Search This Blog

Thursday 8 December 2016

"But for the grace of God ..."


Ek sit vanoggend in die kerk en die vreemdste gedagte tref my skielik. Ek kyk so oor die mense se koppe heen en dink skielik aan die gemeente as 'n groep geveinsdes, mense wat voorgee, sondaars. Die gedagte het my tot in my siel geskok, want dis so ver verwyder van wat ek eintlik glo oor die mense. Dis nou maar die derde Sondag dat ek die gemeente besoek, en uiteindelik sal ek seker daar aansluit, maar die punt wat ek wil maak is dat ek die mense glad nie ken nie. Ek weet niks van hulle nie en hulle weet niks van my nie, maar wat ek tot dusver gesien het, hou ek van. Dis tog waarom ek steeds teruggaan. Vanwaar dan die gedagte?
Toe ek oor my skok kom, sit ek en ontleed waar hierdie onwelkome gedagte vandaan kom en daar kom die dink toe in my los. So 'n paar jaar terug het 'n Christen my baie sleg ingeloop. Dit het my heeltemal te lank gevat om deur hom te sien, want ek het bly val vir sy praatjies en geglo in sy reputasie. Die toppunt was toe hy eendag oorkant my gaan sit en sy optrede uit die Bybel regverdig. I kid you not! Daar sit hy en haal vir my uit die Bybel aan dat hy veronderstel is om slinkser as die wêreld te wees! Hy fokus gerieflik in op 'n paar versies en vergeet skoon van die konteks van die gedeelte, om nie eens te praat van die konteks van die hele Bybel nie. Ek wens jy kon in my kop insien om te weet wat ek daarvan gedink het. Ongelukkig het ek nie een van hierdie gedagtes uitgespreek nie. In retrospeksie is ek baie spyt daaroor.
Dit was natuurlik nie die eerste Christen wat my teleurgestel het nie. Nee wat, daai ry raak al hoe langer en langer, hoe ouer ek word. Dit bring my nou terug by die gedagte wat ek vanoggend in die kerk gehad het. Dit is heeltemal binne my vermoë om sinies te raak en alle Christene oor dieselfde kam te skeer. Ek kan op my selfgeregverdige troontjie klim en almal veroordeel asof almal skuldig is aan die oortredings van 'n paar. Ek kan. Behalwe dat ek nie kan nie.
Jy sien, so lank as wat ek met my kop oor hierdie goed dink en daaroor bly tob, is dit moontlik om dit te doen. Ek haal my wrokke een vir een van die rak af en politoer hulle blink, troetel hulle aan my bors, hou hulle hoog vir ander om te sien. Ek soek tog simpatie of om geregverdig te voel. Ander het ek nog nie mee ge-'deal' nie en hulle word nog nie uitgestal nie. Die feit dat ek al 'n paar jaar tussen mense geleef het, beteken dat ek al 'n aansienlike trofeekamer vol wrokke het om teen mense te hou. Dis nou wanneer ek op my verlede fokus. Dan kan ek sienies raak.
Maar nou doen ek elke kort-kort hierdie ding wat dit vir my onmoontlik maak om so te bly voel. Ek wonder of jy al kan raai waaroor ek wil praat? Nee, ek kyk nie na my toekoms nie. Daar het ek weinig beheer oor. Ek kan beplan, maar ek het nou ook al lank genoeg geleef om te weet dat nie al my planne uitwerk nie. Kyk ek dan na my hede? Nee! Dis vlietend en tydelik en nie die moeite werd om te lank by te vertoef nie.
Ek kyk na God. Ek het God al in my trofeekamer ingenooi en by Hom gekla oor al hierdie mense wat my te na gekom het. Hy was daar. Hy het dit gesien. Hy het my gehoor. En Hy het vreeslik baie simpatie met my gehad. Weet jy wat was Sy oplossing? Hy het my eenvoudig aan die hand gevat en my daar uitgelei. Hy het die deur sorgvuldig agter ons toegetrek. Hy het my verseker dat Hy daarvoor verantwoordelikheid sou neem en my aangemoedig om aan te gaan met my lewe. Hy is in beheer en Hy sal vir my sorg.
Dit het my kwaad gemaak. Ek het geweet wat Hy wil doen. Hy wil hulle vergewe! Ek was nog nie reg om te vergewe nie. Ek wou daai wrokke nog koester. Ek het hardkoppig teruggerem en my in my kamer vol trofees gaan toesluit. Ek het nie net die nuutste een van die rak afgehaal nie. Ek het sommer 'n klomp gaan afhaal en my skoot volgepak met ou wrokke wat ek sorgvuldig gaan afstof het.
Weet jy wat het God gedoen? Hy het my weer daar kom haal. En weer. En weer.
Die vreemdste ding gebeur met mens wanneer jy tyd in God se teenwoordigheid deurbring. Jy verander. Jou gedagtes verander. Jou denke verander. Jou woorde verander. Jou emosies verander. En dan as jy weer eendag terugstap in jou trofeekamer in, dan hou dit geen attraksie meer nie. Dis bedompig, muwwerig, stowwering en donker. Jy kan nie verstaan waarom jy soveel plesier daaruit geput het om ure hier deur te bring nie. Dis wanneer jy God se karakter begin aanneem. Dis op daardie punt wat jy self die vermoë ontwikkel om die deur agter jou toe te trek.
Op hierdie stadium was die sangdiens reeds aan die gang en ek het outomaties saamgesing terwyl al hierdie gedagtes deur my kop gaan. Skielik word ek bewus van die lied wat ek besig is om te sing.
"Amazing Grace. How sweet the sound that saved a wretch like me. I once was lost, but now I'm found, was blind, but now I see."
Daar word aanvaar dat die persoon wat hierdie woorde geskryf het, die kaptein aanboord 'n slawe-skip was, wat tot bekering gekom het. Ek wil hê jy moet dit verstaan vir wat dit impliseer. Dit beteken dat dit iemand was wat verantwoordelik was dat massas mense hulle vryheid verloor het en hulle lewens as slawe in ander se diens uitgedien het.
Dis erger. Dit was geskryf deur iemand wat verantwoordelik was dat massas mense dood is op reis a.g.v. die haglike omstandighede waarin hulle vervoer is. In essensie, is die woorde geskryf deur 'n massa-moordenaar.
Dis hoe ver God se vergifnis strek. Ver, baie ver verby wat ons aanvaarbaar vind. Dis waarom dit so moeilik is om iemand by God aan te kla. Wat help dit jy kla oor iemand as God nie daarop ingestel is om te straf nie, maar eerder om te vergewe?
Dis 'n kruispad. Dis waar jy moet kies wat vir jou die belangrikste is. Is dit belangriker om jou wrok te koester, of is dit belangriker om tyd by God deur te bring? Jy kan beide vir 'n tyd lank doen, maar uiteindelik is God nie met wrokke versoenbaar nie en sal jy maar moet kies.
Intussen speel die lied steeds in die kerk en ek sing lustig saam: "Amazing Grace. How sweet the sound that saved a wretch like me. I once was lost, but now I'm found, was blind, but now I see."
En toe tref dit my. Hierdie woorde is nie 'Amazing Grace. How sweet the sound that saved a wretch like HIM', nie! Dis ek wat gered is. Dis ek wat vergewe is. Erens staan 'n trofee, met my naam op, in iemand anders se trofeekamer. En ek wonder hoeveel keer het God al iemand anders uit hulle trofeekamer moes lei, sodat Hy my kon vergewe? Hoeveel keer moes Hy klagtes oor my aanhoor?
En toe val ek in my gedagtes op my knieë en ek sing hierdie woorde as 'n gebed: "Amazing Grace. How sweet the sound that saved a wretch like me. I once was lost, but now I'm found, was blind, but now I see."

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment