Search This Blog

Tuesday 20 November 2018

Wie is ek?


Oor die naweek van 2-4 November, het ek en 'n klein groepie vroue die geleentheid gehad om die Wie is ek? kamp net buite Koster by te woon. Ons was maar 12 vroue in totaal, die twee organiseerders/aanbieders ingesluit. Ek kon nie help om te let op die getal nie. Dis dieselfde getal as die dissipels wat Jesus uitgekies het om Sy boodskap van verlossing, bevryding en genesing die wêreld in te stuur. Dit was dan ook nie anders met ons nie. Dit was so al asof ons Vader ons spesiaal uitgesoek het om voor te berei vir die taak wat op ons wag. Instede daarvan dat een of twee mense die naweek lei, het die Heilige Gees vrylik tussen ons beweeg en kon ons mekaar afwisselend bedien. Watter asemrowende ervaring wanneer die liggaam die geleentheid en die vryheid het om homself te bedien! Ons kon nie help om ons Vader se liefde in hierdie naweek te erken nie. Ons kon ook nie anders as om mekaar as susters in ons harte in te neem nie.


Met 'n bymekaarkomplek soos diè, het die kamp afgeskop gevul met beloftes van mooi dinge wat sou volg.


Op die Saterdagmiddag het ons kans gehad om deur Winny Phillips Ferreira se versameling kunsmateriaal te gaan. Ons het elkeen vir ons 'n gerieflike sitplek gekry waar ons onsself besig gehou het met kreatiewe en mooi dinge. Winny was een van die aanbieders/organiseerders van die kamp, saam met Lizelle Joubert.


Lizelle het Saterdagoggend haar getuienis gebring van hoe sy grootgeword het tussen pedofiele, in later jare verkragting deurstaan het, 'n draai gemaak het in 'n lesbiese verhouding, met heksery deurmekaar geraak het, en uiteindelik bevryding en vergifnis in Jesus gevind het. Meer as dit, sy het ook genesing en herstel in Hom gevind. Vandag is sy 'n ma en vrou wat enige man en kind kan begeer. Watter ongelooflike verhaal van oorwinning. Haar verhaal het my so sterk herinner aan Paulus se briewe. Telkens skryf hy aan die onderskeie gemeentes dat hy die geringste onder die apostels is, dat sy verlede hom daarvan weerhou om hoogmoedig te raak. Hy getuig van genade, selfs vir iemand soos hy, wat die gelowiges vervolg en laat opsluit het. So is Lizelle se verhaal ook een wat in die modder begin, maar op 'n hoogtepunt ontvou, en sonder enige twyfel, ook daar sal eindig, wanneer sy in ons Vader se verwelkomende arms instap. Wat 'n ongelooflike mooi voorbeeld van nederigheid en liefde in een mens!


Winny het 'n profetiese bediening en sy het ons telkens met simboliese items geseën en verras. Nie net het sy profetiese insig na die tafel gebring nie, maak ook die simboliek van baie dinge aan ons uitgelig. Dit was heerlik om te sien hoe bande gebreek word en vroue onnodige laste afgooi wanneer sy hulle bedien. Ek dink nie een van ons kan sê dat ons onaangeraak daar weg is nie.


Nadat ons almal ons kuns items gemaak het, is ons genooi om dit op die tafel te kom sit. Ons was onder die indruk dat ons iets vir onsself gemaak het. Dit was toe nooit so nie. Winny het ons genooi om te bid vir leiding en dan ons items vir iemand anders te gee. Net daar, het hierdie eenvoudige menslike pogings, groter waarde gekry toe die Heilige Gees dit gebruik as simbole om in mense se lewens in te spreek. Weereens het ons elkeen kans gehad om mekaar te bedien. Keer op keer, suster op suster. Die heiligheid van die oomblik kan met moeite in woorde vasgevang word.


Mens moet egter nie onder die indruk gelaat word dat alles net ernstig was nie. Nee, ons gestroop van enige pretensie en was vry om sommer net onsself te wees. Ons het ernstig geraak en gehuil, net om die volgende oomblik op die grond te rol van die lag. Letterlik, met tye. Daardie soort lag, gestroop van alle voorbehoude, is genesend op sigself. Ons harte was seer, ons harte was lig, ons harte was stukkend, ons harte was heel gemaak. Maar elke enkele hart daar is aangeraak deur ons Vader, ons Here Jesus Christus en die die Heilige Gees, wat in oorvloed in en deur ons gespoel het. Die liefde van Jesus het met tye tasbaar gevoel wanneer die Heilige Gees ons bedien het.


Tydens hierdie 3 dae, minder as 48 uur, is daar bande gesmee tussen hierdie 12 vroue wat met moeite gebreek sal word. Geen wonder dan ook dat ons almal besluit het om die WhatsApp groep aan die gang te hou nie. Hierdie toep maak dit vir ons moontlik om deel van mekaar se lewens te bly en mekaar te bemoedig in die elke dag se lewe, waar dinge soms kan dreig om ons te oorweldig.


Voor ons uitmekaar gespat het, het ons besluit om die kamp elke twee maande te dupliseer/herhaal vanaf Februarie 2019. Maar hierdie vreugde moet met meer mense gedeel word. Daarom gaan ons die kamp oopmaak vir ander vroue om by ons aan te sluit en ook deel te word van die herlewing wat God belowe het vir Suid-Afrika.


Nadat ek daardie Sondagaand by die huis gekom het, het ons Vader my geroep om stil te word by Hom. Daar het Hy wonderlike dinge aan my openbaar, maar ook hoe hy ons groepie vroue gaan mobiliseer om Sy kragtige woord van verlossing, genesing en bevryding aan Suid-Afrika te bring. Ons vroue word verniel en Hy is nie tevrede met hoe sy dogters behandel word nie. Ons Vader is gereed om 'n tol te eis van elkeen wat Sy dogters verniel. Maar Hy is ook gereed om herstel te bring waar ander vernietigende dade en woorde teen hulle gepleeg en gespreek het.


Ons Vader het oorlog verklaar en ons is die stryders wat Hy gekies het om in die wêreld uit te stuur. Maar net soos Jesus se dissipels wat by 'n kerngroep begin het, is hierdie groep ook bedoel om te groei en te vermeerder. Op een stadium lees ons dat Jesus 70 dissipels uitstuur. Later, is daar duisende wat in die eerste gemeentes getuig. Vandag is die getal selfs groter. Dis tyd dat ons weer geaktiveer sal word om te doen dit waarvoor ons geroep is.


Op die Sondagoggend het Winny vir ons 'n feestafel voorberei om by aan te sit. Weer het ons kans gehad om mekaar te bedien. Elkeen kon 'n gunsteling eetding kies en dit dan met die ander deel. Terselfdertyd het ons geleer oor die simboliese betekenis van die kos. Hierdie was een kamp wat ek geen spyt oor het dat ek dit bygewoon het nie. Moenie die volgende een misloop nie!


Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment