Search This Blog

Friday 4 January 2019

Eiesinnigheid

Jeremia 8:6 "Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: 'Wat het ek tog gedoen!' nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm."
Jare terug het God vir my 'n profetiese woord gegee vir 'n jongman met wie ek intussen kontak verloor het. Ten tye van die profesie het ek nie verstaan wat die betekenis daarvan was nie. Ek het vir hom gesê hy moet dit vashou. As dit nie op daardie stadium sin gemaak het nie, sou dit wel later sin maak. Op daardie stadium was hy aktief betrokke in die kerk en op die rand van 'n lewe wat hom bestem het vir groot dinge; 'n energieke bondel potensiaal. Dit het my opgewonde gemaak om na hom te kyk en te wonder wat in sy toekoms lê.
Soos dit gaan in die lewe, het elkeen uiteindelik sy eie rigting ingeslaan en paaie het uitmekaar geloop. So nou en dan het ek tog nog woord gehad van iemand wat met iemand anders gepraat het en iets hier of daar gehoor het oor die jongman. Dis mos soos dit gaan met vriende wat vervaag tot kennisse uit die verlede.
Wat ek gehoor het, het my baie hartseer gestem. Na die vertelling van ander, het hierdie jongman blykbaar betrokke geraak in homoseksualiteit en hierdie lewenstyl nagejaag. Ek weet nie waar hy in sy verhouding met God staan nie. (Ek weet dat daar baie Christene is wat 'n verskeidenheid sondes pleeg en homoseksualiteit is net een van baie sondes.) Ek weet nie wat dit aan sy bediening in die kerk gedoen het nie. Wat ek weet, is dat hy vooraf waarskuwing gehad het. Die profetiese woord wat ek daardie aand vir hom gegee het was dat God sê dat hy soos 'n wilde perd is wat teen die teuels rem om sy eie rigting in te slaan.
Gaan lees nou weer hierdie vers in Jeremia wat ek hierbo aangehaal het. Ek wil jou nooi om jou eie lewe te ondersoek. Is jy besig om jou eie kop te volg, ten spyte van wat God se woord sê? Het jy besluit dat jy die waarheid beet het, al verskil dit van wat God gesê het? Dan is jy besig om jou met leuens vas te wikkel in 'n kokon van gemaklike ontkenning. Knus, maar vals. So dikwels lees ons in Jeremia dat die mense geen skaamte gevoel het oor hulle dade nie. Dit beteken dat hulle hulleself oortuig het dat hulle reg is en dat God dan noodwendig verkeerd is. Dit is soos 'n perd wat met krag beur om uit die teuels te kom en sy eie rigting in te slaan. Die probleem is dat daardie teuels in God se hande is. Moenie jouself uit God se hand uitruk nie. Gee toe, dat Hy jou lei na waters waar rus is. Daar sal jy vind dat die storm binne-in jou tot bedaring kom.
(Ek wil nie in hierdie gedeelte in 'n argument oor homoseksualiteit betrokke raak nie. Die Bybel sê van begin tot einde dat dit verkeerd is en dis die enigste maatstaf wat ek aanvaar as die waarheid oor hierdie saak.)

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment