Search This Blog

Sunday 18 March 2018

Is dit nodig vir gelowiges om hulle te laat besny?


Glo dit of nie, maar die vraag oor die besnydenis is 'n geldige een, al wil mens graag jou oë toeknyp en hoop vir die beste - veral as jy 'n man is! Dit is ook nie die eerste keer in die geskiedenis van die Christendom (navolgers van Jesus Christus), dat hierdie vraag gevra is nie. Toe dit die eerste keer ter sprake gekom het, was dit nie ligtelik afgemaak nie, maar in alle erns ondersoek en bespreek voor daar 'n uitslag oor gelewer is. Ek gaan so 'n treetjie terug gee in tyd na daardie eerste besprekings toe, om hierdie saak te ondersoek. Ek dink daar steek meer waarde vir die kerk (navolgers van Jesus Christus) in hierdie gedeelte, as blote uitspraak oor die onderhouding van die besnydenis. Lees gerus saam met my uit Handelinge, hoofstuk 15.
Wanneer ons in die hoofstuk intree, vind ons Paulus en Barnabas in Antiogië, 'n plek vanwaar hulle onderskeie sendingreise onderneem het, te midde van 'n gemeente wat hulle ondersteun en befonds het in hierdie sendingreise. 'n Groepie gelowiges uit Judea het in Antiogië gearriveer en hulle mede-gelowiges daar opgesoek. Hierdie nuwelinge het met 'n leerstelling vorendag gekom waarin hulle aangemoedig het dat die gelowiges hulle moes laat besny, soos voorgeskryf in die wet van Moses. Hulle het selfs verder gegaan en gesê dat dit onmoontlik was om gered te word, as mens nie besny was nie.
Barnabas en Paulus het nie met hierdie leerstelling saamgestem nie. 'n Heftige argument het in die gemeente losgebars, wat nie geïgnoreer kon word nie. Daar is besluit dat slegs die apostels in Jerusalem uitsluitsel sou kon gee oor hierdie saak. Die gemeente het toe 'n afvaardiging na Jerusalem gestuur om te gaan hoor wat die apostels oor hierdie saak te sê het. Paulus en Barnabas het deel uitgemaak van hierdie afvaardiging.
Ons moet nou eers ondersoek om vas te stel wat dit was wat hierdie apostels in Jerusalem se outoriteit so gesaghebbend gemaak het, dat hierdie meningsverskil na hulle geneem is. Hierdie manne was die oorspronklike dissipels wat deur Jesus gekies was om Hom te volg, toe Hy sy bediening op aarde kom vestig het. Hulle het dus vir die beste deel van 'n goeie drie jaar, dag en nag saam met Jesus geleef en na Sy leerstellinge geluister. Daarna, was hulle ook onder die eerstes wat met die Heilige Gees vervul was, na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Dit was ook hierdie groepie wat begin het met die verkondiging van die evangelie onder die nie-gelowige Jode, en vandaar dit uitgebrei het na die nie-Jode (of heidene, om die Bybel se terminologie te gebruik). Dit was dan ook die feit dat hierdie mense met die hand uitgekies is deur Jesus Homself, wat hulle die hoogste gesag gegee het onder die gelowiges van daai tyd.
Oppad na Jerusalem, het Paulus en Barnabas (en die res van die afvaardigeing) by die gelowiges op hulle roete aangegaan en die mense bemoedig met getuienisse oor die bekering van nie-Jode in ander areas en gebiede. Dit het die mense se geloof versterk en hulle aangemoedig in hulle eie bedienings. So het die afvaardiging dan in Jerusalem ook aangekom en bloot voortgegaan om te getuig, soos hulle nog die hele pad lank gedoen het. Die gelowiges wat met die leerstelling oor die besnydenis vorendag gekom het, was egter nie hiervoor te vinde nie, want hulle was angstig om uitsluitsel te kry oor die saak wat hulle na aan die hart gelê het.
Kom ons kyk nou eers na wie hierdie mense was wat die onderhouding van die besnydenis gepromoveer het as essensieël tot redding. Hierdie manne was ook Jode en hulle was ook Christene (gelowige navolgers van Jesus Christus). Meer as dit egter, was dat hulle ook Fariseërs was. Meeste van ons het 'n baie negatiewe indruk oor die Fariseërs, omdat ons nie regtig weet wie hulle was nie, behalwe dat ons reeds in die kinderbybel aan moedersknie geleer het dat hulle Jesus teengestaan het in Sy bediening. Tog was die Fariseërs nie suiwer 'n slegte klomp mense wat Jesus sommer net teengeestaan het nie; hulle was eintlik die leiers van 'n geloofsbeweging onder die Jode van daardie tyd. Dit beteken dat hulle moeite gedoen het om die Jode (die volk wat deur God uitverkies was om die wêreld van Hom te vertel), te onderrig in die navolging van God. Die probleem het ingekom toe baie/meeste van hulle begin het om hulle eie leerstellings by die wette van Moses in te werk. Meer nog, hulle het die mense genadeloos vervolg en gekritiseer oor hulle onvermoë om die wette na te kom, terwyl hulle self ook liederlik hierin gefaal het. Daar was dus duidelike sprake van dubbele standaarde. Dit was oor hierdie redes dat Jesus hulle so sterk gekritiseer en aangespreek het, en dit was dan ook waarom hulle Hom verwerp het. Dit, en die feit dat Jesus 'n nuwe reddingsplan voorgehou het, wat deur die profete voorspel was, maar wat gebasseer was op genade en 'n persoonlike verhouding met God, eerder as op wetsonderhouding.
Die verskille ten spyt, het daar tog van die Fariseërs ook tot geloof in Jesus gekom, hulle het hulle bekeer en laat doop en was nou deel van die korps van gelowiges. 'n Groepie van hierdie mense het dit egter moeilik gevind om weg te breek van die tradisies en kultuur waarmee hulle grootgeword het, en het bly teruggryp na die bekende reëls en wette waarin hulle so goed onderlê was. Dit was lede van hierdie groepie wat met hulle verwarrende leerstelling oor die besnydenis in Antiogië aangekom het, en saam met die afvaardiging na Jerusalem gekom het om uitslag te kry oor die meningsverskil.
Toe Paulus en Barnabas nie tot die punt kom nie, maar bloot voortgaan met hulle getuienisse, het hierdie manne omgekrap geraak en hulle in die rede geval om die vergadering tot orde te roep; hulle was na alles daar om 'n sekere saak te bespreek, en nie net na opwindende verhale van bekerings te luister nie!
Die apostels het nie die vraagstuk eenvoudig afgemaak as iets wat nie aandag verdien nie. Inteendeel, hulle het aandagtig daarna geluister en die saak is lank bespreek voor daar uitsluitsel oor gegee is. Dit was Petrus wat na vore getree het om uit te lig hoe die verkondiging van die evangelie onder die heidene (nie-Jode), by hom begin het, na hy direkte opdrag van God gekry het, bevestig deur die uitstorting van die Heilige Gees onder die bekeerde nie-Jode (Jy kan meer hieroor lees in Handelinge 10 en 11). Petrus lig uit dat deur die eeue heen kon die Jode nie daarin slaag om die wette suksesvol te onderhou nie, met spesifieke verwysing na die besnydenis, en dat dit 'n onnodige juk/las op die nie-Jode se skouers sou lê om van hulle te verwag om te slaag in iets wat die Jode nie kon nakom nie. Hy gaan egter verder as net menslike feilbaarheid in sy relaas en argument. Hy wys daarop dat 'ons' (die apostels) en ook die ander gelowiges (die afvaardiging uit Antiogië) glo dat redding slegs op genade berus. Dit beteken dat 'n mens geen aandeel daarin het nie, dat slegs God se genadige vergifnis van sonde is wat mens red, en dat geen wetsonderhouding dit kan beïnvloed nie.
Paulus en Barnabas is hierna toegelaat om te getuig oor die wonders en tekens wat hulle sien gebeur het onder die nie-Jode (heidene) wat tot bekering en geloof in Christus gekom het. Wonders en tekens is die werk van die Heilige Gees, en is dus 'n bevestiging van God se goedkeuring en ondersteuning van 'n saak. Paulus en Barnabas se getuienis het ooreengestem met Petrus s'n.
Na die saak uit alle kante bespreek is, het Jakobus opgestaan om die finale uitsluitsel te gee waarop daar EENPARIG besluit is. Hy het ook verder gegaan, deur uit te wys dat die saak van die bekering van die heidene, reeds deur die profete voorstpel was. Die uiteinde van die saak was dat daar besluit is dat dit nie nodig sou wees vir heidene (nie-Jode) om hulle te laat besny nie; dis nie 'n voorwaarde vir redding nie. Daar is wel 'n paar wette/reëls geïdentifiseer wat wel aan die gemeentes geleer en voorgehou moes word as nodig om te onderhou, en hierdie blyk baie te doen te hê met heiligmaking, terwyl dit geheel en al glad nie gekoppel word aan redding of bekering nie.
'n Mens sou verwag dat dit die einde van die verhaal sou wees, maar dit is nie. Die apostels het toe 'n brief aan die gemeente van Antiogië geskryf om hulle mee te deel waarop besluit is. Hierdie brief is saam met die afvaardiging teruggestuur na Antiogië toe. Dit bring mens onder die indruk van die besef van hoe noodsaaklik dit is om terugvoer te gee aan mense, en dat hierdie vroëe Christene dit reeds besef het. Maar selfs dit was nie genoeg vir hulle nie. Dit was vir hulle van kardinale belang om eenhoud onder die gelowiges te behou en hulle het besef dat hierdie saak die potensiaal gehad het om die kerk te skeur. Daarom het hulle verder gegaan en 'n afvaardiging van hulle eie (Judas en Silas) saam met die aanvanklike afvaardiging teruggestuur, om seker te maak dat die geskrewe woord reg verstaan word, en om verdere onderrig daarin te gee.
Judas en Silas het ook nie eenvoudig daar aagekom, die boodskap verduidelik, en toe weer inderhaas vertrek nie. Hulle het lank met die gelowiges gepraat, hulle bemoedig en geestelik versterk en eers na geruime tyd se verblyf, het hulle weer vertrek (alhoewel dit blyk dat Silas agtergebly het om verder saam met Paulus te reis).
Daar is so baie uit hierdie gedeelte te leer. Ja, ons kan uitsluitsel kry oor die saak van besnydenis, wat sekere groepe in die kerk tot vandag toe in verwarring het, maar daar is meer aan die gedeelte as net dit. Ons kan leer om na mekaar te luister. Ons kan leer om God se opinie in 'n saak te soek, en meer as dit, sy aktiewe teenwoordigheid met bevestiging van tekens en wonders. Ons kan ook leer hoe belangrik dit is om terugvoer te gee oor sake, om seker te maak alle verwarring is uit die weg geruim, om opvolgbesoeke te doen wat meer as net 'hit & run' besoeke is.
Ons moet tyd, kennis en gebed aan mense spandeer.
In die laaste gedeelte van die hoofstuk sien ons dat Paulus en Barnabas ook beplan om die gemeentes wat hulle gevestig het, te gaan herbesoek. Ongelukkig val hulle uit oor of Markus te vertrou is om saam te neem op hierdie besoeke. Die uiteinde is dat hulle paaie skei, maar moenie nalaat om te lees dat hulle steeds teruggegaan het en opgevolg het op dit wat hulle begin het nie. Loop die pad enduit met mense. Redding en bekering is maar slegs die eerste tree in 'n gelowige lewe. Daarna is lering en bemoeding van onskatbare waarde.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment