Search This Blog

Saturday 9 February 2019

Bybel Legkaart: Genesis Deel 3

Die Bybel Legkaart blog is begin met die gedagte om die samehang van die Bybel as geheel aan mense te openbaar. In die eerste twee aflewerings van hierdie blogs, is die totstandkoming en vertaling van die moderne Bybel nagevors. In hierdie blog bekyk ons die boek van Genesis van naderby.
Die eerste twee blogs in die reeks kan d.m.v. hierdie skakels opgespoor word:


AFDELING B: DIE PENTATEUG

Deel 3

Genesis
    1. Agtergrond tot Genesis
    2. Tydlyn en geslagsregisters van Genesis
    3. Skeppingstradisies en vloedverhale
    4. Die oermense
    5. Die patriarge
    6. Toepassing
    7. Bibliografie
3.1 Agtergrond tot Genesis
Genesis se naam word verleen uit die openingswoorde in die Tenak. Uit Hebreeus vertaal beteken Genesis ‘Begin’ of ‘Oorsprong’.

Outeur
Moses word tradisioneel aanvaar as die outeur van die Pentateug. Belangrike bronne, groepe en individue wat Moses as outeur van Genesis en die res van die Pentateug, aanvaar sluit in:
  • Die Christelike kerk vanaf die ontstaan daarvan tot die hede.
  • Judaïsme en die Talmud.
  • Die Ou Testament.
  • Die Nuwe Testament, insluitend Jesus (Joh. 5:46).
  • Josephus; ‘n belangrike geskiedkundige uit die eerste eeu nC.
Leenwoorde uit die Egiptiese taal veronderstel dat die oorspronklike outeur sy wortels in Egipte gehad het.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat daar goeie argumente gevoer kan word teen die solo-outeurskap van Moses. Een van die beste argumente hierteen veronderstel dat die Pentateug uit vier verskillende tradisies saamgestel is:
  • Die Jahweh-tradisie (J) – Die oudste gedeeltes van die boek. Gebruik deurentyd die woord JHVH.
  • Die Elohiste-tradisie (E) – Geskryf na Salomo. Vermeng met J.
  • Die samevoeging van J en E deur ‘n redakteur (RJE).
  • Die Deuteronomiese tradisie (D) – Geskryf in die Noordelike Koninkryk teen ongeveer 721 vC. Basies Deuteronomium.
  • Die samevoeging van JED
  • Die Priesterlike tradisie (P) – Geskryf deur priesters teen ongeveer 587 vC. Hoofsaaklik die laaste hoofstukke van Eksodus en die boek Levitikus.
  • Die samevoeging van JEDP – voor 400 vC.
Datering
Genesis omvat die grootste tydvak van enige van die Bybelboeke, meer as al die ander boeke saam – ongeveer 2500 jaar. Die tydlyn onder punt 3.2 hieronder werp meer lig hierop.
Die uittog uit Egipte het in die eerste helfte van die 15de eeu vC. plaasgevind. Geleerdes bereik nie eenstemmigheid rakende die spesifieke datums van die uittog nie. Sommige plaas dit teen ongeveer 1250 vC., terwyl ander reken dit het teen ongeveer 1440-1491 vC. plaasgevind. Moses het die Pentateug dus in alle waarskynlikheid in die daaropvolgende jare geskryf, gedurende die Israeliete se swerfjare – sou mens aanvaar dat Moses die outeur was.

Agtergrondgeskiedenis en geografie
Genesis beskryf die totstandkoming van verskeie nasies. Daar word ook beskryf hoe hulle oor die aarde versprei het en waar hulle hulle gaan vestig het. Baie van die nasies speel ‘n belangrike rol in die latere geskiedenis van die Bybel, veral die Ou Testament. Dis ook belangrik om te let op die onderlinge verbintenisse tussen die nasies. Let op die geslagsregisters in punt 3.2 hieronder. Die onderstaande kaart toon duidelik dat Genesis hom afspeel in die wêreld van die destydse Mesopotamië, of te wel die hedendaagse Midde Ooste.

Die wêreld van Genesis:
(Uit: NAV, 1983)

Uitleg
Genesis kan in breë trekke soos volg ingedeel word:

Genesis 1-50

Oergeskiedenis: Gen.1-11
Patriargale tydperk: Gen.12-50
Skepping: Gen.1-2
Abraham: Gen.12-23
Sondeval: Gen.3-4
Isak: Gen.24-26
Nageslag van Adam: Gen.4-5
Jakob (Israel): Gen.27-35
Die verderf van die mens: Gen.6
Esau (Edom): Gen. 36
Die vloed: Gen.6-9
Josef: Gen.37-50
Vestiging van die nasies: Gen.10

Verspreiding van die nasies: Gen. 11




3.2 Tydlyn en geslagsregisters van Genesis
TYDLYN
Hierdie tydlyn is slegs by benadering:

4000 vC.
Skepping
Die Begin
4000+ vC.
Sondeval
Die Begin
2348 vC.
Vloed
Die Begin
2234 vC.
Babel (Verspreiding van die nasies)
Die Begin
1921 vC.
Roeping van Abraham
Patriargale Tydperk
1760 vC.
Jakob vlug van Esau
Patriargale Tydperk
1715 vC.
Josef word Eerste Minister van Egipte
Patriargale Tydperk
1706 vC.
Intog in Egipte
Patriargale Tydperk
1635 vC.
Die dood van Josef
Patriargale Tydperk
Geslagsregisters in Genesis
Uit: Gen. 4 en 5
Adam en Eva - Kain, Abel en Set
Kain - Henog - 3 geslagte - Lameg - Jabal (Nomade), Jubal (Musikante) en Tubal-Kain (Smede)
Abel - Geen verdere bloedlyn
Set - 4 geslagte - Henog opgeneem - Metusalag (969 jr) - Lameg - Noag

Uit: Gen. 6 – Die ‘gode-seuns’ trou met aardse vroue. Die gevolg is korrupsie. As straf word die aarde met ‘n groot vloed getref. Die term ‘gode-seuns’ word ook elders in die Bybel aangetref. Lees Job 1:6; 2:1; 38:7; Ps.29:1; 82:6; 89:7 en Dan. 3:25.

Uit: Gen. 10
Noag - Jafet, Sem en Gam
Nasies uit Jafet: 
Mediërs; Grieke; Kittiërs; Rodaners (Bewoon die kusstreke)

Nasies uit Gam:
 Kussiete
Egipte
 Kanaäniete (9:25)
 Nimrod (1ste maghebber)

 Uit Egipte: Ludeërs; Filistyne

Uit Kanaän: Sidoniërs; Hetiete; Jebusiete; Amoriete; Girgasiete; Hewiete; Erekiete; Arwadters; Semariërs; Hamiete

Nasies uit Sem: Arpaksad (met 'n uitgebreide register); Assirië; Elam; Lud; Aran (4 Seuns)

Uit: Gen. 11
Sem - Arpaksad - 5 geslagte - Nahor - Tera
Uit Tera: Abraham (trou met Sarai); Nahor (trou met Milka); Haran (sterf vroeg)

Uit Haran: Lot (Seun); Sarai (Dogter); Milka (Dogter); Jiska (dogter?)

Uit Gen. 22
Nahor - 
by Milka: 8 seuns, o.a Kemuel (Arameërs) en Betuel (Gen.24:29,o.a. Rebekka en Laban )
by Reüma: 4 seuns

Uit: Gen. 19
Lot (by sy dogters) - Moabiete en Ammoniete

Uit: Gen. 16-25
Abraham verbind hom aan: Sarai; Hagar; Ketura
By Sarai: Isak (Gen.21) - Jakob en Esau
By Hagar: Ismael (Gen.16) - 12 seuns by ‘n Egiptenaar
By Ketura: 6 seuns (o.a. vader van die Midianiete) en uitgebreide register gelys, (Gen.25)

Uit: Gen. 29; 30 en 35
Jakob verbind hom aan Ragel, Lea, Bilha, en Silpa
By Ragel: Josef (11); Benjamin (12)
By Lea: Ruben (1); Simeon (2); Levi (3); Juda (4); Issaskar (9); Sebulon (10); Dina (dogter, gebore na Sebulon en voor Josef)
By Bilha: Dan (5); Naftali (6)
By Silpa: Gad (7); Aser (8)

Uit: Gen. 36
Esau (Edomiete) verbind hom aan: Ada (Hetiet); Oholibama (Hewiet); Basemat (Ismaeliet)
By Ada (Hetiet): Elifas -7 seuns, o.a. vader van Amalekiete
By Oholibama (Hewiet): 3 seuns
By Basemat (Ismaeliet): Reüel - 4 seuns

Uit: Gen. 36 - Edomietiese konings en die nageslag van Seïr (Kanaäniete, vers 2)

Uit: Gen. 38
Juda verbind hom aan: Bat-Sua (‘n Kanaäniet); Tamar (sy skoondogter)
By Bat-Sua: Er; Onan; Sela
By Tamar: Peres (Uiteindelik Jesus - Mat. 1); Serag

Uit: Gen. 46 – Jakob se nakomelinge. 70 in totaal.

Uit: Gen. 41: 50-51
Josef - Efraim;  Manasse

3.3 Skeppingstradisies en vloedverhale
SKEPPINGSTRADISIES
Die geloof het ontstaan dat Genesis maar slegs ‘n Hebreeuse weergawe van die skeppingsverhaal beskryf. Dit is as gevolg van die ooreenkomste tussen die skeppingsverhaal van Genesis en die van ander antieke volkere.

Algemene kenmerke van skeppingsverhale:
  • Die voorafbestaan van die godheid;
  • Skepping deur ‘n goddelike bevel;
  • Die mens as kroon van die skepping;
  • Die mens wat uit die aarde geskep is;
  • Die mens wat die godheid weerspieël;
  • Die fisiese heelal is geskep of het vooraf bestaan.
Politeïstiese gelowe het almal die volgende karaktertrekke:
  • Gode met stambome;
  • ‘n Goddelike paar wat aan die hoof van die goddelike familie staan (of ‘n enkele selfgeskape en selfvoortplantende god);
  • Die natuur is onder beheer van die godedom.
Die skeppingsverhale wat die nouste met Genesis verband hou:
  • Babiloniese Genesis: Dit word laat in die tweede millennium geskryf. Die skeppergod is Mardoek. Hy maak die moederfiguur dood a.g.v. ‘n rusie wat tussen die kinders uitbreek. Haar lyk word die basis van die skepping (aarde). Die verhaal het ontstaan uit ouer verhale, wat sedertdien ontdek is.
  • Die Atrakhasis-epos: Dis opgeteken as ‘n Babiloniese gedig. Die mens word geskep as antwoord op die kleiner gode se rebellie omdat hulle die aarde moet bewerk. Die mense maak ‘n lawaai wat die gode uit hul slaap hou. Dit lei tot die mens se vernietiging in die vloed.
VLOEDVERHALE
Daar bestaan verskeie antieke geskrifte wat die verhaal van ‘n groot vloed in die omgewing van Mesopotamië beskryf.

Algemene kenmerke van vloedverhale:
  • Ontkoming per boot;
  • Diere aan boord geneem;
  • Stranding op ‘n hoë bergpiek.
Die Atrakhasis-epos verhaal ‘n Babiloniese weergawe van die vloed wat sterk met Genesis se weergawe ooreenstem. Met die besluit om die mens te verdelg (a.g.v. sy lawaai) word Atrakhasis deur die skeppergod gewaarsku. Hy ontsnap die dood deur met ‘n boot te vlug. Na sewe dae stuur hy voëls uit om te soek na droë grond. Die boot strand op ‘n hoë bergspits. ‘n Ooreenkoms met die gode poog om onvrugbaarheid en kindersterftes te verduidelik.

‘n Sumeriese teks beskryf ook bykans dieselfde verhaal as Genesis, hoewel saakliker.

Wanneer die verhale vergelyk word, kan ‘n mens die konklusie bereik dat almal met dieselfde gegewens gewerk het, maar dat elkeen sy eie interpretasie daaraan gekoppel het. Daar word ook argumente gevoer dat die Genesis-verhale uit die Babiloniese verhale ontstaan het.

3.4 Die oermense
Genesis is die boek waarin God met die mens verbonde sluit. Dit is dan ook een van die hooftemas van die boek. Hierdie verbonde sal grootliks bepaal hoe God en mens met mekaar sal omgaan. Die verbonde wat in die Bybel gevind word het almal dieselfde kenmerke:
  • Dit kom van God.
  • Dis aan die mens gerig.
  • Dit sluit ‘n verlossingsbelofte in.
  • ‘n Teken word gegee dat God sy belofte sal hou.
Dit is raadsaam om aan die einde van elke gedeelte/hoofstuk in Genesis te stop en die vraag te antwoord: “Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?” Skryf hierdie antwoorde gerus op papier neer en hou dit vir die toepassing aan die einde van hierdie leseenheid.

Die Skepping

Gen. 1-2 word alom gesien as die twee hoofstukke wat die verhaal van die skepping weergee. König (2002) voer egter die argument dat die Bybel ons meer inligting rakende die Skepping gee. Hy verwys onder meer na Job 38:8-11; Ps. 74:12-17; Ps. 104; Jes. 51:9-16; Am. 4:13; 5:8-9; 9:5-6 en Spr. 8:22-36.

Wanneer ons hierdie sake onder die soeklig stel word dit duidelik dat ons kennis en verstaan van die Bybel tekort skiet. Die Bybel is nie ‘n wetenskaplike verslag wat poog om al ons vrae rondom die ontstaan van die heelal te beantwoord nie. Aan die ander hand sê König, (p.304), tereg dat natuurwetenskaplikes geen waarnemings of eksperimente het wat kan bevestig of ontken dat God by die ontstaan van alles betrokke was nie.

n Ontleding van Gen. 1-2
Volgens hierdie gedeelte leer ons dat God die heelal (hemel en aarde) aan “die begin” geskep het. God se werk is skeppend, dus nie redupliserend van aard nie.

Daarnà het God die skepping van die aarde voortgesit en in ses “dae” voltooi. Die “dae” is van mekaar onderskei deurdat dit “aand en môre” geword het. Tog is TYD eers op die vierde dag geskep. Hieruit blyk dat ons ‘n beperkte verstaan het van die tydsaspek van die skepping. Die inligting tot ons beskikking is onvolledig of beperk.

Gen. 1:29-30 verduidelik dat die lewende wesens herbivories geskep is. Hierdie situasie verander eers na God se verbond met Noag in 9:3.

Die mens word met ‘n doel geskep:
  • As verteenwoordiger van God, in God se beeld;
  • Om te heers oor alles wat leef
As God se verteenwoordiger is die mens dus teenoor God verantwoordbaar, spesifiek rakende sy heerskappy hier op aarde.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________

___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Die Sondeval

Gen. 3 word gewoonlik alleenstaande beskou as die hoofstuk wat die sondeval verhaal. ‘n Mens kan egter ook Gen. 4 hierby inbring. Hoofstuk 3 handel dan oor sonde teenoor God, terwyl hoofstuk 4 sonde teenoor die medemens verhaal.

n Ontleding van Gen. 3
In hoofstuk 3 word die harmonie versteur wanneer die antagonis (die slang) op die toneel verskyn. Hy saai twyfel in God – ongeloof. Die ‘beloning’ is kennis/insig/realiteit. Interessant om daarop te let dat ‘insig’ reeds intree voor die vrug nog eens aangeraak is (v6).

Na die eet van die vrug is twyfel/ongeloof die kennis wat die mens verwerf. Hy twyfel in homself. Hy het iets om weg te steek – van God sowel as van sy medemens. Die mens se selfbeeld lei skade. Hy’s nie meer gemaklik met homself, sy medemens of met God nie. Ook verhoudings het skade gelei – met self, medemens en God. Telkens word mens dus herinner aan Jesus se opsomming van die grootste gebod en die tweede wat Hy daaraan gelykstel (Markus 12:29-31).

Ten spyte van die slang se argument dat dit nie die geval is nie, word dit duidelik dat dood tog die mens se seker einde is (v19). Die eerste lewende wese offer dan ook nou sy lewe om te kompenseer vir die mens se sonde (v21). Uit genade (sodat die mens nie in hierdie gevalle toestand hoef voort te bestaan nie) wys God die mens weg van die boom van die lewe. Wanneer die mens weer toegang tot diè boom sal hê, sal die harmonie/verhouding tussen God en mens herstel wees (Op. 22:1-2)

n Ontleding van Gen. 4
Daar word alom bespiegel oor God se aanvaarding van Abel se offer en sy verwerping van Kain s’n. Die antwoord hierop vind ons moontlik in die Mosaïse wette. Volgens Deut. 14:22-23 en 26:1-2 verg God offers uit jou eerstes en jou bestes. Dis dan ook wat Abel bring. So ‘n offer verg dat jy God noodwendig moet vertrou vir ‘n verdere oes-/kudde-aanwas, en ook dat die tweede ten minste net so goed as die eerste sal wees, indien nie beter nie. In vandag se terme sou ons kon sê dat Abel sy stoetvee geoffer het – die beste uit die bloedlyn.

Al het God Kain se offer verwerp, het Hy egter nie vir Kain verwerp nie. Inteendeel, die res van die gedeelte handel juis oor God se intieme kontak met Kain.

Gen 3 en 4 toon dieselfde verloop:
  1. God waarsku en leer die immanente sondaar.
  2. Die sondedaad word gepleeg.
  3. God straf die sonde
  4. God betoon genade
VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Lameg en Henog

Twee interessante figure kom nou na vore. Aan die einde van hoofstuk 4 word ons aan Lameg bekend gestel. Lees gerus sy uitsprake oor weerwraak en let op die rol wat eiebelang speel. Let verder op die mens se wreedheid wat hier duidelik teenoor God se genade gestel word.

Die tweede figuur is diè van Henog. Hierdie man se lewe was so opreg dat God hom lewendig na die hemel wegvoer. Lees gerus ook Heb. 11:5 se uitspraak oor Henog.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Die Sondvloed

Geen bewyse van ‘n vloed van Bybelse proporsie kon nog gevind word nie. Tog is daar voldoende bewys dat ‘n vloed van epiese afmetings plaasgevind het in die Mesopotamiese omgewing gedurende die tydperk waarin die Bybelse vloed chronologies geplaas word.

Met Noag word ‘n verbond gesluit na die vloed. Vergelyk gerus die verbond met die geïdentifiseerde kenmerke (sien bespreking hierbo).

n Ontleding van Gen.6-9
Die mens bevind hom op ‘n afdraande pad wat lei tot sedelike en morele verval. Dit vind kulminasie in Gen. 6, waar die volgende uitsprake gemaak word:
v.5 “… die mens … sy lewe lank net slegte dinge bedink …”
v6-7 God was bedroef dat Hy die mens geskep het.
v.12 “… elke mens op aarde se lewe was verrot.”

Tog vind ons ‘n protagonis in Noag; hy was onberispelik, regverdig en het naby God geleef – ten spyte van sy tydgenote. In Noag vind God ‘n katalisator vir sy genade, sodat hy nie net die mensdom red nie, maar ook die skepping. God stuur ‘n vloed wat die skepping uitdelg. Vir die eerste keer val daar reën uit die hemel (Gen. 7:11-12; 2:5-6).

Aan die einde van die vloed bring Noag ‘n uiters kosbare offer. Ten spyte van die gebrek aan diere en voëls, offer Noag steeds een van elke soort wat rein is (Gen. 8:20). Hiermee erken hy dat hy God vertrou om te sorg. God eer hierdie offer en lê ‘n gelofte af in antwoord daarop (Gen. 8:21-22).

Hierna sluit God ‘n verbond met Noag en sy nageslag wat herinner aan diè met Adam en Eva (Gen. 9:1-7). Hierna word die mens se eetpatroon omnivories. Die teken van hierdie verbond is die reënboog.

Noag word die eerste mens om ‘n wingerd te plant en drink homself dronk. Gam dryf die spot met Noag in sy beskonke toestand. Daarvoor word Kanaän (voorvader van die Kanaäniete) vervloek. Sem en Jafet word egter geseën. Gen. 10 berig hoe die nasies van die aarde uit Noag se seuns gestam het.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Verspreiding van die nasies

Gen. 10-11 verduidelik waar die nasies van die wêreld hulle oorsprong het na die vloed. Soos reeds genoem, lê hoofstuk 10 Noag se nageslag uit en hoe die nasies uit sy drie seuns gestam het.

n Ontleding van Gen. 10-11
Gen. 11:1-9 verduidelik hoe ‘n uitgebreide familie, wat in een area gesentreer was, oor die aarde versprei het en in verskillende nasies verdeel het – elk met sy eie taal.

Gen. 11:10-32 fokus nouer in op Sem se nageslag tot op Abram (Abraham), wat die eerste Israelitiese patriarg word.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

3.5 Die Patriarge

Abraham

Die belangrikheid van Abraham lê daarin dat hy die eerste in die lyn van die voorvaders van die Israeliete word. Abraham kwalifiseer vir hierdie posisie op grond van sy geloof. Dit is dan ook waarom Abraham die vader van die gelowiges genoem word. Uit Abraham se nageslag sal redding vir die hele wêreld bewerkstellig word. Sy nageslag word die uitverkore volk – uitverkore om die boodskap van geloof in God en redding vir alle nasies na die wêreld uit te dra. Dis ook uit sy nageslag dat die Messias uiteindelik gebore sal word.

Met Abraham word ‘n verbond gesluit. Hierdie verbond omsluit twee aspekte:
  • ‘n groot nageslag; en
  • die grondgebied van Kanaän.
Die teken van hierdie verbond sal die besnydenis wees. Abraham en sy nageslag word gemaan om die verbond te hou. Die mens het dus ‘n verantwoordelikheid in hierdie verbond, anders as in die verbond met Noag.

Abraham het ‘n nomadiese bestaan gevoer wat hom deur die hedendaagse Kuwait, Irak, Sirië, Libanon, Jordanië, die Wes-oewer, Israel, die Gaza-strook en Egipte gevoer het. Sien die meegaande kaart.

(Uit: Van Eden tot Rome, p.10)

Met Abram se roeping trek hy en sy familie uit Ur. Hulle vorder tot by Haran (vernoem) waar Abram se broer sterf. Tera besluit om nie verder te trek nie (Gen. 11). Abram trek nou met ‘n kliener gedeelte van sy familie verder. By Sigem aangekom gaan Abram direk na die omgewing se aanbiddingsplek – ‘n waarsêersboom – waar hy God opsoek. God bevestig sy verbond met Abram. Abram bou hier ‘n altaar vir God. Nou verskuif Abram na Bet-El, waar hy weereens ‘n altaar bou en God aanbid. Vandaar trek hy suidwaarts. Uit Abram se keuse van aanbiddingsplekke kan ons aflei dat sy Gods-konsep nog baie verweef is met diè van die nasies in sy omgewing. Soos hy egter ‘n lewenspad met God loop, word hierdie konsep beter gedefinieer.

Twee interessante verhale rakende Sara word vertel. Weens hongersnood in die land, verskuif Abram na Egipte. Hier verberg hy die waarheid omtrent sy en Saraï se huwelikstatus van die Farao, wat haar dan in sy harem opneem. As straf word die Farao met plae getref. Eers wanneer Abram die waarheid erken, kom daar verligting. Abram trek dan terug na Kanaän (Gen. 12).
‘n Herhaling van hierdie insident kom in Gen. 20 voor. Hierdie keer kom Koning Abimelek van Gerar (‘n Filistyn) in gedrang. God verskyn twee maal in Abimelek se drome aan hom en Abimelek voer ‘n gesprek met God. Weereens kom daar verligting wanneer die saak reggestel word. Egter nie voor Abram en Abimelek ‘n verbond met mekaar sluit nie (Gen. 21:22-34).
Volgens Hebreeuse tradisie was Sara as Tera se dogter beskou na Haran se dood. Abram lieg dus nie prontuit as hy sê dat Sara sy suster is nie. Hy vertel egter ook nie die volle waarheid nie.

Daar is ook ‘n paar interessante verhale rakende Haran se seun, Lot, en Abram. Die eerste is waar Lot en Abram se paaie skei a.g.v. die feit dat hulle gesamentlike besittings so baie is dat die land hulle nie kan onderhou nie. Lot gaan vestig hom by Sodom en Abram gaan woon in Mamre (Gen.13). Op hierdie stadium van die geskiedenis sluit verskeie konings van die omgewing alliansies met mekaar en die twee kampe voer ‘n oorlog wat almal in die area affekteer. Lot en alles wat hy het (insluitende mense) word weggevoer as oorlogsbuit. Wanneer Abram hiervan uitvind sluit hy ‘n alliansie met drie broers en bevry Lot en sy besittings (Gen. 14).
Op ‘n latere stadium moet Abram weer inspring om Lot te red. Dit gebeur wanneer hy by God intree vir die redding van Sodom en Gomorra. Lot en twee van sy dogters word gered wanneer die betrokke landstreek verwoes word. Lot se twee dogters pleeg egter bloedskande en verwek twee seuns by hul pa. Diè seuns word die voorvaders van die Ammoniete en die Moabiete. God waarsku die Israeliete later om niks met diè twee volke te doen te hê nie (Gen. 18-19).

‘n Uiters kontroversiële Bybelse figuur word in Abram se geskiedenis gevind in die persoon van Melgisedek. Ons eerste kennismaking met Melgisedek is in Gen. 14:18-20, waar Abram aan hom ‘n tiende betaal. In hierdie gedeelte word Melgisedek bekendgestel as die Koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, die Skepper. Melgisedek bring vir Abram kos, wyn en ‘n profetiese seënwens. Kom ons kyk eers na ‘n vertaling uit die Hebreeus:
Melgisedek: Melgi (koning) + Sedek (reg/geregtigheid)
Salem: Vrede
Melgisedek kan dus “Koning van geregtigheid en vrede” genoem word. Voeg hierby dat hy ook priester genoem word en profeteer, dan sien ons dat hy KONING, PRIESTER en PROFEET was.
‘n Tweede verwysing na Melgisedek vind ons in Ps. 110:4. Hierdie Psalm word alom beskou as Messiaans in karakter.
Ook die Hebreër-brief het verskeie verwysings na Melgisedek – Heb. 5:6,10; 6:20; 7:1,10,11,15,17,21. In Hebreërs word Christus se Hoëpriesterskap vergelyk met diè van die orde van Melgisedek. Melgisedek se priesterskap is een wat ewig is, wat nie deur die dood vernietig word nie, net soos Christus s’n.

In Gen. 12:1-3 word Abram deur God geroep. As vergoeding vir sy gehoorsaamheid, beloof God hom ‘n groot nageslag en die Kanaänitiese grondgebied. In Gen.15 sluit God ‘n verbond met Abram. Die gesprek begin met ‘n ongelowige Abram. Teen v.6 het sy ongeloof egter reeds omgesit in geloof. Let op God se bekendstelling van Homself in v.7. Abram leef in ‘n tyd en wêreld waar politeïsme algemeen beoefen was. Met hierdie bekendstelling tref God dus onderskeid tussen Homself en ander gode. Die verbondsluiting wat volg is ‘n tipiese ritueel van die tyd. Beide verbondshouers is egter veronderstel om tussen die offers deur te beweeg. God neem volle verantwoordelikheid vir die uitvoering van die ooreenkoms op Homself. Let op die profesieë wat in v.16 gegee word. Vergelyk ook die nasies van verse 19-21 met diè van Eks. 3:8.
In Gen. 17 herhaal God sy verbond met Abram. Hy verander Abram se naam na Abraham en Saraï na Sara. Die besnydenis word ingestel as teken van die verbond.
In Gen. 22:15-18 word God se beloftes aan Abraham weer bevestig. Hierdie keer met die bykomende belofte dat al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag geseën sal wees – ‘n heenwyse na Jesus Christus.

Wanneer Abraham poog om self God se belofte in vervulling te bring deur ‘n kind by Hagar, Saraï se slavin, te verwek, word ‘n nasie gebore wat in ewige konflik met die Israeliete (en later die Christene) sal leef. Ismael dra egter ook God se seën. (Vergelyk Gen. 16:11-12; 17:20 en 21:18).
Die eerste teken van die ewige stryd tussen Ismael en Isak se nageslagte vind ons in Gen. 25:18b “… en hulle het met al Ismael se broerskinders oorlog gemaak.” Ismael se nageslag betrek die areas wat hedendaags deur die Arabiere (Islamiete) bewoon word. Die oorsprong van die oorlog in die Midde Ooste kan teruggevoer word tot by hierdie geskiedenis.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Isak

Die aankondiging van Isak se geboorte is ‘n bo-natuurlike gebeurtenis deurdat die nuus deur drie bo-menslike besoekers gebring word. Een van diè besoekers word geïdentifiseer as die Here (Gen 18:1-15).
Die geboorte self is ‘n wonderwerk, in ag genome die hoë ouderdomme van sy ouers. Daar is selfs sprake dat Sara reeds deur haar menopouse gegaan het – Rom. 4:19; Gen 18:11-12; Gen. 21:1-7).

‘n Uitstaande insident in Isak se lewe is die een waar Abraham gereed staan om hom te offer. God stel egter nie belang in menslike offerandes nie, dis slegs ‘n toets om te sien tot watter mate Abraham bereid is om God te vertou (glo). Daar word algemeen aanvaar dat hierdie gedeelte vir ons toon dat God in die toekoms self nie sal weier om sy eie Seun te offer nie (Gen. 22:1-18).

Groot sorg word geneem met die keuse van ‘n vrou vir Isak en God neem aktief deel aan die proses (Gen. 24). Isak trou met Rebekka, Sara se broerskind.

Nes Abraham, lieg Isak vir (dieselfde) Abimelek oor sy verbintenis met Rebekka (Gen. 26). Ook Isak sluit ‘n verdrag met Abimelek.

Isak speel geen belangrike rol nie, behalwe as (aartsvader-)skakel tussen Abraham en Jakob. Isak verwek ‘n tweeling by Rebekka. Die oudste, Esau, word die voorvader van die Edomiete. Die jongste, Jakob (later hernoem deur God tot Israel), word die voorvader van die Israeliete. Reeds in die baarmoeder was die twee broers in ‘n stryd gewikkel. Rebekka raadpleeg God wat haar inlig dat die jongste die sterkere sal wees (Gen. 28:19-26). God se verbond met Abraham word dan ook in Jakob voortgesit.

Die seën wat Isak oor Jakob uitspreek is vir ons van belang. Hy sal die heerser wees. Hierdie gedeelte kan ook op tipologiese wyse heenwysend tot Christus geïnterpreteer word. Let ook op Esau se seën. (Gen. 27:27-29; 39-40).
Ten spyte van die onmin tussen hulle, maak die twee broers vrede met mekaar en begrawe hulle pa saam na sy afsterwe. (Gen. 35: 28-29).

Jakob

Nadat Jakob Esau se seën d.m.v. bedrog bekom het, moet hy vlug voor die woede van sy broer (Gen. 27). Vir Isak word ‘n leuen vertel; hy gaan ‘n vrou soek. Jakob gaan na sy ma se broer, Laban. Onderweg sien hy ‘n gesig in ‘n droom waarin die Abrahamitiese verbond aan Jakob herhaal word. Weereens skakel God se bekendstelling van Homself enige verwarring oor sy identiteit uit (Gen. 28:13). Die volgende oggend vernoem Jakob die plek, Lus, na Bet-El – waar Abraham ‘n altaar gebou het – en lê ‘n gelofte af waarin hy homself tot God verbind. Jakob moet egter nog karaktervorming ondergaan. Sy gelofte klink nog al te veel na ‘n transaksie met voorwaardes en voorbehoude.
Jakob spandeer 20 jaar in Laban se diens. Gedurende die tydperk trou hy met Laban se twee dogters, Ragel en Lea, verwerf twee byvroue, Bilha en Silpa, verwek 12 kinders, 11 seuns en een dogter (Benjamin word eers later gebore), en word skatryk (Gen. 29-30). Wanneer daar onmin ontstaan tussen hom en sy skoonfamilie, besluit hy om terug te trek na Kanaän. Hy word deur Laban agternagesit wanneer hy stilletjies wegsluip. Die twee sluit ‘n vredesverdrag wat deur God geïnspireer is (31:24).

Jakob se gesin moet nog ‘n godsdiens-kentering ondergaan. Ten spyte van God se voorsiening, neem Ragel haar pa se huisgode saam. Die huisgode was veronderstel om na die oudste seun te gaan en sou voorspoed en welvaart verseker vir die houer daarvan. Hierdie aksie spreek dus nie van geloof in die ware God nie (Gen. 31).

In Gen. 32:1-2 kom Jakob ‘n leërmag engele teë. Hy ontwikkel ‘n hernude vrees vir sy broer, wanneer hy nuus ontvang dat Esau oppad is met ‘n mag van 400 man by hom. Jakob bid indringend tot God. Daarna stuur hy sy gesin en sy besittings vooruit en bly alleen agter by Jabboksdrif om met God te worstel. Na hierdie ontmoeting verander Jakob, die bedrieër, in Israel (Gen.32).

Ten spyte van Jakob se vrese word hy gul deur sy broer ontvang. Hy vestig homself ‘n ent van sy familie af weg in Kanaän.

God verskyn nog twee maal aan Jakob. Die eerste keer word Jakob beveel om vir God ‘n altaar te gaan bou by Bet-El – wat hy dan doen. Na hierdie ontmoeting raak Jakob van die afgode in sy huis ontslae (35:4).
Die tweede keer bevestig God die naam Israel en Hy bevestig die aartsvaderbeloftes aan Jakob. Hierdie tweede ontmoeting was weereens by Bet-El.

Na hulle by Bet-El weggetrek het, het Ragel geboorte geskenk aan Jakob se twaalfde seun, Benjamin. Sy sterf tydens die geboorte (Gen. 35).

Drie interessante insidente rakende Jakob se kinders is werd om genoem te word:
  • Die ontering van Jakob se dogter, Dina – Gen. 34.
  • Ruben se egbreuk met Bilha, Jakob se byvrou – Gen. 35:22
  • Juda en Tamar se verhaal as voorouers van Jesus Christus – Gen. 38.
Voor sy sterwe trek Jakob Egipte toe, op Josef se aandrang, a.g.v. ‘n droogte in Kanaän. Die Nyldelta was nie afhanklik van die reënval van die Middellandse see-gebied nie en dus nie blootgestel aan die droogte nie. By Berseba verskyn God weereens aan Jakob. Hy stel Jakob gerus dat hierdie verskuiwing na Egipte steeds in sy wil is (Gen.46:1-4). Daar aangekom seën Jakob die Farao. Hy seën ook Josef se twee seuns Efraim en Manasse en stel die jongere oor die ouere aan. Verder neem Jakob vir Efraim en Manasse as sy eie kinders aan. Dis waarom Efraim en Manasse as twee stamme tel onder die dertien stamme van Israel. Slegs by uitsondering word hulle die stam van Josef genoem (Gen. 47-48).

In hoofstuk 49 lees ons dat Jakob sy seuns (profeties) seën:
  • Ruben se ontrouheid met Bilha maak dat hy die voorreg van die oudste seun se seën verloor.
  • Simeon en Levi word tereg gewys vir hul wrede optrede teen Sigem na Dina se ontering. Simeon se grondgebied, na die inname van Kanaän, is inderdaad so verspreid dat dit selde op ‘n kaart aangedui word. Levi verkry geen grondgebied in Israel nie, behalwe vir verspreide asielstede.
  • Juda is die stamvader van Jesus Christus.
  • Josef verkry die seën wat die oudste toekom.
Hierna sterf Jakob en word in Kanaän begrawe (Gen.49:29-50:14).

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

Josef

Josef is nie ‘n draer van die aartsvaderbeloftes nie. God bevestig nooit die verbond met Josef persoonlik nie. Josef was slegs die instrument wat deur God geslyp en gereed gemaak is om sy volk te red ten tye van teenspoed (Gen. 25:19-21).

Josef moes ietwat van ‘n bedorwe brokkie gewees het met moontlik ‘n goeie streep arrogansie. Dit merk ons in die gesprekke wat tussen hom en sy familie plaasvind. Dit word so erg dat sy broers besluit om van hom ontslae te raak, selfs oorweeg om hom te vermoor (Gen. 37). Josef is egter ook ‘n talentvolle persoon wat vinnig opgang maak in leierskapsposisies (Gen. 38). Verder het hy ook sterk morele waardes gehad. Diè waardes het hom weerhou van ‘n seksuele verhouding met Potifar se vrou (Gen. 39).

God het Homself van kindsbeen af aan Josef geopenbaar d.m.v. drome (37; 40; 41). Josef het ook die vermoë gehad om sulke drome uit te lê. Egipte was ‘n land waarvan die kultuur en tradisies deurdrenk was met toordery en magiese vertoon. Toekoms-onthullende drome en die uitleg van drome was dus aan die orde van die dag. Soms het God geïnspireerde drome gestuur, soos in die geval van die Farao se drome in hoofstuk 41. In sulke gevalle gee God ook die verklaring vir die drome.
Na Josef se inisiële ontmoeting met die Farao begin hy as voorspeller (droom-uitlêer) optree in Egipte (44:15). Hy begin dieselfde metodes as die Egiptenare gebruik. Geen uitspraak word oor hierdie praktyk gemaak nie, slegs dat dit beoefen is. Gesien teen die lig van die Mosaïse wette weet ons egter dat die praktyk ten sterkste afgekeur word (Deut. 18:10,14).

Josef se daaglikse gang het hom met die priesters van Egipte in aanraking gebring. Hy trou dan ook met ‘n priester se dogter (Gen. 41:45-46). In die name wat Josef vir sy seuns gee, sien ons dat daar by Josef herstel en genesing plaasgevind het in Egipte (Gen. 41:51-52).

Josef se verhaal toon duidelik hoe God insidente in ‘n mens se lewe kan laat meewerk tot karaktervorming en tot uitvoering van sy wil/plan – wat in hierdie geval weereens redding is. Daar het ook by Josef se broers ‘n kentering plaasgevind met die verloop van jare. Hulle moes jare lank met ‘n leuen saamleef (Gen. 42:13). Elke negatiewe gebeurtenis in hul lewens het hul gesien as ‘n straf vir dit wat hulle aan Josef gedoen het (42:21). Die opsluiting van Simeon is ‘n toets wat Josef aan sy broers stel: sal die broers terugkom vir hom, of sal hul eie lewens en geluk weereens vir hulle belangriker wees, nes destyds toe hulle Josef verkoop het? Terug in Kanaän, verklaar beide Ruben en Juda dat hulle bereid is om in te staan vir Benjamin (42:37; 43:8-9). Dit was Ruben se plan om Josef in die put te gooi. Dit was Juda se idee om Josef te verkoop.

Wanneer hulle met Benjamin in Egipte aankom, stel Josef hul nogeens voor ‘n toets. Hierdie keer bewimpel hy sake dat Benjamin sal moet agterbly in Egipte. Juda se roerende toespraak en sy bereidwilligheid om self agter te bly, eerder as Benjamin, is die finale bewys dat die broers se gesindheid deur die jare verander het (44:18-33). Hier het daadwerklike karaktervorming plaasgevind.

Josef het wys geword in die tyd wat hy van sy familie vervreem was. Hy herken die hand van God in sy lewe (45:5b): “… God het my voor julle uitgestuur om lewens te red.” Lees gerus ook vers 8.

Na Jakob se sterwe tree daar weer spanning tussen die broers in. Noudat hul pa nie meer daar is nie, vrees hulle dat Josef sal wil wraak neem. Hulle bely dat hulle ‘n onreg teenoor Josef begaan het en vra hom om vergifnis. Josef is vinnig om hulle te vergewe en gerus te stel. Hy wys hulle daarop dat God se plan deur die sameloop van al hierdie dinge tot uitvoer gebring is (50:15-21). Dit herinner sterk aan Paulus se woorde in Rom. 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat hom liefhet, diè wat volgens sy besluit geroep is.”

Aan die einde van Josef se lewe bevind al Israel se afstammelinge hulle in Egipte.

Pearlman (p.17-18) sien ‘n tipologiese vergelyking tussen Jesus en Josef:
  • Beide ervaar hul vader se besondere liefde;
  • Beide word deur hul broers (Israeliete) gehaat;
  • Beide ervaar ‘n pertinente versoeking;
  • Beide openbaar besondere geduld tydens hul lyding;
  • Beide word gepromoveer tot tweede in bevel;
  • Beide verbind hulle aan ‘n heidense bruid.

VRAAG: Aan watter eienskappe van God het hierdie gedeelte my bekendgestel?
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________
___________________________________

  1. Toepassing
  1. Ek beoog om meer omtrent die volgende onderwerpe uit te vind:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. A) ‘n Sinopsis van my opinie rakende die skepping is…
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. B) Ek sou graag die volgende vrae rondom die skepping beantwoord wou hê:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. A) ‘n Sinopsis van my opinie rakende die vloed is…
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
3.B) Ek sou graag die volgende vrae rondom die vloed beantwoord wou hê:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
  1. Genesis is die boek wat die mens se eerste kennismaking met God verhaal.
  1. Ek het al persoonlik met God kennis gemaak: Ja______/ Nee_______
  2. Van die eienskappe van God (soos geïdentifiseer in Genesis) het ek al persoonlik die volgende ervaar:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
C) Ek sou graag ‘n persoonlike ervaring van die volgende eienskappe van God wou hê:
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
_____________________________________________________________
D) Ek gaan vir my ‘n mentor soek wat my kan lei om God beter te leer ken:
Naam van mentor:______________________________________________
Tel.__________________________________________________________
Eerste Afspraak:
Datum:________________ Tyd: ____________ Plek:_________________

  1. Bibliografie
  1. THOMPSON, F.C. 1988. The Thompson Chain Reference Bible: KJV 5th ed. B.B. Kirkbride Bible co., inc.: Indianapolis.
  2. The New Open Bible Study Edition, New King James Version. 1990. Thomas Nelson Publishers: Nashville.

  3. SPIRIT FILLED LIFE BIBLE (NKJV). 1991. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  4. DIE BYBEL, nuwe vertaling. 1983. Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Kaapstad.
  5. HANDBOEK BY DIE BYBEL. 1986. Lux Verbi: Kaapstad.
  6. AHARONI, Y. en Avi-Yonah, M. 1968. The Macmillan Bible Atlas. Collier-Macmillan Canada Ltd.: Toronto, Ontario.
  7. DEIST, F.E. (red.). 1981. Van Eden tot Rome. J.L. van Schaik: Pretoria. pp.1-27.
  8. STRONG, J. Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible. Hendrickson: Peabody, Massachusetts.
  9. Smith, W. 1893. A Dictionary of the Bible. Thomas Nelson Publishers: Nashville.
  10. KÖNIG, A. 2002. Ek glo die Bybel – ondanks al die vrae. Lux Verbi: Wellington.
  11. KAPP, P.H. e.a. 1982. Geskiedenis van die Westerse Beskawing: Deel 1. HAUM: Pretoria.
  12. HARTIN, P.J. 1977. The Word endures forever. Patrick J. Hartin: Johannesburg.
  13. PEARLMAN, M. 1935. Through the Bible book by book Part 1 O.T. Genesis – Esther. Gospel Publishing House: Springfield.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment