towenaars, ens (22:18)
- Afgode (22:20; 34:11-17)
- Vreemdelinge/’foreigners’ (22:21, 23:9)
- Weduwees en wese (22:22-24)
- Armes (22:25-27; 23:3, 6, 11; 30:15)
- Leierskap (18:1-27; 22:28)
- Offers (22:29; 34:25-26; 23:14-19)
- Kos (22:31)
- Leuens en getuienisaflegging (23:1-3, 6-8)
- Vyande (23:4-5)
- Sabbat en Sabbatsjaar (23:10-13; 31:12-18; 34:21; 35:1-3)
Drie feeste word in Eksodus ingestel:
- Die fees van ongesuurde brode (12:1-28, 41-51; 34:18)
- Fees van die Oes/Weke (23:16a; 34:22a)
- Fees van insameling/Huttefees (23:16b; 34:22b)
23:19 beveel dat ‘n lam nie in sy ma se melk gekook mag word nie. Hierdie wet is uniek aan die Israeliete. Dit was algemene gebruik onder die Kanaänitiese volke om die offerdier in sy ma se melk te kook. Deur dit te verbied bewys die Israeliete hul afsku in afgodsdienspraktyke.
24:1-11 – Vir die verbond om wettig te wees, was dit nodig om deur ‘n tipe fees of rite te gaan. Twee sulke feeste wat uit twee onderskeibare tradisies (JEDP tradisies) stam, word in Eksodus beskryf:
- J-tradisie: Die verbond word beseël deur die nuttiging van ‘n maaltyd deur die leiers van Israel. Hierdeur word die Israeliete en God verenig in die verbond (24:1-2, 9-11).
- E-tradisie: Die verbond word bevestig deur die besprinkeling met bloed. Moses tree op as tussenganger tussen God en die Israeliete. Hy verenig hulle simbolies met God deur die bloed eers op die altaar (simbool van God) en dan op die mense te sprinkel (24:3-8).
Almal stem saam dat daar tien gebooie in die dekaloog is, maar die indeling daarvan verskil:
Philo, Josephus, Griekse vaders en die Gereformeerde kerke
|
Moderne Jode
| |
1. Verbod op vals of vreemde gode.
|
1. Verbod op vals gode (die verbod op afgode is soms hierby ingesluit en soms uitgesluit).
|
1. Inleiding: “Ek is die Here …”
|
2. Verbod op afbeeldings.
|
2. Ydellike gebruik van God se naam.
|
2. Verbod op vals gode of afgode.
|
3. Ydellike gebruik van God se naam.
|
3. Sabbat
|
3. Ydellike gebruik van God se naam.
|
4. Sabbat
|
4. Ouers
|
4. Sabbat
|
5. Ouers
|
5. Moord
|
5. Ouers
|
6. Moord
|
6. Egbreuk
|
6. Moord
|
7. Egbreuk
|
7. Diefstal
|
7. Egbreuk
|
8. Diefstal
|
8. Vals getuienis
|
8. Diefstal
|
9. Vals getuienis
|
9. Begeertes van vroue
|
9. Vals getuienis
|
10. Begeertes (van vrou en besittings)
|
10. Begeertes van besittings
|
10. Begeertes
|
(Uit: Hartin, p.46)
Eksodus beskryf breedvoerig hoe die items wat in die godsdiensrituele gebruik sou word moes lyk. In 25:1-9 en 35:4-9 word daar gespesifiseer watter gawes die volk moes bring vir die maak van hierdie items.
Die godsdienstige items en rituele in Eksodus sluit in:
- Ark (25:10-22; 37:1-9)
- Tafel vir die offerbrood (25:23-29; 37:10-16)
- Kandelaar (25:31-40; 37:17-24)
- Tabernakel (26; 36:8-38)
- Brandofferaltaar (27:1-8; 38:1-7)
- Voorhof (27:9-19; 38:9-20)
- Lampe (27:20-21)
- Priesters se klere (28; 39:1-31)
- Daaglikse offers (29:38-46)
Let op die volgende aspekte rakende offers en offerdiens:
- Bloed
- Vet
- Suurdeeg
- Dit moet die BESTE wees
- Meel
- Olie
- Wyn
- Wierookaltaar (30:1-10; 37:25-29)
- Versoeningsoffer tydens ‘n sensus (30:11-16)
- Bronswaskom (30:17-21; 38:8)
- Salfolie (30:22-33)
- Wierookoffer (30:34-38)
- Wyding van Aäron en sy seuns (29:1-37)
(Uit: Spirit Filled Life Bible, p. 137)
(Uit: Spirit Filled Life Bible, p. 120)
(Uit: The New Open Bible Study Edition, p.101)
Eksodus sluit ook ‘n paar opsommings in:
- Die materiaal wat gebruik is in die konstruksie van die tabernakel en meegaande items (38:21-31)
- Al die items wat gemaak is (39:32-43)
- Opslaan en wyding van die tabernakel (40)
- Ek beoog om meer omtrent die volgende onderwerpe uit te vind:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
- Die verhale van mense wat by die naam geroep is (bv. Moses, Aäron, Hur, Josua, die vakmanne, ens.) om hulle individuele lewenstake/’purposes’ uit te voer, bring ‘n mens noodwendig tot die besef dat God persoonlik met mense kontak maak en dat Hy vir hulle spesifieke take/roepings het om uit te voer.
A) Stem jy saam met die stelling? Ja___/Nee___
- Glo jy dat God ‘n roeping op/doel met jou lewe het? Ja___/Nee___
- Weet jy wat jou roeping is? Ja___/Nee___
- Indien wel, spesifiseer. Indien nie: wat kan jy doen om te probeer vasstel wat jou roeping is? Wees prakties.
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
- Verskeie verhale in Eksodus vertel dat God die enigste en ware God is.
- Glo jy dat God (JHVH) die enigste en ware God is? Ja___/Nee___
- Het jy al ‘n persoonlike ervaring/kennismaking met God gehad wat jou oortuig het van die feit dat Hy rieël is? Ja___/Nee___
- Indien wel, skryf jou getuienis neer. Indien nie: wat kan jy doen om God in gees en in waarheid te leer ken? Wees prakties.
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
- By Sinai het die Israeliete vir hulle ‘n beeld van ‘God’ geskep. Hulle het die beeld by die regte naam genoem, maar God het nie Homself in die beeld herken nie.
- Het jy ‘n prentjie/idee van God in jou kop wat nie waar is nie? Ja___/Nee___
- Dis maklik om ‘n houvas op ‘n beeld te kry (beheer oor jou god te kry). Het jy God in ‘n maklik hanteerbare/beheerbare formaat herskep in jou kop? Ja___/Nee___
- Indien wel: wat kan jy doen om die beeld van God, wat jy in jou kop het, te herstel sodat dit die werklike God kan reflekteer? Wees prakties.
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
4.7 Bibliografie
- The New Open Bible Study Edition. 1990. New King James Version. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
- DU PLESSIS, P.J. en Lategan, B.C. 1983. Agtergrond en geskiedenis van die Nuwe Testament. Academica: Pretoria/Kaapstad, pp. 15-50.
- HANDBOEK BY DIE BYBEL. 1986. Lux Verbi: Kaapstad.
- DIE BYBEL IN PRAKTYK NAV. 1993. CUM: Vereeniging.
- Alexander, P. (ed.). 1978. The Lion Encyclopaedia of the Bible. Lion publishing: England.
- SPIRIT FILLED LIFE BIBLE (NKJV). 1991. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
- HARTIN, P.J. 1977. The Word endures forever. Patrick J. Hartin: Johannesburg.
- PEARLMAN, M. 1935. Through the Bible book by book Part 1 O.T. Genesis – Esther. Gospel Publishing House: Springfield.
- VOS, H. F. 1999. Nelson's new illustrated Bible manners & customs : How the people of the Bible really lived . T. Nelson Publishers: Nashville, Tennessee.
Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.
No comments:
Post a Comment