Search This Blog

Tuesday, 29 November 2016

Wanneer God in 'n sagte bries arriveer


Ek wil vandag so 'n entjie terugloop in tyd en ek wonder of ek jou kan nooi om saam te loop. Dis eintlik 'n reuse sprong wat ek wil aandurf, want ek wil al die pad teruggaan na die skepping toe. Stel jouself as 'n vlieg teen die muur en neem die gebeure saam met my waar. Miskien moet ons maar op 'n blaar gaan sit, aangesien daar nog nie sprake van mure is nie.
Daar heers vrede in hierdie tuin. Geen luide musiek of enjines wat brom nie. Geen motors wat met 'n vaart verbyjaag nie. Geen vibrasies of geskel van elektronika wat aandui dat iemand aan die ander kant van die wêreld nou net gehou het van iets wat jy gedoen het nie. Rus en vrede.
Adam het vanoggend vroeg opgestaan, maar dit was nie om haastig klaar te maak om die verkeer middestad toe aan te durf nie. Hy het opgestaan om die sonsopkoms te waardeer, die reuk van vars lug en gekneusde plante waar 'n logge dier hom tuisgemaak het vir die aand. Eva het gekies om bietjie later te lê. God het reeds gesorg vir ontbyt en daar is geen haas nie. Die harmonie wat tussen haar en Adam heers, is nie een van baasskap en ondergeskikte nie. Hulle is maats. Hulle help mekaar. Hulle voorbeeld is God self. Daar is by hulle geen twyfel hieroor nie. God is daagliks saam met hulle in die tuin. Hy praat met hulle. Hy noem hulle die kroon van Sy handewerk. Hy jubel oor hulle en dis duidelik dat Hy groot vreugde in hulle vind. Hy vertel hulle van hoe Hy hulle beplan het, day Hy die mens gekies het om soos Hy te wees, in Sy beeld geskep. By God leer hulle van liefde, want dit is die essensie van Sy wese. Daar bestaan 'n volmaakte verhouding tussen mens en mens, net soos die volmaakte verhouding tussen God en mens.
God het die mens met 'n intellek geskep en vir hulle die hele wêreld gegee om hulle mee besig te hou. Daar is soveel om te ontdek en uit te vind en daar heers 'n opgewondenheid oor dit wat elke dag nuut ontdek word. Net gister het hulle in verwondering gestaan oor die geboorte van 'n boklam. Hulle het baie vrae gehad en God het geduldig geantwoord, maar ook die antwoorde so gehou dat hulle vir hulle-self kon uitvind. God verstaan die wonder van intrige en misterie. Eva kan nou nie meer wag om self ook ma te word nie. Dit is vir haar 'n ongekende vreugde om te dink dat sy geboorte kan skenk aan nog mense uit wie God soveel vreugde kan put.
Maar toe maak onvrede eendag sy opwagting in die tuin. Daar was slegs een boom in die tuin waarvan Adam en Eva nie mag geeët het nie. God het hulle daarteen gewaarsku. Hulle het geen rede gehad om God se wysheid in hierdie saak te betwyfel nie. Die goedheid van God was tasbaar in hulle lewens sigbaar. Waarom sou hierdie opdrag van God enige iets anders wees as dit wat Hy gesê het dit is? Hulle ken God en het 'n vertrouensverhouding met Hom. Daar is geen rede vir hulle om een van sy bepalings te bevraagteken nie.
Dit verander alles die oomblik toe die slang in gesprek tree met Eva. Hy is listig en manipulerend. Dit klink asof hy iets wil leer, iets wil uitvind, inligting inwin. Hy kom nie met meerdere kennis nie. Hy weet dat arrogansie mense afsit.
"Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?"
Dis tog duidelik verregaande en Eva is vinnig gereed om die misverstand uit die weg te ruim. God is goed en Hy sal tog nie sulke onregverdige bepalings maak nie.
"Ons mag eet van die vrugte in die tuin."
kom sy tot God se verdediging.
"God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons."
Hoeveel ouers het nie al hulle kinders gewaarsku om sekere goed nie te eet of te drink nie; die medisyne in die kas, die suurlemoen, die asyn, die gif in die garage ... Daar was geen rede vir Eva om te twyfel dat haar Vader ook net haar belange op die hart gedra het nie.
"Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken."
Hoe lank het Eva met hierdie gedagte in haar hart rondgeloop voordat dit wortel geskiet het? Was dit oombliklik, of het sy eers weggeloop? Het sy en Adam dit bespreek en daaroor bespiegel voor hulle uiteindelik besluit het om die stelling te toets? Miskien was dit onmidellik. Dis oop vir interpretasie. Een ding weet ons, uiteindelik het beide Eva en Adam besluit dat hulle God se woord in twyfel sal trek. Hulle sou vir hulleself uitvind wat die waarheid is. Het ons dit nie al almal met ons aardse ouers gedoen nie? Wat sou 'n goeie alternatiewe keuse gewees het? Eva moes na God geroep het! Stel jou hierdie gesprek voor:
"Vader, kan U asb. gou hier kom luister? Hierdie slang het U nou net daarvan beskuldig dat U vir ons gelieg het toe U gesê het dat ons sal sterf as ons van hierdie boom se vrugte eet. Hy beskuldig U daarvan dat U selfsugtig is deurdat U al die kennis vir Uself wil hou terwyl ons dom en oningelig moet bly. Is dit die waarheid? Ek het U tog nie so leer ken nie. Ek ken U tog as 'n liefdevolle God wat vir ons sorg en met ons praat en met ons deel."
Maar hierdie gesprek het nooit plaasgevind nie. Daar is geen anduiding dat nòg Eva, nòg Adam, vir een oomblik oorweeg het om hulle dilemma na God te neem en met Hom in gesprek te tree daaroor nie. Klink dit nie bekend nie?
Die uiteinde van die saak is aan ons almal bekend. Na hierdie oortreding het dood wel in die wêreld ingetree en daarmee saam siekte, oorlog, haat en soveel ander booshede dat die lys te lank is om op te noem. Die grootste verandering was egter in die verhouding tussen God en die mens. Die mens se besef van sonde het verwydering gebring tussen hom en God. Daar was nie meer 'n openlike toenadering nie. Nou het die mens vir God weggekruip. Hy was nie meer die kroon van God se skepping nie, in elk geval nie in sy eie oë nie. Nou voel die mens skaam oor homself en probeer wegkruip agter blare.
Na al die drome en ideale en verwagtings en beplanning wat God in die skepping ingestoot het, kan mens nie anders as om te verwag dat Hy teleurgesteld sal wees nie. Meer as dit; woedend. Ons kan verwag dat God met 'n vernietigende toorn op die mens sal afstorm en hom van die aarde sal delg. Twee mense om uit die weg te ruim en God kan oor begin met 'n beter eksemplaar.
Wat gebeur toe God die mens opsoek na hierdie voorval? Jy lees reg, dis God wat eerste toenadering soek. Die mens is besig om weg te kruip vir God. Daag God op in 'n stormwind wat die mens met die krag van 'n tornado optel en teen 'n berghang vassmyt? Nee, God daag op in 'n ligte aandbriesie. Elke woord wat hierop volg is erkenning van oortreding en toerekening van skuld. Met ander woorde regverdigheid. Maar nie 'n mens se geregtigheid wat wil vernietig nie. God se geregtigheid wat ruimte skep vir herstel, vir genesing en vir vergifnis. In een woord; GENADE.
Wat is jou konsep van God? Verwag jy day Hy in jou lewe sal opdaag in die vorm van 'n vernietigende tornado, of herken jy Hom in die stil aandbriesie wat in jou lewe waai?
Ek weet sonder enige twyfel dat daar nou iemand is wat hierdie moet lees, want hierdie is God se woorde aan jou. Hy het gistermiddag hierdie gedagte by my losgemaak en gisteraand het ek in die bed geklim met 'n 'vreemde taal' wat in my kop bly speel. Ek weet goed genoeg dat God iets vir iemand wil sê wanneer dit gebeur. Ek wou opstaan en dit toe al skryf, maar ek het vrede gehad om dit tot vandag te laat oorstaan.
Nou hoop ek jy hoor my as ek vandag vir jou sê dat God in 'n stil briesie in jou lewe is. Jy soek Hom in orkane, jy glo jy verdien vernietiging en straf, maar God beplan vir jou genesing en herstel. Ontvang sy vergifnis. Aanvaar Jesus se verlossing wat Hy aan die kruis vir jou bewerkstellig het. God is goed. Net dit. God is nie boos nie. God is nie daarop uit om te vernietig nie. God wil jou nie straf nie. Jesus het jou straf op Hom geneem, Hy het die prys betaal. Hy was die Een in die beskuldigde bank in jou plek. Jy mag nie nou skuldig bevind word aan die straf wat Hy reeds uitgedien het nie. Moenie langer agter die beskuldigde bank wegkruip nie. Die verhouding tussen jou en God is herstel die dag toe Jesus dit moontlik gemaak het aan die kruis. Nou het jy weer direkte toegang tot God. Maar meer nog, nou wil God binne-in jou kom leef d.m.v. Sy Heilige Gees. Loop die pad saam met Hom.
Daar waai 'n stil briesie in jou lewe. Loop Hom tegemoet.


Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:

You can purchase Designs By Miekie 1 here.

Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.

Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.

Jy kan Tuinstories hier koop.

You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.

For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.

Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.

You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment