Search This Blog

Tuesday 18 April 2017

Lesse onder die vrugtebome


Ek het so 'n ruk terug geksryf oor die vrugtebome in die tuin wat so goed dra hierdie jaar. Hulle is letterlik oortrek van vrugte. Een middag laat het daar 'n rukwind verbygekom en 'n tak van een van die bome het meegegee onder die gewig van die vrugte en die aanslag van die wind. Dis eers toe ek weer by die kombuisvenster uitkyk dat ek gesien het dat die tak op die grond bly lê het.
Nog 'n tak het baie laag gehang en het groot gevaar geloop om ook af te breek. Hierdie een kon ons darem betyds gestut kry.
Wanneer 'n mens so onder die vrugtebome deurloop en soek vir ryp vrugte, loop jou kop sommer maklik sy eie pad en so het ek 'n paar waardevolle lesse by die vrugtebome geleer hierdie seisoen.
Die eerste les het ek geleer by die tak wat gestut is. Jy sien, 'n mens se lewe kan ook so baie vrug dra dat jy onder die gewig daarvan swik. Baie mense bevind hulleself in 'n bediening of 'n beroep waar ander van hulle vrugte afhanklik is. God is getrou en Hy rus jou toe met die vrug wat jy nodig het. Die ding is dat mens so maklik onder die indruk kan kom dat jy dit alles self moet kan doen. Dis nie waar nie. Daar kom tye wanneer ons ander in ons lewens moet toelaat om ons te stut, sodat ons dit kan doen waarvoor ons geroep is. Hierdie is nie sommer iets wat ek uit my duim suig nie. 'n Fisiese voorbeeld hiervan vind ons in Eksodus 17:12
"Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aaron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder."
Wanneer jy moeg word en voel of jy bykans uitgebrand is, wanneer jy dink jy het die einde van jou krag bereik, moet nie glo dat jy gefaal het nie. Moet nie glo dat iemand anders jou taak moet oorneem nie. Laat toe dat die mense wat God in jou lewe geplaas het, jou ondersteun en dit vir jou moontlik maak om jou taak te volvoer.
'n Tweede les het ek geleer by die tak wat afgebreek het. Die tak was letterlik oortrek van perskes en die vrugte het belowend daar gesit. Hulle het al begin verkleur, maar hulle was nog nie ryp genoeg om te pluk nie. Dit was 'n tragiese gesig en ons het almal gereken dat ons daar die vrugte almal sou verloor. Dit was letterlik massas vrugte. Omdat die tak so swaar was, het ons besluit om hom eers net daar te los en hom later te kom afsaag waar hy nog net aan 'n repie aan die boom verbind was. As al die vrugte eers afgevrot het, sou dit makliker wees om die tak te gaan weggooi.
Daardie tak se vrugte het hierdie week begin ryp word. Daardie repie wat oorgebly het en steeds aan die boom vas was, was genoeg om die vrugte te voed en te laat ryp word. Dis toe waar ek leer dat solank as wat ons aan God vashou, maak nie saak hoe swak ons verbinding is nie, is daar 'n oop kanaal waardeur God ons kan voed, 'n kanaal wat keer dat ons vrot of verdroog.
Ek het nog iets geleer. God gee nie op met gebroke mense nie. Jou gebrokenheid kan maak dat ander na jou kyk en jou afskryf, maar God kan jou in jou gebrokenheid gebruik om steeds vrug te dra wat vir ander iets kan beteken. Daardie selfde mense wat jou afgeskryf het, kan by jou takke kom buk en gevoed word met die vrug wat jou lewe dra.
Dis waarom Jesus hierdie woorde gespreek het in Johannes 15:5
"Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in my bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder my kan julle niks doen nie."
Het jou tak heeltemal afgebreek of is daar nog 'n stuk wat aan God vasgeheg is? Dis eers as daar geen kontak meer is met God nie, dat Jesus die woorde in vers 6 sê:
"As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand."
As daar nog iets in jou is wat na God hunker, is jy nog nie verdroog nie. Gebruik daai oorblyfsel wat steeds aan God geheg is en soek Hom in alle erns op. Hy sal die deur oopmaak vir elkeen wat klop. Elkeen wat Hom soek, sal Hom vind. (Openbaring 3:20).
My lesse by die vrugtebome was nog nie klaar nie. Ek het nog iets opgelet. Die voëls het in die bome kom baljaar. Hulle het lekkerbekkig aan al wat vrug is gepik en dan eenvoudig aanbeweeg na die volgende. Die kleinste van pikmerkies op 'n vrug, het gemaak dat daardie vrugte binnekort gevrot het, sommer so aan die boom.
Dit het my laat dink aan hoe ons ander mense soms seggenskap gee in ons lewens. Hulle kom en pik-pik aan ons en vertel ons dat ons nie goed genoeg is nie, dat ons nie waarde het nie, dat ons tekort skiet. Hoeveel van ons het nie al soos ryp vrugte toegelaat dat hierdie mense 'n deel van ons lewens kry en ons dan net so laat staan met al die letsels om van hulle uitbuiting te getuig nie? Ek besef dat 'n vrug nie veel mag kan uitoefen oor wie hom eet nie, maar ek en jy kan. Ek wil jou aanmoedig om jou vrug te hou vir iemand wat jou sal waardeer, iemand wat die sap van sy hand sal aflek en die pit afsuig tot daar geen vlees meer oor is nie. Spaar jouself vir die persone wat jou vrug sal geniet en wegloop en getuig van die genot wat hulle by jou gesmaak het. Anders as met perskes, sal sulke mense jou nie opgebruik nie, maar jou beter laat as wat hulle jou gevind het.
Maar kom ek sluit op 'n positiewe noot af. Daar was nog een les wat ek geleer het. Gedurende die wintermaande het ons elke oggend brood en ander kosse by die agterdeur uitgegooi vir die voëls wat daar kom eet het. Mens kon skaars voorbly daar het so baie voëls opgedaag. Nou, in die somer, doen ons dit steeds, maar die baie swerms voëls daag nie meer op nie. Dis eintlik nog maar net die kiewiete wat elke dag kom soek. Hierdie broeipaar (en hul kuikens) bly al 'n paar jaar hier op die plot en het al voorbarig begin om ons luidkeels uit te trap as ons nie vinnig genoeg sorg nie. Maar hier is die les.
God sorg vir die voëls. Winter of somer, met vrugte, of deur mense-hande, is daar altyd kos vir die voëls. Waarom bekommer jy jou dan oor die dag van more, oor wat jy sal eet, of wat jy sal aantrek, of waar jy sal slaap? Sal God nie veel beter vir jou sorg nie? Werp jou bekommernisse en jou swaar laste dan nou af en vertrou God om te doen wat Hy gesê het Hy sal doen. (Matteus 6:25-32).

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment