Search This Blog

Tuesday 9 May 2017

Kop en knie gebuig


My God, my God, hoor my gebed
U alleen kan my uit nood uit red.
Ek fluister U naam in my vrees,
in hoop dat U naby my sal wees.
Gee uitkoms Heer, in hierdie stryd -
ek’s in finansiële moeilikheid.
Ek wonder of U kan verstaan
hoe dit met ons mense gaan?
U hou die wêreld in U hand,
spreek net 'n woord en dit verbrand,
maar my moeilikheid wil nie verdwyn,
vermeerder selfs met sonneskyn.
U’t onderneem om vir my te sorg,
ek is geanker met my God as borg.
Hoe is dit dan dat U so draal
wyl ek in my verpligtings faal?
Lê diè skuld ook aan eie wand?
Was ek spandabelrig sonder verstand?
Het ek U in spandeer misken?
Is dit waarom ek nou nie wen?
Ek draai my sente in my kop
om te sien waar ek die toets dop,
maar al wat ek vind is nog meer vrae -
hier is geen antwoord vir wat pla.
O Heer, ek soek 'n wonderwerk
by plig, plesier, of selfs die kerk.
Maak U hand oop en help my tog
dat ek openlik oor U kan spog.
Nou kan ek heimlik U vertrou
wyl ek eie planne loop en brou.
Dis tog nie hoe geloof moet lyk!
In geloof loop U tog voor en pryk?!
Ek sak my hande, buig my hoof,
knak ook my knieë in my geloof.
Voor U, is ek nie opgehef,
slegs nietig klein, is my besef.
Vader, vergeef my onvermoë
om in U voorsiening te kan glo,
om dinge selfstandig uit te werk,
terwyl U sê U stel die merk
waar my voorsiening vandaan kom.
Ek moet slegs wag – U sal verstom.
Dan wag ek Heer, en hou my in
al dink geen mens die wag maak sin.
My sin is in my God te vind,
naïf gelowig, soos 'n kind.
Ek weet mense verstaan dit nie,
my eie kop stry met my knie.
Tog bly my knie voor U gebuig
en sal ek steeds van U getuig.
Al dink mense dan ook wat,
vir my, bly U die enigste pad.
Ek hoop U redding kom tog gou,
maar tot dit kom, sal ek vertrou,
dat U wat die aarde ewig draai,
vir my sal sorg, al word dit taai.
Die mossies, die veld, die lelies ook,
nie een moet self sorg of self spook.
U het my oor en oor verseker,
hierdie is nie my finale beker,
waaruit ek hier op aarde drink -
U het 'n beter een reeds ingeskink.
Dus, los ek nou my laste hier,
om U in lofsang te versier.

'n Oorspronklike gedig deur Miekie (Marietjie Uys)

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment