Search This Blog

Sunday 27 November 2016

Kuier jy waar jy wil bly?


Het jy al 'n plek besoek en dan so baie daarvan gehou dat jy gevoel het jy wil daar bly? Ek skat daar is nie een van ons wat nog nie so gevoel het oor 'n plek nie. Ek weet ek het selfs al sover gegaan as om agente te skakel en te reel om na eiendomme te gaan kyk. Jy ook? Tog was ek nog nie gelukkig genoeg om 'n deposito te kon neersit en my op so 'n plek te vestig nie. Tot dusver was die plekke waar ek my gevestig het nog altyd gedikteer deur praktiese oorwegings. Ons bly waar ons geld verdien, is dit nie?
So lees ek toe nou vanoggend deur die boek van Klaagliedere. Dis 'n kort boek; net 5 hoofstukke. Tog sien ek altyd op na die boek wanneer ek hom in my dagstukkie aantref. Ek meen, luister net na die naam - KLAAGliedere! Dis dan ook soos die boek lees, die een klagte op die ander. Ek kan ruiterlik erken dat ek nie opgewonde was om dit aan te pak nie. Ek het vir my 'n sterk koppie koffie gaan maak, hard met myself gepraat en ingespring. Groot was my verbasing toe 'n nuwe boodskap hom skielik uit hierdie bladsye loswoel. Ek vind dit in die tweede hoofstuk. Lees gerus die hele hoofstuk, maar ek gaan vir praktiese redes net 'n paar verse aanhaal uit verse 5-7 (ek lees uit die multivertaling Bybel):
"Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel vernietig, Hy het al die wonings vernietig, die vestings verwoes, Hy het elllende op ellende oor Juda gebring. Hy het sy eie woning verniel asof dit 'n skerm in 'n tuin is, Hy het die plek van ontmoeting vernietig; die Here het in Sion feestyd en Sabbat laat ophou; in sy groot toorn het Hy koning en priester verwerp. Die Here het sy altaar verwerp en sy heiligdom laat vertrap. Hy het die mure rondom die tempelgebou laat afbreek deur die vyand. Hulle het in die huis van die Here gejuig asof dit sy volk is wat daar feesvier."
Hierdie is so 'n tragiese verhaal, maar wat dit meer tragies maak is dat dit ook jou en my verhaal is. Kom ek verduidelik. Israel was God se volk, soos ek en jy God se kinders is. Met ons bekering van sonde het God ons uit Egipte, die land van vreemde gode en gewoontes gelei na 'n blyplek, 'n vesting wat Hy vir ons in gedagte gehad het. Oppad daarheen het Hy met ons 'n ontmoeting gehad en ons het Hom leer ken as 'n God wat voorsien. Ons het voor Hom gedans in vreugde. Daar was op's en af's in ons verhouding, maar ons het bly kies om God te volg, tot ons Hom in ons beloofde vesting ingevolg het. Hier het Hy vir ons planne gegee vir aanbidding. Vir die Israeliete was dit 'n fisiese tempel. Vir ons was dit die kennis dat slegs een weg na God lei en dis deur die Here Jesus Christus. Ons was gemaklik en het onsself vol vertroue Christene genoem, net soos die Israeliete hulle daarop beroep het dat hulle die uitverkorenes was. Maar stelselmatig het ons toegelaat dat ons vestings deur vreemdelinge ingeneem word. Die Israeliete het sover gegaan as om 'n afgod in die plek van ontmoeting op te rig! Hulle het hulleself gebluf deur te glo dat alle gode 'n plek het in die tempel en dat God tevrede sou wees om sy regmatige plek te deel. Hulle het nie besef dat God hulle nie langer daar sou ontmoet nie, dat Hy sy rug op hulle sou keer en hulle aktief teenstaan nie. Tog het Hy hulle gewaarsku. Hulle het net nie geluister na die waarskuwings wat een op die ander gevolg het nie.
Hoe lyk die plek waar jy God ontmoet? Is dit steeds heilige grond? Is daar 'n spesiale plek waar jy plek en tyd maak vir God, of deel Hy jou ontmoetingstyd met ander dinge? Hoe lyk jou huis? Hoe lyk die vestings in jou lewe? Is hulle steeds God se vestings, of het jy hulle oorgegee aan vreemde dinge?Lees hoofstuk 3:40-41 saam met my:
"Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer, laat ons met ons hele hart ons hande na God in die hemel uitsteek en bely ..."
Kom ek vra jou weer: Het jy al op plekke gaan kuier waar jy wou bly? Ek praat nie nou meer van fisiese plekke nie. Nou praat ek van die plekke waar jou kop gaan kuier; jou o en ore en denke. Is dit plekke waar jy God kan ontmoet, of is jy besig om plekke te besoek waar God Homself nooit sal vestig nie?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment