Search This Blog

Sunday 23 April 2017

Waarop fokus jy wat in God se pad staan?


Ek lees vandag in Johannes 7 en telkens herhaal dieselfde argument homself in hierdie hoofstuk. Lees so 'n paar verse saam met my dat jy kan sien waarna ek verwys.
vv. 27 - "Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hy vandaan kom nie."
vv. 41-42 - "Party het gesê:'Hy is die Christus.' Maar party het gesê: 'Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.'"
vv. 52 - "Hulle sê toe vir hom: 'Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.'"
Wat my verstom aan hierdie verse is dat die enigste ding wat mense se pad gestaan het om in Jesus te glo, was die feit dat sy tuisdorp in Galilea was. Kom ons verskoon hulle onkunde vir 'n oomblik en ons aanvaar dat dit nie algemene kennis was dat Jesus in Betlehem en uit die geslag van Dawid gebore was nie. Dan moet mens jouself steeds afvra, hoe so 'n nietigheid, soos 'n tuisdorp, in die pad van jou geloof kan staan? Kom ons weeg hierdie kennis teen die ander getuienis oor Jesus, wat ons in dieselfde hoofstuk vind.
vv. 3-5 - "Jesus se broers sê toe vir Hom: 'Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe (waar Jesus gesoek was om ter dood veroordeel te word) dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. 'n Mens wat oral bekend wil wees, doen immers nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.' Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie."
vv. 12-15 - "Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: 'Hy is 'n goeie man.' Maar ander het gesê: 'Nee, Hy mislei die mense.' Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode. Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. Die Jode was verbaas en het gesê: 'Waar kom Hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!'"
vv. 25-26 - "Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: 'Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie? En hier praat Hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen Hom nie. Het die lede van die Joodse raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat Hy die Christus is?'"
vv. 30-31 - "Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: 'Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?'"
vv. 40-41a - "Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: 'Hy is werklik die Profeet.' Party het gesê: 'Hy is die Christus."
vv. 32, 45-46 "Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem ... Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en diè het vir hulle gevra: 'Waarom het julle Hom nie gebring nie?' Die wagte het geantwoord: 'Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.'"
Dieselfde skare van mense het soveel bewyse gehad van Wie Jesus was (is). Hulle het wondertekens gesien gebeur. Hulle het Hom praat met 'n wysheid en kennis wat hulle verstom het. Hulle het ruiterlik erken dat hulle met meer as net nog 'n gewone mens te doen het. Almal moes erken, vriend en vyand, dat Jesus iemand besonders was. Tog het hulle telkemale bly struikel oor die feit dat sy tuisdorp in Galilea was.
Toe ek vandag hierdie gedeelte lees, kon ek nie help om myself 'n paar vrae te vra nie. Ek het gewonder hoeveel getuienis van God 'n mens kan miskyk, terwyl jy jouself vasstaar teen beuselagtighede, wat jy in elk geval slegs 'n gebrekkige kennis van het. Hoeveel van ons laat toe dat hierdie nietighede in die pad van ons geloof van God staan? Waarom fokus 'n mens so op die dinge wat nie saakmaak nie, dat jy heeltemal perspektief verloor op dit wat van lewensbelang is?
Toe moet ek noodwendig vra; wat is dit waarop ek fokus wat maak dat ek nie by geloof uitkom nie? Is dit velkleur, 'n taal, iemand se oorsprong? Let wel, ek neem aan dat ek met wedergebore Christene praat in hierdie skrywe. Ek neem aan dat jy reeds in Christus glo. Maar is daar iets wat jou pad staan, sodat jy nie by God se wil vir jou lewe kan uitkom nie? Miskien is dit finansies, of wantroue in God se vermoë om vir jou te voorsien? Miskien is daar iemand vir wie jy lief is, wat jy bang is om te verloor? Miskien is die waagstuk net te groot?
Ek wil jou nooi om jou fokus te skuif. Kyk weg van die goed wat in die pad staan van jou verhouding met God, en kyk na God self. Hou jou oë op Jesus gerig. Wanneer jy dit doen, word die onmoontlike, moontlik.
Kyk gou saam met my na nog drie versies:
vv. 37-39 "Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: 'As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.' Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie."
Kind van God, waarom fokus jy op dinge wat jou van God verwyder? Gesalfde van die Vader, besef jy nie dat jy Gees-vervuld is en daarom die lewende God binne-in jou het nie? Gees-vervulde Christus-eksemplaar, daar is strome water wat lewe bied aan 'n wêreld wat dors na God, wat uit jou uit vloei. Waarom staar jy jou steeds blind teen jou probleme?
Skuif jou fokus vandag na God toe, en leef in die oorwinning wat Hy reeds vir jou aan die kruis behaal het.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment