Search This Blog

Sunday, 13 November 2016

Hoe gemaklik sit jy?



Is jy bekend met die term draadsitter? Dis ‘n uitdrukking wat ons in Afrikaans gebruik om iemand te beskryf wat nie kant kies nie. Ek wil vandag so ‘n bietjie gesels oor ‘n paar draadsitters wat ons in die Bybel aantref. Ek haal my vertelling vandag uit Lukas 20.
Ons vind Jesus hier in die tempel, of wat ons uit ‘n Christelike perspektief, die kerk sal noem. Hy is besig om mense daar te leer toe die kerk-, godsdiens- en sosiale leiers van die tyd, die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde, Hom nader om sy outoriteit te bevraagteken. Hulle wil by Jesus weet wie Hom afgevaardig of aangestel het om hierdie onderrig te bring.
Jesus verklaar Homself heeltemal bereidwillig om hulle te antwoord, maar eers wil Hy by hulle weet of hulle-self bereid is om kant te kies. Hulle moet verklaar, voor die mense daar teenwoordig, wie aan Johannes sy outoriteit gegee het. Daar begin die manne toe nou bloedsweet. Hulle koukus gou saam en besluit dat die risiko’s te hoog is om Jesus te antwoord. In hierdie nie-antwoord, is dit eintlik duidelik dat hulle nie Johannes erken as ‘n gesant van God nie. Die enigste rede waarom hulle nie antwoord nie, is omdat hulle vrees vir onpopulariteit by die kerkgangers. Hulle wikkel hulle-self dus toe in ‘n mantel van geveinsde onkunde as hulle verklaar dat hulle nie weet nie. Hierdie geleerdes behoort te geweet het dat die wet nie onkunde as verskoning aanvaar nie!
Met hierdie antwoord maak hulle dit vir Jesus onmoontlik om hulle te antwoord. Hulle verklaar hulle-self nie bereid om God te erken, of te ontken nie. Draadsitters! Hulle het baie goed geweet met Wie se gesag Jesus optree. Hy het dit keer op keer teenoor hulle, en enigeen wat wou hoor, verklaar, dat Hy gekom het om Sy Vader, God, te verkondig. As hulle steeds nie bereid is om te erken dat Johannes Hom slegs vooruitgegaan het nie, dan is hulle ook nie bereid om te erken dat Jesus se gesag van God kom nie. Dan is hulle slegs besig met hareklowery en die stel van vangstrikke. Jesus stel dit duidelik; as hulle nie bereid is om hulle-self aan ‘n antwoord te verbind nie, dan sal Hy ook nie aan hulle ‘n antwoord gee nie.
Hier moes ek eers ophou lees om myself ‘n vraag af te vra. Is dit moontlik dat ek nie geantwoord word nie, omdat ek nie bereid is om kant te kies nie? Sit ek op ‘n draad en laat die wind toe om my na die een of ander kant te laat oorhel? Iemand wat standpunt inneem, is nie uitgelewer aan die winde van verandering wat waai nie, maar anker vas aan iets. Of daardie anker in staat is om storms te weerstaan, sal die waarde van die anker bepaal. Maar ek dwaal af.
Die gesprek eindig nie daar nie. Jesus is steeds op dieselfde plek, besig om met dieselfde groep mense te praat, as hy begin om die verhaal te vertel van die grondeienaar wat ‘n wingerd geplant het en die grond toe in ander se sorg gelaat het. Hy het verskeie gesante gestuur om sy aandeel te gaan invorder, maar hulle is met toenemende geweld aangerand en met leë hande weggestuur. Uiteindelik het die eienaar besluit om alles in die stryd te werp en het hy sy seun gestuur. Hierop het die huurders ‘n moordkomplot gesmee om die seun om die lewe te bring en sy erfporsie vir hulle-self in te samel.
Die onregverdigheid en geweldadigheid van die verhaal het die hoorders met afgryse vervul en die opsommende reaksie in die teks lees as sulks:
“Nee, dit moenie gebeur nie!” (v. 16b). 
Was dit jou reaksie ook? Ek weet hierdie sentiment het weerklank gevind in myself. Maar waarom het Jesus hierdie verhaal vertel? Sy gehoor het grootliks bestaan uit mense wat nie die skrifte (Bybel) kon uitlê en verstaan nie. Hy was besig om hulle te leer. Nou maak Hy dit vas aan die profetiese geskrifte uit Psalm 118:22 en Jesaja 28:16. Hy verduidelik dat die profesieë handel oor die Seun van God wat gestuur word, met God se gesag, om te kom oes waar God self geplant het. Maar, soos deur die profete voorspel, word God se Seun verwerp. Tog is daar ‘n waarskuwing; hierdie verwerpte Seun sal die fondasie word waarop die bouers wat Hom verwerp het, vernietig sal word.
Ons het die luukse om vanuit ‘n retrospektiewe oogpunt na hierdie gedeelte te kyk, waar Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart, bekende geskiedkundige gebeure is. Vir Jesus se gehoor, was hierdie gebeure steeds in die toekoms, al was dit dan ook kort op hande. Die betekenis van hierdie profesieë was nie so duidelik vir hulle as wat dit vir ons is nie. Jesus se onderrig was dus openbarend en vernuwend vir die gehoor. Maar wat is die reaksie van die draadsitters, die enigste mense daar wat wel die skrifte moes verstaan, en wie se taak dit eintlik was om die gehoor te leer? Kom ons lees dit in vers 19:
“(Hulle) het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het.” 
Bring dit hulle tot inkeer? Nee!
“Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.”
Ontleed bietjie hierdie stelling. Het julle opgelet dat Jesus met hierdie vertelling in der waarheid wel die vraag oor Sy outoriteit beantwoord het? Hy Het onomwonde verklaar dat Hy die Seun is wat God gestuur het, met God se outoriteit, en dat Hy deur die landbouers (leiers) verwerp word en dat hulle ‘n komplot sou smee om Hom dood te maak. Het Jesus se ondervragers dit verstaan? Ja, want hulle herken hulle-self in die verhaal. Tog bring dit hulle nie tot inkeer nie. Dit maak aan hulle geen verskil met Wie se gesag Jesus daar is nie. Hulle verwerp dus ook God in hierdie komplot teen Jesus.
Die toneel verander nou. Tyd verloop. Hulle wag hulle kans af en bespreek ‘n slinkse plan om Jesus in ‘n politieke vangstrik te verstringel. As die maghebbers van die dag vir Jesus gevange neem, kan hulle, nes met Johannes, hulle hande in onskuld was en hulle-self vryspreek van aandadigheid. Hulle probeer Jesus dus uitlok om die keiser se reg tot belastingvordering te bevraagteken. Waarom sou hulle verwag dat Jesus dit sou doen? Omdat die grondgebied die beloofde land was wat God aan Israel toegesê het in die Ou Testament. Nou was dit onder Romeinse bewind en die gesag van die Romeine was in teenstryd met God se gesag wat die land aan Israel gegee het. Dit was dus te wagte dat Jesus Homself hier in ‘n politieke kookpot van kontroversie sou begewe met ‘n antwoord. Tog fnuik hy hulle behendig deur in ‘n kort en kragtige antwoord vir hulle daarop te wys dat die sake waaroor hulle redeneer nie met mekaar verwant hou nie. Een handel oor politieke gesag en die ander oor God se gesag. Hy trek die skeidslyn dus duidelik en laat nie toe dat hulle Hom in ‘n mensgemaakte grysgebied intrek nie. Hulle monde was effektief gesnoer.
Dan, net wanneer ‘n mens dink dat die saak oor Jesus se gesag nou uiteindelik afgehandel is, dan gebruik Jesus die Fariseërs se ideologiese opponente om Sy gesag verder te illustreer. Hulle kom na Jesus met ‘n wettiese vraag. In Moses se wette is bepaal dat ‘n man met sy broer se weduwee sou trou om namens die afgestorwene kinders te verwek. Grond was aan families vasgemaak en erflatings het ver reikende gevolge gehad wat kon veroorsaak dat grond van een stam na ‘n ander sou gaan as daar nie erfgename was nie. Hierdie is alles aspekte waarby ons grootliks belang verloor het vandag. Tog lig hierdie kort verduideliking dit uit dat hierdie sake van groot belang was vir mense in daardie tyd en omgewing. Die Saduseërs het nie geglo in lewe na die dood nie. Dood was finaal in hulle opinie. Hulle wil nou weet wie se vrou die weduwee sou wees na die dood, as sy met sewe broers getroud was, en by geen van hulle enige kinders gehad het nie.
Jesus verduidelik omslagtig vir hulle dat daar nie huwelike bestaan na die dood nie. Tog wil Hy dat hulle nie verkeerd verstaan nie. Hy spreek die saak wat aan die kern van die vraag is aan, wanneer Hy onomwonde verklaar dat daar wel lewe na die dood is en dat God nie ‘n God van dooies is nie. Weereens bewys Hy sy gesag in God deur sy insig en wysheid. Tot sy teenstanders staan stomgeslaan deur Sy antwoorde.
Tog is Jesus nie bereid om dit daar te laat nie. Hy dwing die gesprek van die een gesaghebbende persoon uit die geskiedenis, Moses, na die ander, Dawid, wanneer Hy uitwys dat selfs Dawid Sy gesag en outoriteit oor homself erken het. Hy wys daarop dat Hy wat na Dawid kom, ook vir Dawid vooruitgegaan het.
Dan rig Jesus ‘n baie uitgesproke waarskuwing aan die groter gehoor, die volk teenwoordig daar in Jerusalem. Hy waarsku teen die leiers wat die Woord van God aan die volk moet leer. Hy wys daarop dat hulle dinge doen vir menslike aansien en erkenning. Tog is dit hulle self wat die wet verontagsaam deur weduwees te beroof, eerder as om hulle te versorg, soos deur die wet gespesifiseer word. Hy sluit af deur te verklaar dat daar ‘n swaar straf op hulle wag omdat God hulle gedrag afkeur.

Laat ek nou terugkom by my oorspronklike gedagte. Hoe gemaklik sit jy? Sit jy op ‘n draad en spreek jouself slegs uit wanneer dit veilig blyk te wees, of wanneer daar aansien of finansiële gewin vir jou daarin is? God antwoord. Kan jy sy antwoord hoor, of is jou ore verstop deur jou eie-belang? Het jy, soos die Saduseërs, jou eie geloof begin vorm om gemaklik by jou eie oortuigings te pas? Skuil jy agter politiek om jouself van blaam te onthef? God antwoord. Is jy bereid om Sy gesag te erken sodat jy die antwoord kan hoor? Ek vind dit nodig om van tyd tot tyd introspeksie te doen oor my eie lewe en opininies en nooi jou om vandag saam met my introspeksie te doen. Moenie dat ek en jy ons eie rolle herken in die toneelstuk en dan hardkoppig weier om gehoor te gee op die waarskuwings nie. Ons ontken dalk net God in die proses.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment