Search This Blog

Saturday 10 December 2016

Is jy gehoorsaam aan God, of dink jy Hy moet jou gehoorsaam?


Ek sit gisteroggend in die kerk en die prediker vryf toe so ligweg oor 'n gedeelte in die Bybel wat met die eerste oogopslag nogal onregverdig voorkom vir 'n mens. Ek het verskeie kere met mense oor hierdie gedeelte gepraat waar hulle dan hulle misnoë met God se optrede uitgespreek het. Die gedeelte waarvan ek praat is in 1 Kronieke 13 te vind. Dawid is nou koning in die land en hy onderneem om die verbondsark terug te haal na Jerusalem, nadat die Filistyne dit gebuit het in 'n oorlog teen Saul en dit toe na Kirjat-Jearim toe gestuur het. Hulle het die ark op 'n wa gelaai wat deur osse getrek was en die terugtog begin. Verse 9 en 10 lees soos volg:
"Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam; die Here het hom getref omdat hy met sy hand aan die ark geraak het, en hy het daar langs die ark gesterf."
Sjoe! Mens kan nie help om te wonder of God se straf nie oordadig was nie. Ons moet teruggaan nie die wette wat God aan Moses gegee het om selfs net te verstaan wat die oortreding hier was. Ek sal dit vinnig noem en aanbeweeg, want ek wil nie hierdie 'n gesprek rondom wette maak nie. God het beveel dat bepaalde Leviete die ark met draaghoute op hulle skouers moes dra. Dit was hulle amp, hulle roeping. Die ark moes nooit op 'n wa gelaai gewees het nie. Niemand mag ooit aan die ark geraak het nie. Die hoëpriester mag slegs een maal 'n jaar in die allerheiligste ingegaan het, waar die ark gestaan het. Dan moes daar 'n tou aan hom vasgebind gewees het, in geval hy iets daar verkeerd sou doen en sou sterf. Mense kon hom dan aan die tou uitsleep.
Hierdie konsep is 'n vreemde een vir ons wat in die Nuwe Testametiese bedeling leef. Jy sien, ons het vrye toegang tot God. God leef selfs in ons d.m.v. Sy Heilige Gees! Maar dit is alles slegs moontlik na Jesus se kruisdood, toe die gordyn wat voor die allerheiligste gehang het, middeldeur geskeur het. Dis nadat Jesus die finale offer gebring het vir sonde. Dis ook waarom daar net een weg is wat na God toe lei, en dis deur Jesus Christus. Geen wonder dat Hy ons met diè woorde gelos het in Johannes 14: 6 nie:
"Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." 
Hierdie vrye toegang wat ons tot God het, het gemaak dat God vir ons alledaags geword het. Ek het selfs al gehoor dat mense na Hom verwys as oorbodig en vervelig. Erger ook, maar julle snap waarvan ek praat. Wat ons gewen het in die Nuwe Testament/Nuwe Verbond, kan nie in een bespreking genoem word nie. Dit is te omvangryk om selfs net te probeer. Wat ons verloor het, is ontsag vir God. Mag ek die Bybelse woord vrees gebruik? Onthou julle dat die ou vertaling gelees het dat jy God moet vrees? Hierdie woord laat ons ongemaklik rondskuif vandag, want ons probeer ons bes om vrees uit ons lewens te weer.
Vandag hou die woord vrees slegs negatiewe konnektasies vir ons. Ons pas nie meer lyfstraf toe nie, want ons is gekant teen dissipline wat vrees aanwakker in 'n kind. Ons het weggedoen met die doodstraf en baie mense is gekant teen hierdie besluit omdat hulle glo dat vrees vir die doodstraf mense sou weerhou het om moord te pleeg. Onderwysers mag ook nie meer lyfstraf toepas nie en dissipline in skole is buite beheer oor die wêreld heen, want kinders het nie meer vrees vir die gevolge van hulle dade nie. Dit help natuurlik ook nie dat dit bykans onmoontlik geword het om 'n kind te skors nie.
As jy nou gevind het dat jy in slegs een van hierdie gevalle gedink het dat dit verkeerd is dat ons weggedoen het met hierdie strawwe, dat daar niks fout is met gesonde vrees wat mense weerhou van kwaaddoen nie, dan is jy nou by die betekenis van die woord vrees, wanneer die Bybel sê jy moet God vrees.
Nou wil ek jou vra of jy steeds enige vrees vir God het? Dis 'n vraag wat ek myself ook kort-kort afvra. 'n Kind wat niks verkeerds gedoen het nie, het nie nodig om sy ouer te vrees nie. Een wat drooggemaak het, het wel rede tot kommer/vrees.
Het jy al gesien hoe 'n groot menigte gehoorsame ouers daar vandag in die samelewing is? Die kinders klap hulle vingers en die ouers spring om te gehoorsaam. Het jy ook al lus gevoel om 'n kind of twee vas te vat en hulle te vertel waar die grenslyn tussen reg en verkeerd lê, wanneer hulle ouers slegs apaties toekyk?
God is nie 'n apatiese ouer nie. God gaan ons nie laat wegkom met ons eiesinnige en hardkoppige idees nie. God gee die rigting en ons met gehoorsaam. Ussa het destyds duidelike riglyne gehad waar hy geleer het hoe die ark vir 40 jaar lank op die Leviete se skouers gedra was. Ussa, Dawid en die ander in die geselskap, het geglo hulle doen goed en het eiewys hulle eie idees op God afgeforseer, sonder om God te gehoorsaam binne die raamwerk van die tyd. Ussa het duur betaal en die ander het 'n baie duur les geleer.
God gaan tien teen een nie vandag jou met 'n bliksemstraal uit die hemel tref as jy verkeerd doen nie. Maar die gevaar wat jy loop om dood te gaan, is die ewige dood. God het duidelike riglyne oor wat reg en verkeerd is. Hy maak Sy Wil daagliks aan ons bekend deur sy Woord en deur profete, tekens ens. God woon in ons. Dink jy vir een oomblik dat jou flou verskonings gaan stand hou voor God se Waarheid op die dag van oordeel?
Vanaand wil ek vir jou sê om jou koppigheid te laat staan. Sonde is sonde. Daar is nie 'n moderne eeu wat dit wat verkeerd is skielik reg gemaak het nie. Daardie eiesinnige, hardkoppige, beterweterigheid is niks nuuts nie. As jy dit nie weet nie, het jy nog nie die eerste paar boeke in die Bybel gelees nie. Rigters is 'n rekord daarvan!
God gaan nie in gehoorsaamheid die knie voor jou met jou gewaande superieure kennis buig nie. Jy sal jou eiewaan, jou selfvoldaanheid, jou meerdere kennis voor God moet neerlê en aan Hom gehoorsaam wees. God straf steeds ongehoorsaamheid waarvoor daar nie versoening gedoen is nie.
Ons probeer ons bes om ons denke, ons kennis en ons ervarigs te verbreed. Ek het geen probleem daarmee nie. Tog herinner ek myself kort-kort daaraan, dat daardie breë lewe van my steeds deur 'n nou poort moet pas as ek God eendag wil sien. Matteus 7:13-14 sê:
"Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en diè wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en diè wat dit kry, is min."
'n Laaste gedagte. Ons troos ons gewetens vandag deur gemaklik te gaan soek na 'n prediker wat vir ons sal sê dat ons sonde nie sonde is nie. Een wat net so skuldig is as ons. Lees die volgende vers en moet jou nie laat bluf nie:
"Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe."

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment