Search This Blog

Monday 5 December 2016

Beurtkrag?


Dit was reeds vanoggend oppad kerk toe duidelik dat alles nie volgens beplanning sou verloop nie. 'n Baie goeie aanduiding was dat die robotte nie gewerk het nie. Ek het die voorspelling gewaag om te sê dat ons vandag uitgelewer sou wees aan die akoestiese kitaar en die dromme alleen. Ek was verkeerd.
By die kerk aangekom, was alles in skemer gehul te danke aan die oortrokke lug. Die voorsangers het moedig probeer om almal aan die sing te kry met slegs die akoestiese kitaar om die noot en ritme aan te gee. Ek het vergeet dat die dromme ook met elektrisiteit werk in hierdie gemeente. Die keyboard het daar gestaan, met skuins agter hom die baskitaar en elektriese kitaar. Die mikrofone het in stilte waggestaan oor die verrigtinge en die koordjiebord het grys en dood bo-oor alles gehang. Beurtkrag!
My grootste vrees was die koffie-drinkery na die diens. Ek kan acapella sing. Geen probleem nie. Die pastoor se stem dra goed en ek sou hom kon hoor. Geen probleem nie. Maar hier bedien hulle perkoleer koffie na die diens en daardie reuk hang sommer vroeg al in die lug as jy by die kerk aankom. Vandag sou ek moes opdok vir winkelkoffie.
Die pastoor het die afkondigings gedoen en alles het goed gegaan. Tog het die gemeente iets uitgemis, want gewoonlik doen sy vrou dit en dan bring sy altyd 'n bemoedigende, opbouende boodskappie daarmee saam. Ongelukkig sou haar fyn stem nie sonder die mikrofone hoorbaar wees nie en moes sy in die banke wag.
Die voorsang het begin en dit het ook goed gegaan. Ons het eintlik lekker begin sing. Almal het saamgeklap op uitnodiging van die sangleier, in 'n poging om op te maak vir die gebrek aan dromme en ander instrumente. Dit was lekker.
En toe, net toe ons almal berus het by die stand van sake, gaan die ligte skielik oorhoofs aan en daarmee saam begin die gemeente spontaan hande klap terwyl breë glimlagte oor almal se gesigte sprei. Die musikante het, asof op bevel, vorentoe beweeg en begin om hulle instrumente reg te kry. Hande het na mikrofone gereik en enkele minute later, na die rekenaar aan die gang gekry is, was die koordjiebord ook in werking.
En daar skiet 'n gedagte my toe te binne en ek ervaar hoe die Heilige Gees iets aan my openbaar.
Omdat ek op baie jong ouderdom al besluit het dat ek God gaan volg en dit nog altyd gedoen het, het ek al baie gewonder hoe my lewe sou wees sonder Hom. Wie sou ek wees? Watter soort karakter sou ek hê? Volgens watter maatstawwe sou ek my besluite neem? Daar kry ek toe vanoggend my antwoord in die kerk, danksy onbetroubare kragvoorsiening.
Jy sien, dit sou wees soos die diens voor die krag aangegaan het. Alles sou op dreef wees. Die lewe sou aangaan. Die doel van my lewe sou bereik kon word. Geen probleem nie. Maar daar is dinge wat ek sou moes inboet. Ek sou nooit my volle potensiaal kon bereik nie.
Ek sou dinge slegs dofweg kon onderskei, want die verhelderende lig van God sou nie in my lewe gewees het nie. Ek sou kon sing en mooi klanke produseer, maar die klank sou dof en stil wees en die reik-wydte daarvan beperk. Daar sou geen mikrofone of klankversterkers (amplifiers) gewees het om my stem helderder en duidelik uit te dra nie. Daar sou geen monitors gewees het wat na my toe gedraai was sodat ek my eie vals note kon hoor en verbeter nie.
Erger nog, daar sou dinge in my lewe gewees het wat nutteloos en ongebruik rondgestaan het, soos elektriese instrumente sonder krag. Soos 'n pastoorsvrou wie se stem nie gehoor kan word nie.
My lewe sou aangaan, maar dit sou 'n flou afgewaterde weergawe wees van die een wat ek leef in die krag van die Heilige Gees.
Wanneer sulke gedagtes by my wakker word, dan hou ek daarvan om myself te konfronteer met 'n paar taai vrae. So, kom ek vra vir beide jou en myself vandag hierdie twee vrae:
1. Hardloop jy jou lewe op die krag van die Heilige Gees? Of hardloop jy dit in jou eie krag? Moenie jouself probeer bluf om te glo dat daar 'n derde opsie is nie. Daar is nie. Dis jy met God, of dis jy sonder God.
2. As jy jou lewe op die krag van die Heilige Gees hardloop, doen jy 'loadshedding'? Miskien moet ek hou by die Afrikaanse woord 'beurtkrag'. Neem jy soms die beheer by God oor en laat Hom verstaan dat dit nou jou beurt is? Dit is dalk tyd dat jy besef dat die Heilige Gees 'n betroubare bron van krag is en dat enige beurtkrag te wyte is aan eie keuse en nie iets is wat God op jou af forseer nie.
Gister het ek 'n heerlike dag saam met vriendinne deurgebring. Ons het geverf, DVD's gekyk, gechat en ge-'snack' na hartelus. Heerlik. Ons was onbewus van die paniek wat rondom ons geheers het. Waarvan praat ek? Gister, terwyl ons gekuier het, was ons omgewing (weereens) onderworpe aan beurtkrag. Dit het ons eers uitgevind lank na die probleem opgelos was. Ons lewens het on-onderbroke voortgegaan. Die DVD het bly speel, die ligte het nie afgegaan nie. Daar was geen aanduiding van die gebrek aan krag elders nie.
Waarom nie? Die vriendin by wie se huis ons byeengekom het, het sonpanele op haar huis se dak en sy is nie meer uitgelewer aan eksterne kragvoorsieners nie. Haar krag kom direk van bo.
As jy hier lees, en jy bly in Suid-Afrika, dan is die kanse groot dat jy noodwendig onlangs moes skarrel om alternatiewe bronne van energie aan die werk te kry. 'n Generator, gasbottel, flits, iets. Is dit soos jou lewe ook lyk? Skarrel jy rond om die krisisse te hanteer, want die bron van jou krag skiet tekort? Of affekteer hierdie krisisse jou nie meer nie, want jou krag kom direk van Bo?
Gister het ek besinning gedoen oor my bron van elektriese kragvoorsiening. Vandag het ek ook besinning gedoen oor waar my eie krag vandaan kom.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment