Search This Blog

Saturday 3 December 2016

Veiligheidsgordels in die geloof


Ek wil vandag met jou praat oor veiligheidsgordels. Gegewe dit Desember is, wat gewoonlik 'n tyd is van hoë pad-sterfte syfers, is dit dalk soveel meer gepas, maar my gesprek handel oor die lewenspad en nie die teerpad nie.
Kom ek val myself eers in die rede om julle 'n staaltjie uit iemand anders se lewe te vertel. Toevallig gaan dit ook oor 'n motorongeluk. Ek ken nie die mense wat in die ongeluk betrokke was nie en ek weet nie of hulle veiligheidsgordels gedra het nie. Dis blote toeval dat die voorbeeld wat ek gebruik om by my punt uit te kom, 'n motorongeluk behels.
Verlede week kontak een van my Facebook vriende my om my mee te deel dat twee mense wat hy ken in 'n ongeluk betrokke was. Hulle het redelik ongedeerd uit die ongeluk gekom, maar hulle jong kind, wat saam met hulle in die kar was, het baie seergekry en is in die hospitaal opgeneem. Ek het onmidellik onderneem om saam met hulle te bid vir die kind. In retrospeksie wonder ek waarom ek nooit vir detail gevra het oor die kind se beserings nie, maar ek het nie. Ek het slegs hierdie blanko gebede opgestuur vir die kind. Ek het wel geweet dat sy Maandag geskeduleer was vir 'n operasie.
Maandagaand vra ek toe hoe die operasie afgeloop het, net om uit te vind dat sy toe omtrent pas in is teater toe en dat hulle verwag het dat dit 'n baie lang operasie sou wees. Ek sit toe sommer net hier voor die rekenaar en bid vir die kind. My gebed sluit die volgende woorde in: "Staan die dokters by, maar gee dat hulle verbaas sal wees oor die genesing wat reeds plaasgevind het, wanneer hulle haar oopmaak; oor dit wat stukkend was wat reeds herstel het." Ek het die woorde skaars geuiter toe ek myself oor die vingers tik omdat ek nie vir algehele genesing gebid het nie, maar ek het nie die gebed 'gekorrigeer' nie, want ten spyte van my redenasies, het dit tog gevoel asof die gebed in lyn was met wat God wou hê en ek het dit daar gelaat.
Nie baie later nie, toe kom die nuus dat die operasie goed afgeloop het. Die volgede dag kry ek hierdie boodskap wat ek copy en paste uit die message bord:

"Marietjie ek het vergeet om jou te se daars plate by 3 hosp geneem en al 3 het 3 breuke gewys een was baie gesplinter toe hulle oop maak was daar net 2 breuke en nie baie splintres nie."
Voor ek enige iets anders sê, wil ek eers onomwonde sê dat God steeds wonderwerke doen en dat Jesus inderdaad gesterf het sodat ons genesing kan ervaar. Wat 'n groot en wonderbaarlike God dien ons! Alle lof en eer aan Hom! Hy is inderdaad waardig om aanbid te word.
Maar laat my nou toe om terug te kom na die veilgheidsgordels toe. Baie mense dien God omdat Hy 'n veilgheidsgordel is. Asof Hy slegs goed genoeg is om as buffer te dien tussen hulle en die aanslae van die wêreld. Ek sien vandag weer 'n Facebook slogan wat sê dat ek eerder God sal dien en uitvind dat Hy nooit bestaan het nie wanneer ek sterf, as om Hom nie te dien nie en dan sterf, net om uit te vind dat Hy wel bestaan.
Ek stem saam met die sentiment. Ek glo ook dat God 'n buffer of veiligheidsgordel is. Wat ek nie glo nie, is dat vrees die enigste rede is wat ons het om in God te glo.
Waarom het ek die regte woorde gehad om te bid, ten spyte daarvan dat ek geen insae in die kind se beserings gehad het nie? Dis omdat ek 'n verhouding het met 'n Lewende God. God is nie my veiligheidsgordel wanneer ek in een van die lewe se 'ongelukke' is nie. God is die sterk Vaderarms, wat reeds om my gevou is, wat keer dat ek deur die voorruit vlieg.
Ons hoor so baie dat mense die Bybel aanhaal en sê dat ons enige iets kan vra in God se naam en dit sal vir ons gegee word. Dis baie naby aan die waarheid, maar nie heeltemal nie. Kom ek haal vir jou woord vir woord aan wat die teks sê in Romeine 10:8a
"Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart."
en in Johannes 15:7

"As julle in My bly en My woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry."
Het jy die voorwaarde raakgelees? Daar moet 'n eensgesindheid tussen jou en God bestaan. Wanneer jy jou mond oopmaak om te bid, moet jy vra in God se woorde wat binne-in jou is. Dis verhouding. Dis liefde. Dis kennis van God. Dis nie om God uit vrees vir die dag van môre te dien nie.
Ek wil jou aanmoedig om God beter te leer ken. Doen wat gelowiges deur die eeue gesê het gedoen moet word. Lees jou Bybel. Bid. Gaan kerk toe. Woon die byeenkomste van die gelowiges by (bidure ens). Sit jou TV en radio aan op uitsendings wat God verkondig. Doen ALLES binne jou vermoë om God te leer ken. Dan sal jy by die volgende gedeelte in die Bybel uitkom:
Mattheus 7:7-8 "Vra, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word."

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:You can purchase Designs By Miekie 1 here.Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.Jy kan Tuinstories hier koop.You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment