Die Bybel Legkaart blog is begin met die gedagte om die samehang van die Bybel as geheel aan mense te openbaar. In die eerste twee aflewerings van hierdie blogs, is die totstandkoming en vertaling van die moderne Bybel nagevors. In die daaropvolgende blogs is die boeke van Genesis en Eksodus van naderby bekyk. In hierdie blog bekyk ons Levitikus.
Die eerste blogs in die reeks kan d.m.v. hierdie skakels opgespoor word:
In hierdie blog bekyk ons Levitikus as 'n geheel. Ons kyk na die ontstaan en outeur van die boek. Ons bekyk dit vanuit 'n teologiese en Bybelkundige perspektief, maar ook met die oog van iemand wat 'n verhouding met die God van Levitikus het.
AFDELING B: DIE PENTATEUG
Deel 5
Levitikus
-
Agtergrond tot Levitikus
-
Offerandes
-
Leviete
-
Heiligheid
-
Feeste
-
Toepassing
-
Bibliografie
5.1 Agtergrond
tot Levitikus
Die woord Levitikus
dui op die nageslag van Levi, die Leviete, onder wie ook die
priesters tel. Die Leviete moes as tussengangers tussen God en die
Israeliete optree. In Levitikus word sekere reëls en riglyne
neergelê waarvolgens die mens moes leef om ‘n verhouding met God,
wat allerheilig is, te bou.
Die wedergebore
Christen word aangeraai om Hebreërs saam met Levitikus te lees. Die
Hebreërbrief is aan die Joodse Christene (Hebreërs) gerig. Die
skrywer verduidelik die rol van Christus as hoëpriester en finale
offer vir ons sondes in detail.
Die hedendaagse
Christen sal Hebreërs slegs kan verstaan as hy/sy vertroud is met
die agtergrond van die brief, soos wat Levitikus dit verskaf. ‘n
Stewige agtergrondkennis van Levitikus sal noodwendig dissipelskap en
evangelisasie onder Judaïste ondersteun.
OUTEUR
Soos met die res van
die Pentateug, word Moses tradisioneel beskou as die outeur van
Levitikus:
- Daar word 56 keer in Levitikus gesê dat die inhoud van die boek deur God aan Moses geopenbaar is, bv. 1:1 en 27:34 (die eerste en laaste verse);
- Jesus erken Moses se outoriteit in Matt. 8:2-4 (Lev. 14:1-4); Matt. 12:4 (Lev. 24:9) en Luk. 2:22;
- Die Levitiese kode pas in die Mosaïese tydgleuf :
- Kode van Hammurabi (2 000 tot 1 750 vC.)
- Ras Sharma Tablette (1 400 vC.)
Die JEDP teorie dig die laaste helfte
van Eksodus, die hele Levitikus en die grootste gedeelte van Numeri
aan die Priesterlike tradisie (P) toe. Ook sekere gedeeltes in
Genesis, o.a. die skepping (Gen. 1:1-2:4a) word aan die Priesterlike
tradisie toegedig.
DATERING
Volgens die
tradisie-teorie is Levitikus klaarblyklik geskryf tydens die
ballingskapsjare, terwyl Israel se geloof aangeval was. Dit is by
die JED tradisies gevoeg na die ballingskap maar voor 400 vC. Ons
weet dit moes voor hierdie tyd bygevoeg gewees het, omdat die
Pentateug reeds teen 400 vC. gekanoniseer was.
As ons glo dat Moses
die outeur was, word die boek by Sinai geskryf (Eks. 24:40 en 34:27).
Die finalisering van die boek moes dan tydens die veertigjarige
woestyn-swerftog plaasgevind het, teen ongeveer 1 400 vC.
Die nuwe Israelitiese
kalender begin by die viering van die eerste Pasga/Paasfees (Eks.
12:2). Volgens Eks. 40:17 is die tabernakel presies een jaar later
opgerig. Levitikus hervat die verhaal op hierdie punt, die eerste
maand van die tweede jaar. Num. 1:1 begin by die tweede maand.
Levitikus dek dus die bestek van een maand.
AGTERGRONDGESKIEDENIS EN
GEOGRAFIE
Daar vind geen geografiese beweging plaas in Levitikus nie. Tydens
die hele verhaal van die boek, bevind die Israeliete hulle aan die
voet van Sinai/Horeb.
Sien die onderstaande
kaart wat belangrike roetes aandui in die wêreld van die Pentateug
Dit is belangrik dat
die leser vertroud sal wees met die geskiedenis van Genesis en
Eksodus, veral aangesien die een boek eenvoudig chronologies op die
volgende een volg. Diè twee boeke vorm saam noodsaaklike
agtergrondkennis tot die verstaan van Levitikus.
Die boodskap van
Levitikus kan kortliks as volg opgesom word:
- Toegang tot God is slegs moontlik deur bloed;
- Heiliging/Reiniging is nodig om toegang tot God te verkry. Lev. 19:2 – “Wees heilig, want die Here julle God is heilig.”
Daar is 152
verwysings na heiligheid in Levitikus, meer as in enige ander boek
van die Bybel. Die woord ‘heilig’ self, kom meer as 80 keer in
die boek voor.
Om heilig te wees
raak meer as slegs die mens se verhouding met God, dit raak ook die
mens se verhouding met sy medemens. Hierdie gedagte word in Lev.
19:18b gestateer:” … jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Hierdie gedagte is ook deur Jesus beaam in Matt. 7:12 – “Alles
wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook
aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die
profete.”
Hoofstuk 26 verskaf
'n lys seëninge en strawwe wat met wetsonderhouding gepaard gaan.
Hierin word dit duidelik dat God begeer om 'n verhouding met die
Israeliete aan te knoop. Hy wil hulle graag seën met die beste wat
die aarde kan oplewer. Daar is egter voorwaardes aan verbonde. Die
belangrikste van hierdie voorwaardes is dat die Israeliete vir God
sal respek hê. Hierdie respek word veral vergestalt in die
ontkenning van enige ander gode en die erkenning van die Een ware God
wat heiliger is as enige iets of iemand waarmee die Israeliete tot op
hede te doen gekry het.
Teen hierdie
agtergrond vorm hoofstuk 27 'n hoofstuk van genade. In sy onkunde
maak die mens soms maklik beloftes. God eer die mens se woord en
verwag van hom om sy woord gestand te doen, soos God altyd sy eie
woord onderhou. God gee die mens grasie deur aan hom 'n manier te
gee om uit hierdie beloftes te kom, maar daar is telkens 'n prys aan
verbonde.
Die boek van
Levitikus is tradisioneel die eerste boek wat aan Joodse kinders
geleer is.
UITLEG
Levitikus is ‘n
wetboek. Die uitleg van die boek sal dus ‘n poging wees om die
gegewe wette te groepeer volgens tema:
- Wette oor Offerandes - Hoofstukke 1-7
- Wette oor Priesterskap - Hoofstukke 8-10
- Wette oor Reiniging - Hoofstukke 11-22
- Wette oor Feeste - Hoofstukke 23-24
- Wette oor die Land - Hoofstukke 25-27
‘n Mens sou die
boek ook eenvoudig in twee hoofdele kon verdeel:
- Offerandes - Hoofstukke 1-17
- Heiligmaking - Hoofstukke 18-27
So ‘n indeling stem
ooreen met die boodskap van die boek, nl. dat offerandes nodig is om
tot God te nader, en dat die persoon wat tot God wil nader ‘n
heilige lewe moet lei.
Vosloo lê die boek
soos volg uit:
5.2 Offerandes
Geen offers met enige
gebreke mag aan die Here geoffer gewees het nie. God is slegs met
die beste tevrede (22:17-33).
Die Brandoffer (‘n algehele vuuroffer) Lev. 1; 6:8-13; 7:8-10
Die brandoffer stel
‘n algehele toewyding aan God voor. Spesifieke instruksies word
aan die priester gegee oor hoe om die take by die brandofferaltaar
uit te voer.
Tipes offers:
(diere sonder liggaamsgebrek) beesbul, skaapram, bokram, tortelduif
of ander duif.
Metode vir diere: Die gewer
plaas sy hand op die dier se kop as versoening vir homself;
Gewer slag die dier in die
teenwoordigheid van die Here;
Aäronitiese priesters sprinkel die
bloed teen die altaar en by die ingang tot die tent van ontmoeting;
Gewer sny die dier in stukke op;
Aäronitiese
priesters maak vuur op die altaar;
Alles word op die altaar verbrand.
Metode vir
duiwe: Priester knyp die kop af;
Priester sprinkel
die bloed teen die altaar
Priester verwyder
die krop en vere en gooi dit op die plek vir die as, oos van die
altaar;
Priester skeur die
duif tussen die vlerke oop sonder om dit heeltemal middeldeur te
skeur;
Die Graanoffer (‘n gedeeltelike vuuroffer) Lev. 2; 6:14-23; 7:8-10
Die graanoffer is ‘n
besondere gewyde gawe, net soos die skuldoffer en die sondeoffer.
Spesifieke opdragte word aan die priesters gegee rondom hoe en waar
die offers geëet mag word. ‘n Graanoffer word ook geverg by die
inwyding van die hoëpriester.
Tipes offer:
Meel/Graan
Riglyne: Geen
suurdeeg mag gebruik word nie;
Olie moet bygevoeg
word;
Wierook moet saam
met die offer geoffer word;
‘n Deel van die
offer moet verbrand word;
Die oorblywende deel
mag slegs deur die Aäronitiese priesters geëet word;
Dit mag in die oond
gebak word, op ‘n bakplaat of in ‘n bakpan;
Mag nie suurdeeg of
heuning verbrand as ‘n vuuroffer nie;
Alle graanoffers
moet met sout aangebied word – wat herinner aan die verbond;
Mag ‘n graanoffer
uit die eerste opbrengs van die oes aanbied.
Die maaltydoffer (‘n gedeeltelike vuuroffer) Lev. 3; 7:11-38; 19:5-8; 22:1-16
Die maaltydoffer is
gedeeltelik deur die priester en gedeeltelik deur die gewer geëet.
Dit simboliseer gemeenskap met God. Dit word gebring uit
dankbaarheid of om ‘n gelofte te eer. Riglyne word gegee rakende
wie mag deelneem aan die maaltyd en wie nie (reinheid). Ook die
vleis moes rein wees. Daar word verder ook baie duidelik
gespesifiseer dat vet en bloed nie geëet mag word nie. ‘n
Gedeelte van die maaltydoffer kom die priesters toe en die gedeelte
moet as ‘n beweegoffer heen-en-weer voor die Here beweeg word. Die
Israeliete word ook verbied om aan heidense offermaaltye deel te
neem. Die priester moes sorg dat hy ‘n rein lewe lei om te
kwalifiseer om aan die offermaaltye deel te neem
Tipes offers:
Bul of koei uit beeste, ram of ooi uit skape of bokke.
Riglyne: Dier
moet sonder liggaamsgebrek wees;
Gewer sit hand op
offerdier se kop en slag dit by die tent van ontmoeting;
Aäronitiese
priester sprinkel bloed rondom die altaar;
Priester verbrand
die volgende dele op die altaar (vuuroffer):
- Die vet wat die binnegoed bedek;
- Die vet aan die binnegoed self;
- Die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is;
- Die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word;
- Uit die skape word ook die vetstert teen die kruis afgesny en geoffer;
- Al die vet is die Here s’n.
Maaltydoffer as
dankoffer – Riglyne soos vir graanoffers geld ook.
Maaltydoffers om
geloftes na te kom – Vleis mag op die eerste en tweede dag geëet
word, maar nie meer op die derde dag nie.
Die Sondeoffer (‘n algehele of ‘n gedeeltelike vuuroffer) Lev. 4; 6:24-30; 7:8-10
Deur die bring van ‘n
sondeoffer het die Israeliete hulle begeerte uitgespreek om vergewe
te word van al hulle sondes en om weer gereinig te word. Wanneer die
offer in die tent van ontmoeting gebring word, om daarmee in die
heiligdom versoening te doen, moes die hele offer verbrand word. In
ander gevalle geld die reëls in 7:8-10.
Tipes offers:
Priester – ‘n bul sonder liggaamsgebrek;
Die hele volk – ‘n
bul sonder liggaamsgebrek;
Gesagsdraer/Volksleier
– Bokram sonder liggaamsgebrek;
Landsburger –
Bokooi of skaapooi sonder liggaamsgebrek.
Riglyne: Dit
moes ‘n onopsetlike sonde gewees het;
Daar word onderskeid
getref tussen die posisies wat deur die oortreders beklee word;
‘n Bul sonder
liggaamsgebrek;
Priester sit sy hand
op die bul se kop en slag dit by die ingang van die tent van
ontmoeting;
Priester doop sy
vinger in die bloed, bring dit na die tent en sprinkel die bloed sewe
maal teen die voorhangsel in die heiligdom;
Priester smeer ook
van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die tent van
ontmoeting;
Die res van die
bloed gooi die priester uit teen die fondament van die
brandofferaltaar;
Hy verwyder al die
vet (soos by die maaltydofferbul) en verbrand dit op die
brandofferaltaar;
Die res van die bul
(word gespesifiseer) word buitekant die kamp op ‘n rein plek, waar
die as weggegooi word, op ‘n houtvuur verbrand.
Die hele volk:
‘n Bul sonder
liggaamsgebrek;
Die leiers sit hulle
hande op die dier se kop en slag dit by die ingang van die tent van
ontmoeting;
Die res van die
bepalings is presies soos vir die priester.
‘n Gesagsdraer:
Bokram sonder
liggaamsgebrek;
Gesagsdraer sit sy
hand op die dier se kop en slag dit by die ingang van die tent van
ontmoeting;
Die res van die
bepalings is soos vir die priester en die volk, behalwe dat die bloed
nie teen die voorhangsel gesprinkel word nie en die hele offer was
nie verbrand nie.
Landsburger:
Bokooi of skaapooi
sonder liggaamsgebrek;
Burger sit sy hand
op die dier se kop en slag dit by die ingang van die tent van
ontmoeting;
Die res van die
bepalings is soos vir die priester en die volk, behalwe dat die bloed
nie teen die voorhangsel gesprinkel word nie en die hele offer was
nie verbrand nie.
Die Skuldoffer (‘n gedeeltelike vuuroffer) Lev. 5; 6:1-7; 7:1-10
Die skuldoffers word
gebring in die gevalle waar restitusie nodig was. Die gedeelte word
ingelui met ‘n aantal gevalle wat die bring van ‘n skuldoffer
geverg het.
Tipes
offer:
Skuld
teenoor medemens:
‘n Skaapooi of ‘n
bokooi sonder liggaamsgebrek;
As kleinvee bo die persoon se
finansiële vermoë was kon hy ook twee tortelduiwe of twee ander
duiwe bring.
As duiwe bo die persoon se
finansiële vermoë was kon hy ook twee kilogram meel bring.
Skuld teenoor die heilige dinge
van die Here:
Ram sonder liggaamsgebrek;
Opsetlike skuld teenoor medemens:
Ram sonder liggaamsgebrek;
Restitusie vir die skade plus 5%
word ook geverg as terugbetaling aan die persoon teenoor wie die
oortreding begaan was.
Riglyne: Verskeie
riglyne word gegee vir die individuele offers. Bloed word egter in
al die gevalle geverg (behalwe by die graanoffer). Dit is ook in al
die gevalle nodig dat die priester die versoening doen vir die
persoon voor die Here.
Die Jaarlikse Versoendag Lev. 16
Een maal ‘n jaar is daar ‘n groot
versoendag gehou vir die sondes van die hele volk. Op hierdie dag
het die hoëpriester agter die voorhangsel ingegaan na die
allerheiligste deel van die tempel. Eers moes hy egter ‘n jong bul
as sondeoffer bring sowel as ram as brandoffer. Hy moes ook gewyde
klere aantrek vir hierdie okkasie. Daarna moes hy van die volk twee
bokramme ontvang as sondeoffer en ‘n skaapram as brandoffer. Met
die bul moes hy vir homself en al die priesters versoening doen.
Daarna is daar lootjies getrek oor die twee bokke; die een was vir
die Here en die ander vir Asasel. (Asasel was soos 'n veldgod, wat
wanorde en eensaamheid voorgestel het - om afgesny te wees van God).
Die Here se bok word as sondeoffer geoffer. Op Asasel se bok word ‘n
versoeningshandeling verrig.
Hierna gaan Aäron in die
Allerheiligste in om vir die volk versoening te gaan doen met die
bloed van die bul en die ram. Wanneer hy uitkom plaas hy al die
sondes van die volk op Asasel se bok se kop, waarna dit in die
woestyn ingestuur word.
Die enigste offerplek Lev. 17:1-9
By die afgodediens van die nasies in
die omgewing is daar baie gebruik gemaak van groot bome of rotse,
ens. om as offerplekke te gebruik. Ons sien dat Abraham by die
waarsêersbome van Sigem geoffer het (Gen. 12:6). God wil egter dat
sy volk ‘n heilige godsdiens beoefen. Daarom verbied Hy hulle om
op enige ander plek te offer as by die Tent van Ontmoeting.
Die eet van bloed Lev. 17:10-16
Die Israeliete word uitdruklik
verbied om bloed te eet, “Omdat bloed versoening doen deur die
lewe wat daarin is.” (Lev. 17:11b).
Hierdie gedeelte kan in drie hoofdele
verdeel word:
5.4 Heiligheid
- Die priesterwyding (Lev. 8)
- Die priesterdiens (Lev. 9)
- Die priesterlike verantwoordelikheid (Lev. 10)
Die priesterwyding (Lev. 8)
In sy amp as middelman tussen God en
die volk was dit noodsaaklik dat die priester self toegewyd aan God
moes leef. Om rein en heilig voor God te verskyn, moes daar eers vir
die priester se sondes versoening gedoen word.
Die hoëpriesterlike amp word baie
mooi verduidelik in Heb. 5:1-4. Hierdie gedeelte gaan egter verder
en sê dat die finale sondelose hoëpriester die Here Jesus Christus
was. As mens was Hy aan elke versoeking onderwerp, maar as gevolg
van sy eerbiedige onderworpenheid aan God het Hy elke versoeking
weerstaan om die volmaakte status as Middelaar/Tussenganger tussen
God en mens te bereik. Omdat Christus ook Homself as die finale
offer gebring het vir ons sonde, het ons nou nie meer nodig om offers
te bring om vergifnis van ons sondes te ontvang nie. Dit word baie
goed verduidelik in Heb. 7:26-28. Lees gerus die res van Hebreërs
om die Nuwe Testamentiese Hoëpriester beter te verstaan.
Die priesterdiens (Lev. 9)
Nadat die priesters ‘n reinigings-
en inwydingseremonie ondergaan het, is hulle gereed om met hul
dienswerk te begin. Wanneer Aäron die sondeoffer, brandoffer en die
maaltydoffers gebring het, sodat die verhouding tussen die volk en
God herstel is, kom God se magtige teenwoordigheid (weer) die kamp
binne. Vuur uit die hemel het die oorblyfsels op die altaar
weggebrand. Daarop het die volk in eerbied op hulle knieë voor God
geval en daar was uitroepe van blydskap.
In hoofstuk 24 word die priesters
herinner om die lamp in die heiligdom voortdurend aan die brand te
hou gedurende die nag. Dit is ook die priesters se taak om te sorg
dat daar elke dag vars offerbrood op die tafel geplaas moes word.
Hierdie brood mag deur die priester geëet geword het na dit van die
tafel afgehaal is. Dit is diè brode wat deur Dawid en sy manne
geëet is toe hulle voor Saul gevlug het (1 Sam. 21:1-9). Jesus het
na hierdie insident verwys in Mark. 2:23-27.
Die priesterlike
verantwoordelikheid (Lev. 10)
Die verantwoordelikheid van die
priester om te sorg dat sy lewe heilig en rein voor God bly – dat
sy verhouding met God reg is – word in die eerste helfte van
hoofstuk 10 duidelik geïllustreer. Nadat Aäron se twee seuns,
Nadab en Abihu, op verkeerde wyse ‘n offer aan God gebring het, het
God hulle met vuur uit die hemel verdelg. Daarna gee God nog
duideliker riglyne rakende die optrede en lewenswyse van die
priesters wat namens die volk voor God moet verskyn. Lev.10:8-9 gee
moontlik insig in die dood van Nadab en Abihu.
Ons vind ‘n uitstekende voorbeeld
van die gevolge van onverantwoordelike priesterskap in die eerste
paar hoofstukke van 1 Samuel. In 1 Sam. 2:13-17 word daar vertel hoe
Eli se seuns die offers hanteer het sonder enige eerbied vir God se
bepalings. Die gevolg was dat die mense hulle agting vir die offer
van die Here verloor het. Hierdie eet van die vet van die offers het
noodwendig tot gevolg gehad dat Eli en sy seuns oorgewig geword het.
Sien hoe God hulle aanspreek oor hierdie oortollige gewig wat hulle
aangesit het in 2:29b. Interessant genoeg is die oortollige gewig
van Eli dan ook ‘n bydraende oorsaak van sy dood volgens 4:18b.
Riglyne vir priesters rakende
hulle fisieke dimensie (Lev. 21)
Daar is ook riglyne neergelê vir die
priesters rakende hulle huwelike en seksuele omgang met vroue. Meer
as vir die res van die volk was dit noodsaaklik dat die priesters
seksueel ‘n rein lewe moes lei. Ander liggaamstekortkominge word
ook aangespreek, bv. gestremdheid, ens.
In die volgende paar hoofstukke word
daar ‘n hele aantal riglyne gegee waarvolgens die Israeliete moet
leef om heilig te bly in die teenwoordigheid van hulle heilige God
5.5 Feeste
-
Heilige kos (11)
Slegs diere wat volledig gesplete
hoewe het en herkou mag geëet word.
Alle waterdiere wat skubbe en vinne
het is rein.
Voëls word by name gespesifiseer,
maar dis basies die roofvoëls wat onrein is.
Insekte wat vlerke het en op pote
loop is onrein, maar die wat spring mag geëet word.
Karkasse maak onrein.
Velddiertjies word gespesifiseer (ook
hoe hulle die reinheid van artikels kan affekteer).
Die Israeliete word ook verbied om
bloed en vet te eet, soos vroeër reeds genoem onder die bespreking
van die offers.
-
Heilige liggame (12-14:32)
Reinigingsprosedures na swangerskap
word aangespreek.
Velsiektes word aangespreek.
Skimmel word aangespreek.
Reinigingsvoorskrifte word ook gegee.
-
Heilige huise (14:33-57)
Reinigingsvoorskrifte word gegee vir
besmette/onrein huise.
-
Heilige seksuele gewoontes (15; 18-22)
Mans en vroue word riglyne gegee oor
hoe om seksueel aktiewe lewens te lei wat steeds heilig is.
In hoofstuk 18 word ‘n heelparty
soms onverwagte seksuele (en ander) sake aangespreek, bv.
-
Bloedskande;
-
Kinderoffers;
-
Homoseksualisme;
-
Menstruasie;
-
Poligamie;
-
Egbreuk;
-
Geslagsgemeenskap met ‘n dier;
-
Tempelprostitusie;
-
Onderskeid tussen seksuele omgang met toestemming en daarsonder.
Baie van hierdie riglyne, asook
gedeeltes van die Dekaloog, word herhaal.
-
Heilige woorde (24:10-23)
Die Israeliete moet God se heiligheid
erken in hul taalgebruik. Woede is nie 'n verskoning vir onbeheersde
taalgebruik nie.
God het sekere dae
ingestel waarop Hy gespesifiseer het dat die volk moes feesvier.
Hierdie feeste moes die volk herinner aan God se sorg en redding.
Sabbat (23:3)
Elke sewende dag moes
deur die volk geheilig word. Op hierdie dag moes hulle van alle werk
rus. Dit herinner aan die sewende skeppingsdag waarop die Here ook
gerus het (Eks. 31:12-18). Jesus sê dat die mens nie vir die Sabbat
gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens (Mark. 2:23-27). Hy
verwys ook in hierdie gedeelte na die offerbrood (Eks. 25:30). Die
wette is bedoel om tot die mens se voordeel te strek, dis nie bedoel
om die mens onder ‘n slawejuk in te dwing nie.
Pasga/Paasfees
(23:5)
Dit word op die 14de
van die eerste maand gevier. Die fees is ingestel in Eks. 12:1-28,
41-51. Die fees gedenk die dag waarop die Here die eersgeborenes van
Egipte gedood het om die Israeliete te bevry. Dit was tydens die
viering van hierdie fees dat Christus die Nagmaal ingestel het.
Dit begin op die 15de
van die eerste maand en duur vir sewe dae. Ook hierdie fees is
ingestel in Eks. 12: 1-28. Dit gedenk die bevryding van die
Israeliete uit Egipte, toe hulle so vinnig moes trek dat die suurdeeg nie
eers kon rys/suur word nie.
Die Fees van die
Oes/Weke (23:9-14)
Dit is ‘n fees
waarin die Israeliete van die eerste van hulle oes vir die Here
bring, selfs nog voordat hulle self daarvan geëet het. Die eerste
gerf gars moes afgesny word en as beweegoffer na die tempel toe
geneem word. Sewe weke daarna is die fees dan gevier. Die fees het
slegs een dag geduur. Offers is gebring en God is geprys as
Voorsiener. Die uitstorting van die Heilige Gees vind op hierdie
dag plaas in Hand.2:1 en die dag word bekend as Pinksterfees onder
die Christene.
Fees van Trompette
(23:23-25)
Dit was op die eerste
dag van die sewende maand gevier. Dit word soos 'n Sabbatdag gevier.
Dit word ingelui met die blaas van ramshorings.
Versoendag
(23:26-33)
Op die tiende dag van
die sewende maand is die versoendag gevier, net soos 'n Sabbat. Op
hierdie dag doen die hoëpriester versoening by God vir die volk se
sondes.
Die Huttefees/Fees
van die insameling (23:33-43)
Die fees begin op die
15de van die sewende maand en duur sewe dae. Op die agtste dag word
daar weer ‘n gewyde byeenkoms gehou en daar word offers gebring.
Gedurende hierdie fees is die Israeliete veronderstel om in hutte te
woon wat hulle van takke aanmekaar geslaan het. Dit moes die volk
herinner aan hulle woestyntog toe hulle ook in tydelike skerms gewoon
het. Dit het later ook ‘n fees geword waarop die insameling van
die oes gevier is.
Sabbatsjaar
(25:1-7)
Elke sewende jaar
moes as Sabbatsjaar geheilig word. Gedurende hierdie jaar mag die
landerye en wingerde glad nie geoes word nie. Dit moes as 'n
herteljaar vir die land dien. God onderneem om vir die volk te
voorsien in die jaar wat die Sabbatsjaar sou voorafgaan. Volgens
hierdie onderneming sou God in die voorafgaande jaar die ekwivalent
van drie oeste voorsien.
Hersteljaar
(25:8-55)
Op die
nege-en-veertigste jaar moet die vyftigste landbouseisoen met
ramshorings aangekondig word. Die Hersteljaar word net soos die
Sabbatsjaar onderhou met geen oeste van die landerye en boorde nie.
Gedurende hierdie jaar moet alle skuld afgeskryf word. Alle
grondgebied word teruggegee aan die oorspronklike eienaars, behalwe
huise in ommuurde stede. Die doel hiervan was om verarmde Israeliete
die geleentheid te gee om finansieel te herstel.
Pearlman (p. 29) sien
'n tipologiese vergelyking tussen die feeste en die saligheidsplan:
- Paasfees - Die kruisiging.
- Fees van die Oes - Die opstanding.
- Pinksterfees - Uitstorting van die Heilige Gees.
- Fees van Trompette - Wegraping
- Huttefees - Hiernamaals by God, in sy woning.
5.6 Toepassing
-
Ek beoog om meer omtrent die volgende onderwerpe uit te vind:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
2. Het die studie van Levitikus jou onder 'n vars/nuwe indruk van die
heiligheid van God gebring? Verduidelik jou antwoord.
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
3. In sy brief aan die Romeine sê Paulus dat die wesenlike
(essensie) van Christenskap is om onsself as lewende en heilige
offers aan God te gee (Rom. 12:1). Hierdie gedeelte handel oor die
Christelike lewenswandel. Soek na werkwoorde in hierdie gedeelte wat
jou riglyne kan gee oor wat jy PRAKTIES kan doen om so 'n lewende en
heilige offer vir God te wees. Hou die doel van offerandes (soos in
Levitikus gespesifiseer en deur Jesus uitgebeeld) in gedagte wanneer
jy hierdie oefening doen.
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
4. In Romeine 3:21-31 verduidelik Paulus dat ons gered is/vrygespreek
is van ons verantwoordelikheid van sonde. Hierdie vryspraak het ons
verkry deur te glo in Jesus wat Homself gegee het as finale offer vir
dit wat ons verkeerd gedoen het. Dit plaas die wet in 'n heel nuwe
lig. Verduidelik wat jy onder elk van die volgende verstaan:
-
Die wet se getuienis:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
Die profete se getuienis:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
Geloof in Jesus Christus:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
Vryspraak deur genade:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
Regverdige oordeel:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
V22b: "sonder onderskeid":
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
-
V.31b: "Ons laat die wet juis tot sy reg kom.":
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
- The New Open Bible Study Edition. 1990. New King James Version. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
-
HANDBOEK BY DIE BYBEL. 1986. Lux Verbi: Kaapstad.
-
DIE BYBEL IN PRAKTYK NAV. 1993. CUM: Vereeniging.
-
SPIRIT FILLED LIFE BIBLE (NKJV). 1991. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
-
HARTIN, P.J. 1977. The Word endures forever. Patrick J. Hartin: Johannesburg.
-
PEARLMAN, M. 1935. Through the Bible book by book Part 1 O.T. Genesis – Esther. Gospel Publishing House: Springfield.
-
DEIST, F.E. (red.). 1981. Van Eden tot Rome. J.L. van Schaik: Pretoria.
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.
No comments:
Post a Comment