Search This Blog

Wednesday 22 February 2017

Wie is baas; jy of jou emosies?


Vanaand wil ek 'n netelige sakie aanraak. Aanvaar sommer uit die staanspoor dat ek sukkel om verby die balk in my eie oog te sien soos ek hier sit en tik. Ek lees nou net van Dawid wat die punt van Saul se mantel afsny in 1 Samuel 24. Ter agtergrond kan ek gou vertel dat Saul besig was om Dawid te agtervolg om hom dood te maak. Terwyl dit aan die gang is, gaan Saul by 'n grot in om te gaan ontlas. Hy is dus uiters blootgestel, letterlik met sy broek om sy enkels betrap. Dawid en sy leër het agter in hierdie selfde grot geskuil. Dawid se manne moedig hom aan om Saul dood te maak, oortuig daarvan dat God dit so bewerkstellig het. Dawid weet van beter en weier om dit te doen. Nou wonder ek of ek so gaaf sou wees teenoor iemand wat my wou doodmaak. Laat ek maar liewer nie antwoord nie.
Diep onder die indruk van die goeie verhouding wat Dawid met God gehad het en hoe goed hy kon onderskei tussen reg en verkeerd, lees ek toe verder in hoofstuk 25. Kan ek die woord versoeking gebruik? Dawid het die versoeking weerstaan om homself op Saul te wreek. Hy was nederig en het nie toegegee aan sy emosies nie. En dan loop hy hom vas in Nabal. Dawid vra van Nabal 'n paar skape as vergoeding vir die feit dat hy Nabal se besittings beskerm het. Nabal reageer met beledigings en verwys na Dawid as 'n wegloop slaaf. Dan ruk Dawid hom op en hy trek sy leërmag saam om Nabal en sy mense uit te wis. Hy tree emosioneel op en daar is geen teken meer van sy nederigheid nie. Dis net die ene arrogansie. Gelukkig tree Abigajil, Nabal se vrou, in en die saak word beredder.
In hoofstuk 26 sluip Dawid Saul se kamp binne toe laasgenoemde hom weereens agtervolg om hom dood te maak. Weereens reken Dawid se raadgewers dat dit God se wil is dat hy Saul doodmaak. Weereens weet Dawid beter en hy spaar Saul se lewe. Nederig, en hy tree nie emosioneel op nie.
Ek kan nie help om te wonder hoe ek sou optree in dieselfde omstandighede nie. Of, in my eie omstandighede teenoor my eie vyande. Sou ek hulle vernietig as dit in my vermoë was om dit te doen, of ek sou ek die saak by God laat? Sou ek dan my woede op iemand anders gaan uithaal (nie 'n baas nie - Saul -, maar 'n ondergeskikte - Nabal - die keer)? Mag daar tog altyd 'n Abigajil in elkeen van ons se lewens wees. Mag ons bereid wees om na haar te luister en onsself bedwing wanneer sy ons van goeie raad voorsien.
Nou dink ek mos dat Abigajil eintlik eerder in Nabal se lewe was as in Dawid s'n. Sy was Nabal se vrou en het eers na sy dood met Dawid getrou. Hier is die verskil tussen die twee mans. Oor Nabal staan daar geskrywe:
"... en hy is so 'n verkeerde man dat mens nie met hom daaroor kan praat nie." (1Samuel 25:17b). 
Oor Dawid staan daar geskrywe: 
"Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe." (1 Samuel 25:35b)
Die een was nie bereid om te luister nie, onwrikbaar. Die ander was bereid om te luister en sy planne te wysig, oorhaalbaar. Die tweede was die ideale leier. Waarom is dit dan dat ons na die eerste se karaktereienskappe soek in leiers?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment