Search This Blog

Friday 21 April 2017

Word jy so kwaad soos Jesus?


Kwaad-word is so 'n doodnatuurlike ding dat ons nie eers daaroor dink nie; dit gebeur sommer so vanself. Dis nou alled goed en wel, maar is dit reg? Hoort kwaad-word by 'n Christen se gedrag? Normaalweg, wanneer ek hierdie vraag tussen my mede-gelowiges en Christen-vriende vra, sal iemand reageer met die woorde dat selfs Jesus kwaad geword het. Dan sal almal inskiklik knik, en selgeregverdig voel in hierdie verontskudigende troos. Maar is dit waar? Nie dat Jesus kwaad geword het nie. Dit weet ons. Is dit waar dat ons woede met Syne kan vergelyk? Lyk ons woede soos Jesus s'n?
Voordat ons nou gaan kyk na hoe Jesus se woede gelyk het, wil ek hê dat elkeen van ons net eers so 'n bietjie die tyd terugspeel in ons eie koppe na die laaste paar insidente waar ons self kwaad geword het. Begin by die emosies wat jy ervaar het. Kan jy hulle herroep? Beweeg nou aan na die woorde wat jy gebruik het om jou woede uit te druk. Kan jy nog onthou wat jy gesê het? Kan ons nou na jou dade aanskuif? Wat het jy gedoen? Nee! moenie vergelyk met wat jy ander al sien doen het nie. Hierdie gesprek gaan nie oor of jy beter kwaad word as jou medemens nie. Uiteindelik wil ek hê jy moet uitvind hoe jy vergelyk met Jesus, maar nog nie nou nie. Nou moet jy nog net na jouself kyk, sonder om te vergelyk met enige iemand anders. Hoe tree jy op wanneer jy kwaad is?
Nou gaan ek die moeilikste vraag vra. Kan jy onthou hoe lank dit jou geneem het om van emosie tot aksie oor te gaan? Hoe vinnig het dit wat jy voel, by dade uitgekom? Kan jy dit nog herroep? Het dit genoeg ruimte gelaat om te dink oor dinge? Was daar tyd om jouself hierdie vrae af te vra voor jy tot aksie oorgegaan het:
  • Verstaan ek my teenparty se motivering om te doen wat gedoen is?
  • Is my woede redelik, gegewe die insident, of reageer ek vanuit ander insidente uit my verlede?
  • Wat hoop ek gaan die resultaat wees, as ek my woede toon?
  • Sal daar iets goeds spruit uit die feit dat ek kwaad geword het?
Ek sal dit net by hierdie 4 vrae hou, alhoewel daar nog tientalle vrae bestaan wat ek hierby kan voeg. Nee, moenie bekommer nie, ek preek nie met die balk in my eie oog nie. Ek besef maar al te goed dat ek saam met jou in die ondersoekbank staan. Tog, kan ek sien, hier waar ek nou buite die situasie staan, dat my eie woede veel te wense nalaat. Vind jy dit ook? Maar hoe vergelyk dit met Jesus se woede?
Kom ons dink net eers daaroor. Ek verwys na die insident waar Jesus die verkopers uit die tempel gejaag het. Kan jy dit herrroep? Ek wil dit nog nie lees nie, maar net daaroor dink. Die rede waarom ek eers daaroor wil dink, is omdat ons mense geneig is om onsself in situasies in te lees. So, sal ons altyd met die held/in in 'n verhaal identifiseer, eerder as die onderdrukte of onderdrukker. Wanneer ons onsself so in 'n situasie inlees, dan heg ons ook ons eie waardes en gedrag aan daardie karakter. Dus, wil ek hê ons moet elkeen eers dink oor die verhaal van Jesus waarna ek hier verwys. Dit wat jy van die verhaal herroep, kan vir jou baie omtrent jouself leer. Wees dus eerlik met jouself as jy waarde uit die oefening wil put.
Goed, laat ons dan nou uiteindelik die verhaal self lees, soos dit in die Bybel opgeteken is. Ek lees dit in Johannes 2:13-22.
Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.” Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.” Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?” Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
So 'n paar gedagtes maak hulle los in hierdie gedeelte. Ten eerste sien ek dat Jesus Sy tyd vat tydens die insident. Hy vind tou. Dan gaan sit hy om 'n sweep te vleg. Dit sê oombliklik vir my dat ons nie hier met redelose blindelingse woede te doen het nie. Jesus het nie selfbeheer verloor nie. Hy het bedaard te werk gegaan. Mens en dier is uitgejaag. Tafels is omgegooi, maar Jesus se aksie was beplan en beredeneerd. Hy het besin oor wat Hy wil doen, hoe Hy dit wil doen, oor wat Hy wil sê, en oor die impak way Hy wou hê dit moet maak. Dit wat Hy gedoen het, het Hy met 'n besliste uitkoms in gedagte gedoen.
Kom ons vergelyk nou die effek van ons eie woede met die van Jesus. Kan iemand na jou woede kyk en dink dat jy 'n kind van God is? Veroorsaak dit nie eerder dat hulle jou Christenskap bevraagteken nie? Jesus se woede het Sy dissipels herinner aan dit wat geskryf was oor Hom deur die profete: "Die liefde vir u huis verteer my.”
Ja, ek is bewus daarvan dat Jesus se teenstanders nie oortuig was deur Sy optrede nie. Tog is dit vir my genoeg om te weet dat daar ten minste 'n groepie mense daar was wat dieper onder die indruk kon kom van Jesus se verhouding met die Vader, a.g.v Sy woede. Dit sê baie van Jesus se woede. Laat ek jou dus nou die vraag vra wat ek myself ook afvrae, en wat ek in die titel getik het:
Word jy so kwaad soos Jesus? Of is jou woede destruktief? Indien laasgenoemde, moet ek en jy dalk ophou om verskoning vir ons woede te vind in hierdie gedeelte, en eerder herroep wat daar in 1 Korintiërs 13:4-7 geskryf staan:
"Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie,maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles,glo alles,hoop alles,verdra alles."
Hoeveel verskoning vir ons woede is daar in hierdie gedeelte toegelaat?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment