Search This Blog

Thursday 3 January 2019

Om mure te bou en te herstel


Vanoggend begin ek toe nou lees uit die boek van Nehemia. Dis nie 'n boek wat mens baie opgewonde maak, wanneer jy daarby uitkom in die Bybel nie, want dit gaan oor hoe die Jode, wat in ballingskap was op daardie stadium in hulle geskiedenis, na Jerusalem terugkeer om die muur om die stad te herbou, onder die aanvoer van Nehemia. As ek my in geselskap moet bevind waar iemand my in kleur en geur wil sit en vertel hoe hy te werk gegaan het om 'n muur herbou te kry, kan ek my net voorstel dat my brein oortyd sal werk om my uit die geselskap te verskoon. Maar Nehemia is 'n boek in die Bybel en hy is volgende op my lysie en so sal ek deur hom worstel - al dertien hoofstukke van hom! Maar dis dan ook op sulke onverwagte plekke in die Bybel, dat mens soms op 'n kosbaarheid afkom, en dit in een van die verveligste hoofstukke in die boek.
In my haas om Nehemia vinnig af te handel, besluit ek om bietjie aan te lees, en sluit toe ook sommer hoofstuk 3 in my oggendstudie in. Ek het nie veel hoop gehad om iets hier te ontdek nie, want dis 'n hoofstuk wat in sy totaliteit daaraan gewys is om die name van mense te deel wat aan die muur gewerk het - stuk vir stuk, reg rondom die stad. Tog moet mens nooit die werking van die Heilige Gees onderskat wanneer dit by die Lewende Woord van God kom nie, want in hierdie vervelige hoofstuk openbaar Hy iets aan my deur die muur figuurlik uit te beeld as verhoudings in ons lewens. Lees en leer 'n bietjie saam met my vandag.
Ek gaan hierdie saak aanpak in die volgorde waarin ek dit aangetref het in die hoofstuk. Die eerste vers wat my opgeval het, vind ek in vers 20, waar ons vertel word van iemand wat die stuk muur herstel het tot reg voor die ingang na die hoëpriester se huis. Maak die hoëpriester dan maar die dominees, of pastoor, of watter amptelike titel jy ook al verkies, in die Christelike godsdiens terminologie - maak hom die kerkleier. Maak hom daardie mens wat in jou pad staan om by God uit te kom. Dit was die taak van die hoëpriester in die Joodse godsdiens - om as middelman tussen God en mens te dien. Toe skeur die voorpoort met Jesus se dood en ons verkry vrye en persoonlike toegang tot God, en Hy stort Sy Heilige Gees op ons uit en ons word genooi om 'n persoonlike verhouding met God te hê. Maar toe gaan vestig ons onsself in kerkstrukture, met ordinansies en regulasies en soortgelyke dinge, en ons gee aan mense die gesag en reg om namens God met ons te praat. En toe hulle begin droogmaak, toe draai ons om en verwyt hulle en verwyder onsself uit die kerk - en in baie gevalle, draai ons toe sommer ons rug op God ook. Maar vanoggend wil ek vir jou sê dat dit tyd is om die muur te herstel. Om verhoudings met God en kerkleiers te herstel. Jou tyd van ballingskap, van verwydering van God, is verby. As dit enigsens langer duur, is dit slegs omdat jy jouself in ballingskap hou. Lees gerus Nehemia 1:8-9. Hierdie verse is Nehemia se gebed, toe hy sy saak voor God gaan lê het:
"Dink tog aan die belofte wat U aan U dienaar Moses gemaak het: 'As julle ontrou is, sal ek julle onder die volke verstrooi, maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat ek gekies het om My Naam daar te laat woon.'"
As jy nou op hierdie stadium dink dat die skuld nie voor jou deur hoort nie, en dat jy nie die een is wat aan die muur behoort te bou nie, maar dat dit eintlik die kerkleier is wat hierdie taak moet verrig, dan is jy reg, maar net gedeeltelik. Jy sien, hoofstuk 3 skop af met die inligting dat die hoëpriester en sy ampsgenote, die ander kerkleiers, die ouens was wat die eerste gedeelte van die muur begin herbou het. Maar hulle sou op geen manier hierdie taak op hulle eie kon vermag nie. As almal nie hulle deel gedoen het nie, sou dit nooit moontlik gewees het vir die muur om in sy totaliteit herstel te kon word nie - in hierdie geval, van Skaappoort tot Skaappoort (vergelyk 3:1 met 3:32).
Beteken dit dan dat almal wel hulle samewerking gegee het? Natuurlik nie! Dit sou indruis teen die rebelse menslike natuur. Slegs diegene wat hulleself ondergeskik kon stel aan God, en nie daarop uit was om hulle eie balangrikheid te beskerm nie, het deelgeneem aan die taak. Daar word talle ampsleiers genoem in die hoofstuk wat hulle samewerking gegee het. Maar dan is daar ook vers 5 wat praat oor die samewerking van die mense van Tekoa en hoe hulle leiers hulleself te belangrik geag het om self deel te neem aan die taak. "... maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie." Dit het egter nie die mense van Tekoa gestop om hulle deel te doen nie. Soms moet mens maar jou leiers vooruitgaan en doen wat reg is om te doen, met of sonder hulle samewerking.
Die volgende vers wat my opgeval het, was vers 23. Hier vind ons 'n paar manne wat die muur voor hulle eie huise herstel het. Vind jy vandag dat die verhoudings in jou eie huis verbrokkel het? Wanneer julle met mekaar praat, is dit 'n gehap en 'n gebyt en gegrom, of is dit woorde van liefde, ondersteuning, opbouiïng en herstel? Soek elkeen sy eie belang, of is dit verhoudings van opoffering, van gee, meer as van neem, van die beste soek in die ander een? Maak julle nog tyd vir mekaar? Doen julle nog dinge saam? Ek praat nie van saamdoen, omdat julle saamgegooi is nie. Ek praat van saamdoen, omdat julle eengesind is in gees. Ek wil nie van die punt afdwaal en hierdie 'n skrywe maak oor geraas nie, maar ek wil jou vra om te gaan ondersoek instel na wat die dinge is wat verwydering bring tussen jou en jou familie. Dit is my opinie dat daar te veel spasie in verhoudings is deesdae. Elkeen voel so geregtig daarop om hulle eie 'space' te hê, dat ons verleer het om spasie met mekaar te deel. So vind ons spasie vir onsself in ons werke, in ons sport, in ons ontspanning, in ons televisie kyk, en in ons fone. Daar is sekerlik nog baie wat by hierdie lys gevoeg kan word, maar ek wil nie jou intelligensie onderskat nie. Maak die dinge stil wat in jou lewe lawaai, en verander die eie spasie in 'n plek waar jou familie weer welkom voel. Dis 'n goeie stap in die regte rigting as dit by die herstel van verhoudings kom.
Ek wil in hierdie gesprek oor die bou van die mure voor jou eie huis, na nog 'n vers in Nehemia 3 verwys. In vers 12 lees ons van 'n man wat 'n stuk muur gebou het met die samewerking van sy dogters. Het jy die samewerking van die mense in jou huis, of werk julle teen mekaar? As almal saamwerk, en as jy hulle kan motiveer om dit te doen, kan julle verhoudings herstel, in en buite die familie.
Daar is nog een laaste vers wat vir my uitgestaan het in hierdie hoofstuk. En miskien is dit waar ons almal moet begin, maar soms is dit nodig om van buite af ons pad terug na binne te vind, en dis waarom ek besluit het om hierdie skrywe so half verkeerd om aan te pak, so amper in trurat, as jy wil. Ek lees hierdie laaste gedagte raak in vers 30. Hier vind ons 'n man wat die stuk muur herstel het tot reg voor sy kamer. Die laaste verhouding wat ek wil hê ons moet vandag na kyk, is die verhouding wat jy met jouself het. Hou jy van jouself? Kan jy met jouself saamleef? Of hou jy niks van jouself nie en daarom leef jy met die verwagting dat ander ook so oor jou sal voel? Is dit waarom jy ander van jou af wegstoot en hulle op 'n afstand hou?
Kan jy herroep wat die grootste gebod is? Dit staan in Matteus 22:37-40, waar Jesus self die antwoord gee, toe Hy daaroor gevra word:
Jesus antwoord hom: "'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."
As ek nou so terugkyk na hierdie skrywe, dan is dit die volgorde van Jesus se woorde ook. Herstel jou verhouding met God, herstel jou verhouding met jou naaste en jou familie. Hê hulle lief soos jy jouself liefhet.
'n Mens kan nie in vrede met ander leef, as jy nie vrede het met en in jouself nie. Ek kan jou nooi om by 'n berader of 'n terapeut uit te kom, of om selfs net introspeksie te doen. Al hierdie dinge is geldig, en moontlik selfs nodig. Maar wat ek eintlik vandag wil doen, is om jou te nooi om jouself en jou verhoudinge na God toe te neem. Gaan bid daaroor. En moenie ophou bid voor die deure nie vir jou oopgegaan het nie.
In Nehemia 1 lees ons dat daar mense uit Jerusamlem in Susan aankom, waar Nehemia hom bevind. Hy vra hulle uit oor die stand van sake daar, en hoor dat dinge sleg gaan. Sit jouself vandag in Nehemia se skoene en maak vandag die dag waarop jy berig kry, besef, dat dinge sleg gaan in jou verhoudings. Die heel eerste ding wat Nehemia gedoen het, na hy hierdie berig ontvang het, was om te gaan bid. Hy het gehuil, getreur, gevas en gebid - vir dae lank. Dis eers na Hy tyd by God deurgebring het, dat hy 'n opdrag gehad het om iets te doen, en 'n strategie van hoe om dit aan te pak. Dis eers na hy tyd by God deurgebring het, dat die deure vir hom oopgegaan het by mense en gesagstrukture. Maak eers tyd om te bid en God op te soek, en gaan werk dan aan jou verhoudings met die strategie wat jy by Hom ontvang.
Ek bid dat God jou gewilligheid en gehoorsaamheid sal raaksien en jou sal seën in hierdie taak.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment